VivA bou brug tussen skool- en universiteitsgrammatika

(Foto: Marlien van der Westhuizen/SOS)

“Ons het besef dat onderwysers grammatika-hulpmiddels wat onmiddellike oplossings bied in die klaskamer nodig het.”

Só het prof. Adri Breed, dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, tydens ’n bekendstellingsessie van die taalplatform VivA by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se tiende nasionale onderwyskongres gesê.

Een van die struikelblokke wat Breed as dosent mee te doen kry, is die grammatika-brug wat taalstudente dikwels moet oorsteek. Dié brug is wankelrig aangesien daar nie ’n belyning van grammatika tussen skool- en universiteitstaalleer is nie.

Taaldosente moet dikwels die fondasie wat reeds gelê is weer gaan opgrawe om dit van voor af weer te doen.

Sy benadruk dat leerders nie net goeie taalvaardighede aangeleer moet word om eendag effektief in ’n werkomgewing te kan funksioneer nie, maar dat ’n paar van daardie leerders in die toekoms hul brood en botter op grond van hul taalvaardighede gaan moet verdien.

Mense moet hulself ook nie misgis oor die verskeie loopbaanopsies wat tale vir leerders en studente inhou nie, sê sy.

Goeie taalvaardighede kom nuttig te pas vir diegene wat as inhoudskeppers, bemarkers en resensente werk. Daar is ook loopbaankeuses wat oor ’n paar jaar beskikbaar gaan wees wat tans nog nie bestaan nie. Hiervoor moet leerders deeglik voorberei word deur taalonderwysers en -dosente.

“Jy moet die leerders voorberei om Afrikaans te kan gaan studeer. Daardie kinders wil dalk taalpraktisyns word – daar is altyd ’n behoefte aan taalversorgers,” het Breed aan die gehoor gesê.

Dit wat leerders op skool leer, moet op ’n manier deel word van die goue draad wat deur taalonderrig op universiteitsvlak geweef word.

“Daardie arme leerders kom op universiteit, dan moet hulle alles van voor af leer.”

Dié gaping is egter een wat VivA oorsteek met die taalonderrigportaal, ’n deel van sy webwerf wat deur onderwysers gebruik kan word om taalonderrig te vergemaklik.

Op dié platform het onderwysers toegang tot moderne, wetenskaplik begronde beskrywings van die patrone van Afrikaans.

Dit is ’n gebruikersvriendelike platform om onderwysers ’n hupstoot te gee wanneer dit by onderrig kom. Die Algemene Afrikaanse Grammatika (AAG), wat spesifiek ontwikkel is met die oog op Afrikaanse taalkundenavorsers en -dosente, taalstudente en taalnuuskieriges, is een van die grammatikas wat op dié portaal beskikbaar is.

Die ander is die Afrikaanse Skoolgrammatika (ASG), ’n bron met onderwysstudente en Afrikaansonderwysers in die VOO-fase as teikengebruikers.

“Dit is ʼn veilige ruimte vir onderwysers om met mekaar oor hul taalonderrigvrae in gesprek te tree.”

Honderde onderwysers het die SOS se kongres verlede week in Midrand bygewoon waar hulle toegerus is met opleiding in hul vakgebied en pitkos ontvang het om hul emosionele tenk vir die nuwe skoolkwartaal op te vul sodat hulle weer terug in leerders kan belê. Kyk hier om te sien wat onderwysers van vanjaar se kongres gedink het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Ek dink ‘n eenvoudige truuk is om ‘n liefde vir lees in kinders te kweek sodat hulle eerstehands sien hoe ‘n taal gebruik word. Ek het sommer op laerskool al begin 500-bladsy boeke uitneem. Ek he Fiele se Kind sommer op 10 al deurgewerk en toe oor die jare al Stephen King se goed, en enigiets anders wat interessant geklink het. Ek dink dit het my BAIE gehelp met geskrewe kommunikasie in Afrikaans en Engels. Tot so ‘n mate dat ek my vraestelle “op gevoel” kon skryf sonder om aktief te dink aan watter reels om toe te pas. Tot… Lees meer »