VivA se Skolekompetisie maak deure oop

Op die foto is Lebogang Mabone, Lene van Heerden en Nombuso Bhogolo met hulle inskrywings vir Street Art Meets Climate Change

VivA se Skolekompetisie is hierdie jaar weer aan die gang. Leerders van enige ouderdom kan inskryf en daar is elke maand R5 000 op die spel. Aan die einde van die jaar is daar ook vir ‘n graad 11- of 12-leerder wat die weninskrywing ingestuur het ‘n studiebeurs van R150 000 op die spel, vir naskoolse studie in enige rigting aan enige instansie in die land. Dié beurs en die kontantpryse word met trots geborg deur die Atterbury Trust. Boonop kry die wenskool R10 000 om te bestee soos hulle wil, die skool met die meeste inskrywings kry R5 000 en die onderwysers wat die weninskrywing aangemoedig het, kry R2 500 – ‘n heerlike bonus hier kort voor die Desembervakansie!

Al wat deelnemers hoef te doen, is om ‘n bestaande of nuwe woord of idioom grafies voor te stel. Dit beteken jy kan ‘n prent teken, ‘n video maak, ‘n grafiese ontwerp maak, ‘n meem ontwerp … enigiets wat in visuele formaat by ons aankom, is doodreg.

Die inskrywingsvorms is beskikbaar by varsgebek.org en as jy meer besonderhede oor die formaat wil hê, kan jy ook daar onder “Skolekompetisie” gaan loer.

Dié Skolekompetisie is vir die eerste keer in 2015 aangebied, en ons wenner daardie jaar was Lené van Heerden van Swellendam. Lené se reeks inskrywings was van hoogstaande gehalte en het die beoordelaars gaande gehad.

Intussen het sy met haar talent (en haar beurs!) gewoeker. Sy was onlangs weer in die nuus oor ‘n prestasie wat sy behaal het, en VivA het so ‘n bietjie met haar gesels om te hoor hoe dit deesdae met haar gaan.

Jy was in 2015 die wenner van ons Skolekompetisie met ‘n reeks grafiese voorstellings van uitdrukkings en idiome, en daarmee het jy ‘n studiebeurs, geborg deur die Atterbury Trust, van R150 000 losgeslaan. Wat het jy met dié beurs gedoen?

Ek het die beurs gebruik om verder te studeer. Ek is tans ‘n tweedejaar- multimediaontwerpstudent by Stellenbosch Academy of Design and Photography.

Het die prys vir jou deure oopgemaak?

Met die beurs was dit baie makliker vir my om te kon gaan studeer. Ek is een van vier susters wat naby aan mekaar moes gaan studeer – my jongste suster is tans eerstejaar. Dit haal baie druk van my ouers af. Die kontantprys wat ek onlangs gewen het gaan ook net so in my studies in!

Vertel vir ons van die prys wat jy onlangs losgeslaan het.

SAMCCSA (Street Art Meets Climate Change South Africa) het ‘n kompetisie aangebied waar jongmense straatkuns moes ontwerp wat die ernstige boodskap van klimaatsverandering weerspieël. Dit is ‘n poging om die boodskap oor die verpletterende gevolge van aardverwarming onder die jonger generasie se aandag te bring en om dié boodskap by hulle uit te kry deur middel van ‘n medium wat hulle verstaan. Ek het die eerste prys gekry – ‘n kontantprys van R10 000. Flanders State of the Art het die kompetisie geborg.

Watter geleenthede bestaan daar vir jou in jou gekose rigting?

Multimediaontwerp is ‘n wye veld, ek doen genoeg kennis van ‘n verskeidenheid programme op om enige ontwerp te kan doen wat ek sou wou. Die moontlikhede wat hierdie soort opleiding vir jou bied, is ongelooflik: jy kan ‘n app-ontwikkelaar word, webtuistes ontwerp en bestuur, jy kan ‘n animeerder word, daar is hordes geleenthede in die advertensiewese, jy kan betrokke raak by filmproduksie, jy kan in publikasie spesialiseer, of in visuele kommunikasie … Die moontlikhede is legio!

Wat is jou toekomsplanne?

Ek wil graag ná my studies in die Kaap gaan werk by ‘n animasiestudio of betrokke raak by die ontwerp en ontwikkeling van selfoontoepassings en speletjies. Geleenthede in hierdie veld is eintlik in die buiteland, maar ek wil baie graag daaraan werk om sulke geleenthede in Suid-Afrika te ontgin en te skep.

Enige raad aan voornemende inskrywers vir 2017 se Skolekompetisie?

As jou werk professioneel lyk, kan jy ver kom! Dit maak nie saak watter medium jy kies nie, lees dit in die rekenaar in en maak jou werk digitaal. Op so ‘n manier kan jy daaraan werk en die gehalte daarvan verbeter. Dit maak ‘n beter indruk op sosiale media en by die beoordelaars, en dit gee jou ‘n hupstoot bo ander deelnemers. Maak jou idioomkeuses ook so tradisioneel as moontlik, want dit werk baie lekker om daarvan voorstellings te maak. Vra julle oumas en oupas watter sêgoed hulle gebruik het. En natuurlik, geniet dit! Speel baie rond, want as jy besig is om iets te maak wat jy self nie geniet of op trots is nie, is die kanse goed dat ander mense dit ook nie gaan geniet nie. Sterkte!

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.