Voornemende skrywer? Skryf nou in vir die Winterskool

Argieffoto (Foto: Victoria_Borodinova/Pixabay)

Die jaarlikse Winterskool van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit is gemik op die slyping van intredende of opkomende skrywers.

In dié weeklange kursus se bestaansgeskiedenis van 34 jaar – dit was voorheen aangebied as ’n Herfsskool – het dosyne gevestigde en bekroonde skrywers ’n wegspringplek vir hulle skryfloopbane daarby kom vind. Onder hulle tel bekende skywersname soos Irma Joubert, Jaco Jacobs, Carina Stander en Chanette Paul – om maar enkeles te noem.

Vanjaar maak die ATKV-Skryfskool weer só. Van 3 ‒ 7 Junie kan dié wat nog altyd wou, eerstehands op die Potchefstroomkampus van die NWU kom uitvind wat ’n stuk kreatiewe skryfwerk beter maak, góéd maak. Daar kan vir die skep van óf verhale, óf gedigte, óf toneelstukke ingeskryf word.

Bekende, bekroonde skrywers uit al drie die genres kom dra ervaring en begeestering oor. Sophia Kapp en Charl-Pierre Naudé sal as romanskrywers gesels oor hoe hulle te werk gaan; Louis Esterhuizen oor sý digterskap; en Harry Kalmer oor sy sukses in die skryf van toneelstukke.

Aangaande die skryfproses in die algemeen het Hans du Plessis, veelsydige skrywer en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool, baie ervaring; hy kom deel gedagtes hieroor.

Ewe belangrik is die kort kreatiwiteitwerkswinkel wat Franci Greyling sal aanbied. Sy is ’n kinder- en jeugboekspesialis en dosent in Skryfkuns aan die NWU.

Die ATKV-Skryfskool is voorts in sy noppies dat Kobus Burger, uitvoerende dramaregisseur by RSG, ’n gesprek met kursusgangers kom lei oor hoe om ’n klankdrama te skep.

Net so belangrik as wat die skrywers te sê sal hê, is die raad wat verteenwoordigers van hoofstroomuitgewers kom gee. Protea Boekhuis se Nicol Stassen, NB-uitgewers se Solette Swanepoel (spesifiek van Tafelberg), LAPA se Izak de Vries en Naledi se Anita Froneman het almal beloof om te kom gesels oor watter geleenthede hulle bied en watter vereistes hulle stel wat betref publiseerbare manuskripte.

Susan Lombard van Maroela Media sal weer haar kundigheid oor die verband tussen kreatiewe skryfwerk en die joernalistiek kom oordra.

Genrewerkswinkels en groepsgespreksessies

Die hart van wat die Winterskool bied, bly egter die genrewerkswinkels en die groepsgespreksessies waaraan kursusgangers deelneem. Die elemente waarmee te werk gegaan word in die skep van die drie literatuursoorte kom afsonderlik onder deeglike bespreking, en vind toepassing op kursusgangers se eie skryfwerk in die groepsessies.

In die werkswinkel oor die skryf van verhale sal Sophia Kapp vanjaar die leiding gee. Louis Esterhuizen is die aanbieder van die werkswinkel vir digters, en Harry Kalmer van die een oor toneelskryf. Die gesprekke in die groepsessies sal gelei word deur Janien Linde (verhale), Bernard Odendaal (gedigte) en Thys Human (toneelstukke), al drie ervare letterkundiges aan die NWU.

Naas kennis oor die skep en publiseer van kreatiewe skryfwerk, is dit belangrik dat intredende skrywers iets weet oor wat wag ná hulle werk die lig gesien het. Op Donderdagoggend 6 Junie besin Wemar Strydom, eweneens ’n Afrikaanse en Nederlandse letterkundige aan die NWU, derhalwe oor die belang van resensering in die wêreld van skryf.

Daardie aand volg ’n boekbekendstelling as deel van die Winterskoolprogram. Dit sal gaan oor ’n pas verskene huldigingspublikasie, uitgegee deur Litera Publikasies, oor die werk en lewe van die alombekende P.G. du Plessis. Die subtitel van die boek, Hy was ’n rukkie pagter hier, sê toevallig ook iets oor P.G. du Plessis se verhouding met die ATKV-Skryfskool. Hy was naamlik sedert die amptelike stigting daarvan aan die NWU ’n Skryfskoolbeheerraadslid – ’n feit wat ook vir die redakteur van die boek, Heilna du Plooy, geld.

Die Winterskool het ’n trotse tradisie, waarop met geesdrif voortgebou word.

Skryf nou in

Inskrywings vir vanjaar se geleentheid om, van 3 ‒ 7 Junie op die kampus van die NWU in Potchefstroom, uit te vind hoe ’n mens jou skryfstuk kan verbeter tot moontlike publiseerbaarheid, kos R3 250 per persoon (R4 700 indien bespreekte deelverblyf vir 4 nagte verkies word).

Die inskrywing moet naamlik vergesel word van ’n kortverhaal, eenbedryf of twee gedigte, afhangende van die genre waarvoor gekies word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 20 Mei 2019.

Die inskrywingsvorm en meer inligting kan aangevra word by Kobie van Aswegen, te e-posadres [email protected] of telefonies by 018 299 1783.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.