Vooraanstaande Amerikaanse advokaat gesels oor sy liefde vir Afrikaans

robert-obrien-Forumnuus

Robert O’Brien, ‘n vooraanstaande Amerikaanse advokaat, glo die Afrikaanse taal moet gekoester word. Foto: Verskaf/Forumnuus.co.za

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Afrikaans is ʼn ryk en unieke taal. Suid-Afrika sal intellektueel armer wees as daar nie plek vir die taal in sy akademie en hoër onderwysinstellings is nie.

Só het Robert O’Brien, ʼn vooraanstaande advokaat van Los Angeles, Kalifornië, gesê.

O’Brien het voorheen verskeie top-posisies in die Bush-administrasie beklee en was ook bekendes soos die ruimtevaarder Buzz Aldrin se regsverteenwoordiger.

O’Brien was ook destyds een van die top-studente van die universiteit van Kalifornië se Los Angeles-kampus (UCLA), en is deur ʼn internasionale beursfonds gekies om in 1986 as uitruilstudent in Suid-Afrika te kom studeer.

Hy praat vandag nog Afrikaans en sy vrou voer maandeliks vir hom kopieë van De Kat en Huisgenoot in om te lees.

O’Brien is ʼn oudstudent van prof. Jacques du Plessis, ʼn voormalige dosent in Afrikaans aan die universiteit van Wisconsin en UCLA, wat hom beywer vir die navorsing en ontwikkeling van taaltegnologie en taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale. Een so voorbeeld is die webtuiste, Open Languages, wat ten doel het om die beste Afrikaanse onderrig kosteloos aan die internasionale gemeenskap te bied.

Volgens O’Brien het hy besluit om Du Plessis se Afrikaanse klasse by UCLA te volg, wat toe een van die min universiteite in die VSA was met ʼn Afrikaanse taalkursus, ter voorbereiding vir sy tyd in Suid-Afrika. Hy het ook met behulp van ʼn kursus aan een van die wêreldbekende Berlitz-taalskole, uit boeke en in private klasse Afrikaans aangeleer voordat hy na Suid-Afrika gekom het.

“My vriend en destydse Afrikaanse dosent, Jacques du Plessis, het Afrikaanse studiemateriaal ontwikkel vir die Brigham Young-universiteit (BYU) en daardie studiegidse het my ook baie gehelp.”

O’Brien sê voorts dat sy tyd in ʼn Afrikaanse manskoshuis by Kovsies hom veral gehelp het om die taal te snap. “Suid-Afrikaners is na my mening die gasvryste mense ter wêreld en ek het dit veral by Kovsies ervaar. Die Afrikaanse studente in my koshuis het baie belanggestel in die VSA en het meer kennis gedra van ander wêreldgebeurtenisse as my Amerikaanse vriende. My klasmaats was ook baie behulpsaam en het moeite gedoen om my met Afrikaans te help.”

Hy bieg dat hoewel hy vandag nog Afrikaans kan praat, hy weens sy Amerikaanse aksent steeds sukkel om sy r’e te rol.

Ondanks Afrikaans se assosiasie met apartheid sê O’Brien is daar steeds ʼn plek daarvoor in Suid-Afrika en die internasionale akademie. “Afrikaans is verweef in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en was ook die moedertaal van ʼn groot gedeelte van die bevolking wat teen apartheid opgestaan het. Daar is beslis vandag steeds plek daarvoor.”

Die gebruik van inheemse tale op amptelike vlak kan wel volgens O’Brien ʼn gelade politieke kwessie wees en is nie ʼn uitdaging uniek aan Suid-Afrika nie. Hy het verwys na die aanleer van Spaans in Kalifornië, Russies in die Oekraïne en Frans in Kanada, as voorbeelde van minderheidstale wat al sosiale en politieke uitdagings tussen gemeenskappe geskep het. Sy siening is egter dat hoe meer tale ’n persoon kan praat, hoe beter dit vir hom of haar is om hulself in ’n sake-omgewing, die politiek of diplomatieke sake te kan handhaaf.

“In die VSA sien ons dat minderheidsgroepe hul eie skole stig en bestuur waar die regering besluit om nie hul taal in die bestaande skole aan te bied nie. Daar gaan dalk ʼn tyd kom wat Afrikaanse mense in Suid-Afrika en Namibië óók private skole sal moet open om kinders van alle agtergronde in Afrikaans te leer om só tot die taal se voortbestaan by te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Annette Stander ·

Ai dis so lekker om sulke positiewe kommentaar van ‘n Amerikaner te lees oor ons kosbare taal Afrikaans!

JC ·

Baie dankie hiervoor, dit is baie insiggewend, VERAL die laaste paragraaf, waarop met erns gelet moet word.
Ons Afrikaners implementeer, dankie tog, alreeds DIE beginsels, indien gelet word op die privaat CVO skole regoor Suid-Afrika, en nou ook Akademia, ons eie uitmuntende privaat Afrikaanse Universiteit.

Lang Jan ·

Baie insiggewend

In Namibie” is Afrikaanse skole feitlik almal reeds privaat omrede Namibie: slegs Engels as amptelike taal gebruik sedert 1990.

Johann Marx ·

Ek ondersteun “self doen” een honderd present…………net so gou as wat die huidige regering my belasting terug gee…waarmee ek betaal vir onderwysers wat niks doen in “geen fooi” skole nie!!

Burger ·

Die taal kwessie kan baie rigtings inslaan en argumente ontlok. ‘n Klein groepie deel in die gesprekke . Die meeste gaan maar net aan met hulle lewe.

Soms mis ons die basics van mens wees. Daardie basics waar ons aan mekaar raak terwyl ons die dag afhandel . Bedien en betoon respek in Afrikaans , ongeag kultuurgroep en die taal sal lewe. Afrikaans is nog steeds die taal wat die meeste in SA verstaan word. Soms kry ek die idee dat amper belangriker as menswees geag word vir al in die Afrikaanse gemeenskap.

Rooikop ·

Kan iemand hierdie slim man nou net inlig dat engels eintlik die amptelike “apartheids taal” was…aangesien die engelse die apartheids stelsel in wording gebring het… NIE die afrikaner nie..

Adri ·

“De Kat” en “Huisgenoot”! Arme man! Kry asb. sy adres en stuur vir hom ordentlike leesstof!

Sakkie ·

So jammer dat ‘n positiewe berig bederf word, deur twee lesers se neerhalende, afbrekende en algemeen negatiewe kommentaar.

JoeV ·

Hy lees lekker.
Nie net skole nie, mens moet op alle vlakke onderig begin doen in Afrikaans, PRIVAAT!

Cherokee ·

Soos jy sê Joe, dit lees lekker wanneer jy sê hy lees lekker. Wens hy kon ‘n adjunk-posisie score in oom Donald se kabinet.

Jan H G Erasmus ·

Dit is wonderlik vir my, om die opgewondenheid rondom Afrikaans, uit soveel hoeke,vanuit soveel lande…want daar is nie ń land in die wêreld waar daar nie ń persoon is wat die taal praat nie…al is dit met sy hond of kat…maar die onsuiwer taal….doen die hart en siel van ons taal baie skade aan….om die taal uniek te laat voortgedy…laat ons hom geniet volgens die reëls van die WAT……indien nie…laat ons dan maar die Anglikaanse roete volg…en net Engels besig….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.