Wat gemaak met die Ingrid Jonker-versameling?

‘n Foto van Ingrid Jonker wat deel is van die Ingrid Jonker-argief wat tans in die Literêre Museum in Den Haag, Nederland te sien. (Foto: Literatuurmuseum.nl)

ʼn Uitstalling, genoem die Ingrid-Jonker-argief, is tans in die Literêre Museum in Den Haag, Nederland te sien. Dit bestaan hoofsaaklik uit briewe van en aan Jack Cope, André P Brink en ander skryfkollegas, getikte gedigte, boeke, koerantberigte, manuskripte en ʼn paar foto’s van Ingrid Jonker.

Dié uitstalling duur tot die einde van Oktober en daarna sal dit veilig geberg word en natuurlik beskikbaar gestel word aan navorsers. Wat tans uitgestal word, sê Aad Meinderts, direkteur van die Literêre Museum in Den Haag, is bloot vyf vertoonkaste en nie die volledige versameling nie. Die hele Ingrid-Jonker-argief, wat in die museum se besit is, word tans georganiseer, volledig beskryf, gedigitaliseer en beskikbaar gestel, soos al die ander materiaal in die museum se besit, vir die gebruik van navorsers.

Aan die kant van die Nederlanders, voel hulle dat dit die heel beste plek is om hierdie versameling te bewaar. Ingrid Jonker is ʼn geliefde digter in dié land en die Nederlandse speelfilm, Black Butterflies van Paula van der Oest, is in meer as vyftig lande vertoon. Die aktrise, Carice van Houten wat die rol van Ingrid daarin vertolk, het op die Tribeca-rolprentfees in New York die prys as beste aktrise ontvang.

Hier in Suid-Afrika is die dogter van Ingrid Jonker, Simone Garcia Marques, baie ontsteld oor hierdie uitstalling in Den Haag. Simone hou voet by stuk dat die versameling aan haar behoort en sy is ook glad nie gelukkig dat iets soos ʼn foto van Ingrid Jonker in haar kis deel vorm van die uitstalling nie. Voorts voel sy dat haar ma deur sommige Nederlanders uitgebeeld word as ʼn feminis, en sy wat Simone is, glo glad nie dat Ingrid Jonker ʼn feminis was nie. Indien haar ma wel so geëmansipeerd was, sou sy iemand soos André P Brink, in Simone se woorde, “onder die gat geskop het”.

Maar hoe het dit gebeur dat ʼn versameling soos hierdie tans in ʼn Nederlandse literêre museum se besit is, is die vraag wat baie Suid-Afrikaners vra. Arie Pos, die kurator van die Ingrid-dokumente in Europa, verduidelik dat daar tans wanvoorstellings in die Suid-Afrikaanse pers gemaak word. Hierdie versameling wat deur die Nederlandse digter, Gerrit Komrij, na Portugal geneem is, is van sy kant af geensins op ʼn onwettige manier gedoen nie.

ʼn Reis van Suid-Afrika deur Portugal na Nederland

(Foto: Literatuurmuseum.nl)

“Toe Ingrid Jonker sterf is haar literêre nalatenskap deur ʼn regter aan Jack Cope, haar minnaar, toegeken,” verduidelik Pos.

“Cope het die kopiereg op Ingrid se werk by haar eksman, Pieter Venter, gekoop. Cope het die Ingrid Jonker Trust gestig wat sedertdien die literêre regte op Ingrid se werke behartig en die opbrengs daarvan gaan na Simone Jonker vandat sy 21 is. Cope het intussen gegaan en hierdie dokumente, manuskripte, getikte gedigte en foto’s aan die Nasionale Engelse Literêre Museum (NELM) in Grahamstad gegee vir veilige bewaring.

“In 1989 het Ingrid se suster, Anna Jonker, dit op bruikleen gaan haal by NELM aangesien sy ʼn biografie oor haar suster wou skryf. Nadat Cope op 1 Mei 1991 dood is, het sy seun Michael ook die literêre regte en die Jonker-versameling geërf. Hy het sy vader, wat ook ʼn skrywer was, se hele literêre nalatenskap aan NELM oorhandig. Die Jonker-versameling was deel daarvan. Tog was dit in daardie tyd by Anna Jonker, wat in 1996 dood is sonder om ooit die biografie te skryf. Hierna het die houers vol dokumente, manuskripte en foto’s in die hande van Anna se erfgename beland: haar dogter Catherine en seun Anthony Bairos. Hulle het geensins probeer om die versameling terug te stuur na NELM toe nie.

“Gerrit Komrij, ʼn Nederlandse digter wat ʼn geweldige bewondering vir die poësie van Ingrid Jonker gehad het, was in April 2000 op ʼn besoek aan Kaapstad. Hy het bewus geword van die Ingrid Jonker-versameling wat in Anthony Bairos se besit is, en nadat dié aan Komrij gesê het dat hy die wettige eienaar en erfgenaam van die versameling is, het Komrij dit by hom gekoop. Bairos het gedreig om die hele versameling in die see te gooi indien hy nie daarvoor betaal word nie. Komrij het geglo Bairos is ernstig met die dreigement en eerder as om so ʼn kosbare skat verlore te laat gaan, het hy hom daarvoor betaal en ʼn skeepskoffer en bokse vol van die Ingrid Jonker-versameling alles bymekaar gesit en laat vervoer na sy huis in Portugal.

“Komrij was onaangenaam verras toe hy in die Suid-Afrikaanse pers beskuldig is as ʼn dief, ʼn heler wat net so goed is as die steler, ʼn smokkelaar van kulturele erfgoed en ʼn neokolonialis. Dit was vir hom ʼn bitter pil, want hy het juis sestig van Ingrid se gedigte in Nederlands vertaal wat gepubliseer is saam met ʼn biografiese skets van Henk van Woerden.

“Vanaf die begin van Junie 2000 is Komrij van alles en nog wat beskuldig in Suid-Afrikaanse koerante. Hy is ook deur die advokate van die Ingrid Jonker Trust en Simone gekontak wat gedreig het om ʼn regsaak teen hom te begin. Dit het nooit gebeur nie. Wat vir ons vreemd is, is dat daar nooit enige regsaak teen Anthony Bairos was nie. Hy was immers die skurk wat dit onwettig verkoop het. In ʼn berig op Netwerk24 het die direkteur van NELM aan Stephanie Niewoudt gesê dat hulle dit betreur dat die versameling vir Suid-Afrika ‘verlore’ is, maar dat dit dikwels gebeur met literêre erfgoed omdat hierdie museums nie die begroting het of oor die nodige middele beskik om dit so goed te bewaar soos wat die buitelandse bewaarplekke kan nie.

“Dit is geensins waar dat Komrij homself hierdeur wou bevoordeel of verryk nie. Die versameling wat ek na die museum in Den Haag gebring het, is nog net soos wat hy dit gekoop het, met die uitsondering van drie briewe wat Catherine ná die dood van Anna Jonker uit die versameling gehaal het. Dit was voordat haar broer dit aan Komrij verkoop het. Beide Komrij en sy lewensmaat, Charles Hofman, het volhard met hulle siening dat hulle alles sal terugstuur na Suid-Afrika indien hulle die geld kan terugkry wat Komrij daarvoor betaal het, sowel as die vervoerkoste om dit terug in Suid-Afrika te kry. Daar het nooit iets daarvan gekom nie,” verduidelik Pos.

Simone se vasberade pogings

Simone Garcia Marques by haar ma se graf. (Foto: Facebook)

Hier aan die suidpunt van Afrika is Simone Garcia Marques egter vasberade om dit nie so te aanvaar nie. Dit is ʼn probleem wat opgelos móét word, sê sy, en niks en niemand gaan haar anders oortuig nie.

“Die Nederlanders weier om die versameling aan my te oorhandig, want hulle sê hier is nie ʼn plek om dit veilig te bewaar nie. Tog is dit my nalatenskap, en moet dit na my toe terugkom. Nadat die kopiereg op my ma se literêre nalatenskap verval het in 2015, is alles wat in die Ingrid Jonker Trust was, oorgegee aan my. Ek besef dit was ʼn onwettige transaksie van my neef, Anthony, en ek wou hom daardie tyd oorgegee het aan die polisie, maar ter wille van die familiebande het ek besluit om dit nie te doen nie. Komrij is al etlike jare dood en ek glo die versameling moet nou teruggestuur word.”

Simone vertel dat sy planne het om ʼn Ingrid Jonker-sentrum in Suid-Afrika op te rig waar die versameling, saam met al die ander items en memorabilia wat sy wel van haar ma in haar besit het, uitgestal kan word. Sy sal dit graag ʼn tipe Sestigersentrum wil maak waar haar ma se nalatenskap, saam met ander digters en skrywers van die Sestiger-era, gehuldig kan word. Daar moet ook plek wees vir ʼn klein teater waar teaterstukke en woordprogramme aangebied kan word. Sy sien dit ook as die ideale ruimte waar die Ingrid Jonker-poësieprys wat elke jaar aan ʼn opkomende digter toegeken word, oorhandig kan word.

“Die Nederlanders het onlangs in ʼn berig geskryf dat Afrikaners nie omgee vir hulle ikone nie en daarom het hulle beslag gelê op die dokumente. Ek het nie genoeg geld gehad om ʼn film oor my ma se lewe te maak soos wat hulle gedoen het nie en ek het mense nodig om saam met my hieraan te werk. My droom is om ʼn organisasie sonder winsbejag te stig en dan geld in te samel wat hierdie droom ʼn werklikheid kan maak. Ek glo dis net ʼn kwessie van kommunikasie, want daar is baie mense hier in Suid-Afrika wat baie lief is vir Ingrid Jonker se poësie en wat dit koester. Ons moet almal saamtrek en hierdie sentrum stig, al is dit net klein. Ek weet museums in ons land word afgebrand en al sulke negatiewe dinge, maar ek glo ons moenie op die negatiewe fokus nie. Ons moet op onsself vertrou dat ons hiervan ʼn sukses kan maak. Die versameling moet terugkom,” hou sy voet by stuk.

Erfenisbewaring is plaaslik nie ʼn prioriteit

Ingrid Jonker (Argieffoto)

Gerrit Komrij se testament bepaal dat die dokumente terug na Suid-Afrika gestuur moet word.

Waarom word Gerrit Komrij se testament, dat die versameling na die Universiteit Stellenbosch se dokumentasiesentrum teruggestuur word, nie eerbiedig nie, is die volgende vraag wat ʼn mens moet vra. Arie Pos verduidelik dat hy as voog van Gerrit Komrij se nalatenskap aangestel is. Komrij is in 2012 dood. Sy lewensmaat, Charles Hofman, is in November 2019 dood.

Na Komrij se dood het beide Arie Pos en Charles Hofman gekyk na die situasie by die Universiteit Stellenbosch. Toe reeds het hulle gevoel dat Afrikaans aan die instelling ondergrawe word deur die verengelsingsbeleid wat aan die gebeur is op Stellenbosch en aangevuur word deur die ANC.

“Toe ek en Charles Hofman in 2014, 2015 gesoek het na ʼn argief aan ʼn Suid-Afrikaanse instelling, is ons deur verskeie akademici en mense in die literêre wêreld in Suid-Afrika afgeraai om dit na Suid-Afrika te stuur. Veiligheid, bewaring, finansiering en toeganklikheid vir navorsers sou nie gewaarborg kan word nie, het almal gesê. Afrikaans en die bewaring van Afrikaanse kultuurgoedere is nie meer ʼn nasionale prioriteit nie, het ons gou besef. Aan die begin van 2022 het ek, op versoek van die erfgename van Komrij en Hofman, weereens tientalle mense gekontak om te hoor waarheen ons die versameling in Suid-Afrika kan stuur. Ons is weer afgeraai om dit te doen weens die gebrek aan veiligheid, die veilige bewaring, en toeganklikheid by sulke plekke in Suid-Afrika. Ek het besluit om dit na die Literatuurmuseum in Den Haag te neem aangesien hulle reeds ʼn groot Komrij-versameling het. Hulle kon wel die nodige waarborge gee wat ons wou gehad het. Ons hoop dit is net ʼn tussenstap en dat ons uiteindelik wel in Suid-Afrika die regte en veilige plek daarvoor kan vind,” sê Arie Pos.

Iemand wat ʼn baie nou pad met die nalatenskap van Ingrid Jonker loop, is die uitgewer en skrywer Petrovna Metelerkamp wat meer as een biografie oor Ingrid Jonker geskryf het, en ander bundels oor haar lewe en werk saamgestel het: Ingrid Jonker – beeld van ʼn digterslewe (2003), Gesprekke oor Ingrid Jonker (samesteller, 2006), Ingrid Jonker – A Poet’s Life (2012), Ingrid Jonker – ʼn Biografie (2018) en Ingrid Jonker – Het kind is niet dood (2022). Petrovna sê sy het destyds alles in haar vermoë gedoen om te keer dat die Ingrid Jonker-versameling deur Gerrit Komrij gekoop word. Toe sy gehoor het dat Anthony dit wil verkoop, het sy NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein gekontak en ingelig oor hierdie onwettige transaksie. Petrovna was onder die indruk die versameling het van daar af gekom. Sy het ook Anthony se telefoonnommer aan hulle gestuur, maar daar is niks gedoen om die verkoop van die dokumente te keer nie. Daarna het sy probeer om ʼn regsgeding aanhangig te maak, maar dit sou duisende rande gekos het, wat sy ook nêrens in die hande kon kry nie.

Petrovna stem saam met Arie dat hier tans nie ʼn plek is waar dit veilig bewaar kan word nie. “Wat ons bitternodig het in hierdie land, is ʼn bewaringsplek vir ons Westerse kultuurskatte. Tans word dit beskou as die onderdrukker se erfenis, en daarom kan die veiligheid daarvan nie gewaarborg word nie. Ek weet dat Arie Pos die mense by Stellenbosch se dokumentasie-sentrum gekontak het. Tot onlangs was dit ʼn uitstekende bewaringsinstansie en ek het baie en lekker met hulle saamgewerk toe ek onder andere die briewe van Audrey Blignaut gepubliseer het. Daar is baie inligting by hulle gestoor. Toe Arie met hulle praat, is die sentrum net oorgeneem deur ʼn nuwe aanstelling. Die mense daar kon nie met hom Afrikaans praat nie en hy kon nie by hulle die nodige versekering kry dat die versameling veilig sal wees nie. Weet jy hoeveel ander groot digters en skrywers se oorspronklike manuskripte is nie in ons land nie? Selfs iemand soos Athol Fugard wat nog leef se manuskripte is nou verkoop aan ʼn universiteit in Mexiko waar dit goed bewaar gaan word. Waar kan dit in Suid-Afrika gebeur?” vra Petrovna.

ʼn Ingewikkelde saak, met vele kante en sonder enige voor die hand liggende antwoord. Ten slotte wonder ʼn mens wat dit sal verg vir Simone Garcia Marques om die Ingrid Jonker-versameling van die museum in Den Haag terug te kry. Hierop antwoord die direkteur, Aad Meinderts, as volg:

“Hierdie vraag veronderstel dat ons die versameling aan een spesifieke individu sou afstaan, wat ons geensins gewillig is om te doen nie. Oorspronklike dokumente soos hierdie moet vakkundig bewaar word en moet beskikbaar gestel kan word aan navorsers in ʼn gespesialiseerde openbare instelling. Simone noem dat sy graag ʼn Ingrid Jonker-instituut wil oprig en as dit kan realiseer, lyk dit na die ideale bestemming vir die Ingrid Jonker-argief. Ons sal graag saam met enige Suid-Afrikaanse instituut werk om dit na Suid-Afrika te stuur, maar dan sal ons graag verseker wil word van die veilige bewaring en die beskikbaarstel van die argief aan navorsers. Volgens ons behoort die eiendom van die argief aan die Komrij/ Hofman-erfgename en hulle sal die besluit moet neem aan wie dit oorhandig sal word. Ons sal dit tans dus nie aan Simone oorhandig nie. Vir eers weerhou die Literatuurmuseum onsself daarvan om enigsins in die komplekse gesprekke oor die eienaarskap hiervan betrokke te raak.”

Simone hou voet by stuk

Simone Garcia Marques (Foto verskaf)

“Ek het ʼn reg tot my erfenis. Tot vandag toe het ek nog nooit die versameling wat nou in Den Haag is gesien nie. Ek is ʼn verantwoordelike persoon wat deur die jare my ma se graf mooi onderhou het. Daar is ook ʼn moontlikheid dat hierdie versameling by die Breytenbach Sentrum in Wellington bewaar sal word. Ek gaan in Oktober, wanneer ek die Ingrid Jonker-prys daar oorhandig, met hulle in gesprek tree om te sien hoe ons dit kan regkry,” sê ʼn vasberade Simone.

ʼn Ingewikkelde kwessie waarvoor daar geen eenvoudige oplossing is nie. Dalk is dit tyd om ons stem dik te maak en aan te dring op ʼn veilige plek waar ons Westerse kultuurskatte bewaar kan word. As ons dit nie doen nie, sal daar mettertyd niks meer hier plaaslik beskikbaar wees nie. Iets waaraan ʼn mens liewer nie wil dink nie.

* NELM, of die National English Literary Museum, was so bekend vanaf die stigting in 1972 tot Mei 2019. Daarna is die naam verander na die Amazwi South African Museum of Literature op aanbeveling van die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa. Die museum is tans daarop gefokus om dokumente en inligting oor Suid-Afrikaanse literêre werk in al die inheemse tale te bewaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

philippus ·

Dogter soek sensasie en 5 minute faam. Dit moet net daar bly in Nederland. Waar dit veilig is. In Suid Afrika, is dit n afrikaner. Dus is dit sleg en moet vernietig word of op straat gegooi word.

Sandra ·

Ek stem saam dat dit eerder daar moet bly, maar stem nie saam oor die foto van haar in haar kis nie. Dis net creepy

Se maar net ·

Hier sal dit net vernietig word, dit moet maar daar bly

annie ·

Komrij was nie net ‘n groot bewonderaar van Ingrid nie, hy was mal oor Afrikaans. En het ‘n dik digbundel ‘Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte” nogal met ‘n protea voorop in 1999 by uitgewer Bakker die lig laat sien. In die voorwoord sê Komrij: “Identiteit ontleen ‘n mens alleen aan sy taal. … dan is die poësie ten slotte dit waarby die voortbestaan van ‘n eie kultuur staan of val”, ens. As Afrikaans hier sterf gaan Nederland dit (‘n eksotiese taal deur Komrij beskryf) erf. Nederlanders lag is hul mou vir diegene wat nie omgee vir die behoud van hul God-gegewe eiendom nie. Skande!

Mrs H ·

Ag nee Simone, skaam jou. Gaan dink weer mooi en doen behoorlik huiswerk. Jy kan altyd Nederland toe trek.

Patch ·

Wat van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument? Ek glo die argief daar is ‘n baie veilige plek.

Manie ·

Nee wat sussie, jou gierige neef was die oorsaak hiervan en jy het saamgespeel deur hom nie te verkla vir diefstal en bedrog nie. Sukkel self voort en los die Nederlanders wat net wou goed doen uit.

Lillian ·

Ek sou bitter graag die uitstalling wou sien… Maar laat dit liewer veilig in Nederland bly. In hierdie land word als net verwoes, afgebreek en afgebrand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.