VivA ‘vloek met flair’

Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA Afrikaans (Foto: Virtuele Instituut vir Afrikaans)

“Vloek is relatief. Wat vir my vloek is, is nie noodwendig vir jou vloek nie,” reken Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA Afrikaans.

Dié instansie hou op 15 November ʼn simposium om bestek op te neem van die taboes wat in Afrikaanse spreek- en skryftaal geld.

“Een van die doelstellings met Vrydag se simposium is juis om te bepaal waar die grense lê van wat as vloek beskou word en wat nie as vloek beskou word nie,” verduidelik prof. Gerhard van Huyssteen, taalkundige en stigter van vloek.co.za.

Hoewel die grense aan die verskuif is en ʼn mens deesdae taal hoor en sien wat selfs tien jaar gelede nooit in “opgevoede geselskap” gebruik sou word nie, is daar steeds perke aan wat hoorders, luisteraars, gehore, lesers en die skeppers van tekste sal aanvaar.

“Ons beoog om met dié simposium ʼn veilige tuiste en platform te skep vir ʼn innoverende gehaltedebat oor vloek in Afrikaans,” verduidelik Coetzee. “Dit beteken egter nie dat ons gaan opdaag en soos ʼn spul matrose vloek nie,” voeg sy skertsend by.

“Ons verwelkom meningsverskille oor die aard daarvan en wil mense aanmoedig om met ʼn oop gemoed te kom luister na wat bespreek gaan word.”

Daar is ʼn punt waar die waarde van die inspan van taboes in ʼn taal verlore gaan. Dié vrae kan nou tereg gevra word:

  • Waar lê dié grense vir taalgebruik?
  • Waar lê dié grense vir gespreksonderwerpe?
  • Waar lê dié grense vir verskillende genres?
  • Waar lê dié grense in sosiale media?
  • Waar lê die balans tussen vryheid van spraak teenoor sensuur en selfsensuur?

“Vloek is deel van Afrikaans,” sê Coetzee. “Dit dra by tot die bevordering van die taal en daarom is dit nodig om krities ondersoek te word.” Maar dié verskynsels is nie uniek en slegs eie aan die Afrikaanse taal nie.

Gerhard van Huyssteen, taalkundige en stigter van vloek.co.za (Foto: Virtuele Instituut vir Afrikaans)

“Vloektaal word internasionaal deur die voorste akademici nagevors,” vertel Van Huyssteen. “Maar dit word nie net vanuit ʼn taalperspektief bestudeer nie. Psigologiese, neurologiese én sosiale perspektiewe van vloek word ook onder die soeklig geplaas.” Benewens die akademiese en navorsingsaanslag word aspekte wat van belang is vir Jan Alleman ondersoek.

Behoort ouers voor hulle kinders te vloek? Op grond waarvan word vloekwoorde as aanstootlik beskou en hoe word dit deur die publikasieraad gereguleer? Dit is die soort gespreksvrae wat Vrydag bespreek word.

Van Huyssteen tree as hoofspreker op en die paneelbespreking sal deur Foeta Krige, voormalige uitvoerende regisseur van RSG se nuusaktualiteitsprogramme, Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, Hannes Brummer, akteur, Lizane Basson, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, en Johan Jack Smith, redakteur van die Taalgenoot en skrywer, gelei word.

Diegene wat die geleentheid wil bywoon, kan tot Donderdag 14 November om 12:00 bevestig. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] of besoek Facebook vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê-maar-net ·

Ek was so gelukkig om in ‘n huis groot te word waar my ouers NOOIT gevloek het of selfs kragwoorde gebruik het nie. Vir my is “vloek” die misbruik van God se naam. Alle ander lelike woorde is kragwoorde wat uiteindelik maar net jou opvoedingspeil aandui – net soos swak taalgebruik.

Kraaibakke ·

Hoekom moet n mens n vloekwoord ingooi as jy n normale gesprek in geselskap is ,dit klink so goedkoop platvloers ,daar is beter opgevoede woorde as dit .Gelukkig in my ouers se huis is so iets nie geduld ,jy word gou reggesien en op jou plek gesit.

Griet ·

Skokkend HOE baie mense praat! Nie net vloek nie, maar lelike kru taalgebruik ook.Enn…jaa,daar sal defnitiewe riglyne moet inkom, tussen n hond, n vark, n aap, n bobbejaan en n hottentotsgot, waarmee sekeres ini sop beland!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.