VivA se nuwe app laat geen verskoning vir taalblapse

VivA (Foto: Facebook)

VivA (Foto: Facebook)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het onlangs ʼn aanlynweergawe vir sy woordeboekportaal-app beskikbaar gestel wat gaan verseker dat soektogte met dié app beduidend verbeter.

Dié app, beskikbaar op iStore en Google Play, verseker dat taalgebruikers gratis soektogte in aanlynwoordeboeke kan doen.

Tot dusver het die app slegs ʼn vanlynweergawe gehad, maar Android en iOS-gebruikers kan voortaan na hartelus die aanlynweergawes bestudeer.

Dié aanlyn-naslaanfunksie stel gebruikers in staat om ook in die aanlynwoordeboeke van VivA se medewerkers, soos die HAT en WAT, soektogte te doen, wat die app dieselfde funksionaliteite as die webwerf gee.

Foto: Facebook/ATKV

Foto: Facebook/ATKV

Die nuwe weergawe het ook ʼn stemsoekfunksie, benewens die toetsbordsoekfunksie, vir Android-toestelle. ʼn Teksvoorspeller help die gebruiker om moeilike woorde op te spoor waar daar onsekerheid oor die spelling is. Die toepassing is ook volledig bygewerk vir Windows 10. Al dié opwindende nuwe verwikkelinge is moontlik gemaak deur die ruim finansiële ondersteuning van die Atterbury Trust.

Prof. Gerhard van Huyssteen, VivA-direkteur, sê die doel hiervan is om Afrikaans vir al sy gebruikers so toeganklik moontlik te maak. “Ons slagspreuk is ‘Afrikaans digitaal’ en ons wil met dié app Afrikaans in die nuwe, digitale eeu inneem. Veral studente, leerders en gebruikers wat nie geredelik toegang het tot woordeboeke nie, moet weet dat Afrikaans vir hulle toeganklik is. Gratis taalhulp is nou ʼn veeg oor jou foon ver,” het hy gesê.

Die woordeboekkorpus bestaan uit 17 woordeboeke, waaronder die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), die Tweetalige Voorsetselwoordeboek, die woordelys van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls, CText® se leksikon en tesourus, en VivA se eie databasis van woorde, gesegdes en vertaalekwivalente.

Nuwe woorde en uitdrukkings, soos dié wat vir die Varsgebek-kompetisie ingeskryf word, word voortdurend in dié databasis bygevoeg. Daar word beplan om nog woordeboeke, wat vakwoordeboeke insluit, by die korpus te voeg, wat reeds die enigste woordeboek-app is wat soveel woordeboeke gratis vir gebruikers beskikbaar stel.

Gebruikers wat nie antwoorde op hulle navrae via dié app of die webwerf kry nie, kan met VivA se voltydse taaladviseur skakel by 062 126 0295 of ʼn navraag per e-pos via die webwerf indien. Dié diens is ook gratis.

Lees meer oor VivA op hul webwerf en Facebook-blad.

Laai die app vir iOS of Android af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eugene ·

Hierdie is nog ‘n positiewe stap wat die nodige lof verdien. Ek het onlangs oorgeskakel na Apple en hoop dat daar ook ‘n Afrikaanse weergawe soos op Windows beskikbaar gestel gaan word. Ek sukkel ook om vir Word op Apple ‘n speltoetser in Afrikaans te kry. Enige raad?

Bob en Lieve Vanhee ·

Wij waren20 jaar in Congo – wij zijn Vlamingen en gingen ieder jaar 1 maand naar Z.Afrika
met de wagen via de Victoria W.vallen. We hebben ons hart verloren aan jullie mooi
mooi land !!! We zijn zo blij dat we nu MAROELA wekelijks ontvangen en zo weer een beetje jullie prachtige taal ” Afrikaans ” kunnen oefenen. We verstaan ook alles. Proficiat.
Jullie zijn de HOOP VAN ZUID AFRIKA ! Groetjes uit Oostende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.