VivA-databasis beduidend uitgebrei

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) wat onder meer deur sy webwerf en app gratis toegang tot woordeboeke bied, het sy databasis onlangs beduidend uitgebrei. Dit beteken dat die databasis met bykans 400 000 inskrywings vergroot is.

Gebruikers kry benewens die 17 woordeboeke wat reeds op dié forum beskikbaar is, nou ook gratis toegang tot die volgende bronne:

  •  Drietalige wynindustriewoordeboek (Suid-Afrikaanse Wynbedryf- Inligting & -Stelsels (SAWIS) en die Netwerk van Kundigheid en Tegnologie vir die Wynbedryf (Winetech))
  •  Etimologiewoordeboek van Afrikaans (GJ van Wyk, red.)
  •  Fisikawoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  •  Afrikaanse voëlname, opgestel deur die Afrikaanse Voëlnaamgroep van BirdLifeSA
  •  Paramediese vakwoordeboek (Vaktaalburo, SAAWK)
  •  Sciwoord (Chemiewoordeboek)
  •  Statistiekwoordeboek (HS Schoeman)
  •  Sterrekundewoordeboek (JH de Klerk, red.)
  •  Woordeboek van nuttige Afrikaanse kombinasies (Kollokasiewoordeboek) (AN Otto)

Afgesien van hierdie bronne het die departement van kuns en kultuur goedgunstiglik ingestem om sy meertalige terminologielyste, wat oor baie jare deur vak- en taalkundiges opgestel en gestandaardiseer is, aan VivA beskikbaar te stel. Die lyste dek die volgende velde:

  •  Inligtings- en kommunikasietegnologie
  •  Kuns en kultuur, Intermediêre fase
  •  Lewensoriëntering, Intermediêre fase
  •  MIV/Vigs
  •  Parlementêre/politiese aangeleenthede
  •  Sokker
  •  Verkiesings
  •  Wiskunde, Intermediêre Fase

VivA se fokus bly deurlopend om Afrikaans vir al sy gebruikers toeganklik te maak. Die toevoeging van hierdie vaktaalwoordeboeke en terminologielyste is nog ʼn manier om dit vir vakkundiges, belangstellendes en taalliefhebbers moontlik te maak om Afrikaans ook in hoëtaalfunksies aan te wend.

Die beskikbaarstelling van hierdie woordeboeke op VivA se webwerf (www.viva-afrikaans.org) en aanlyn app (VivA-app Aanlyn) doen nie net die leuse “Afrikaans digitaal” gestand nie, maar plaas keurige Afrikaans binne die bereik van Jan en Alleman.

Gebruikers wat nie antwoorde op taalvrae in die databasis kan opspoor nie, kan sodanige navrae via die webwerf aan VivA se taaladviseur rig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JC ·

Mooi julle, MOOI! Maak mens trots. Ons Afrikaanses is op ons eie in DIE GEVEG om die behoud en uitbreiding van ons pragtige taal Afrikaans se status en lewensvatbaarheid!
Geen staatsuniversiteit gaan ONS pragtige taal en die gebruik daarvan die knie laat buig of laat swaarkry nie! Ons bou eenvoudig ons eie Afrikaanse Universiteit en ander instellings.
Ons bou voort, kom wat wil!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.