WAT se Borg ʼn Woord-veldtog spog met nuwe beskermvrou

Laurika Rauch, nuwe beskermvrou van die WAT se Borg ‘n Woord-veldtog (Foto: Verskaf)

Laurika Rauch word Woensdag 16 Oktober, Internasionale Woordeboekdag, die nuwe beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ʼn Woord-projek.

“Mense beskou Laurika as ʼn simbool van Afrikaans,” sê dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die WAT, oor dié besluit om haar te nader. Hy praat verder met groot lof van die besonder hoë standaard wat Laurika as sanger en kunstenaar handhaaf en voeg by dat sy die Afrikaanse lied tot nuwe hoogtes gevoer het.

Rauch het onmiddellik ingestem toe die WAT haar met die voorstel genader het en sy moedig alle Afrikaanssprekendes aan om hierdie veldtog te ondersteun: “Woorde is kosbaar. Borg of koop ʼn woord wat vir jou van besondere waarde is en help so om die toekoms van ons lieflike taal te verseker. Laat die woord jou lei!”

Oor die veldtog

Die Borg ʼn Woord-veldtog is begin uit ʼn nood wat ontstaan het toe die staat subsidie aan woordeboeke drasties ingekort het. Dit is een van die suksesvolle geldwerwingsinisiatiewe van die WAT wat in 2010 van stapel gestuur is met David Kramer as beskermheer. Kramer is opgevolg deur Charlene Truter (Lackay), Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, Hemelbesem en Tracey Lange.

Die doel van hierdie veldtog is om mense bewus te maak van die waarde van woorde en die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van die Afrikaanse taal. Dit laat mense dink oor wat hul gunstelingwoorde is en watter woorde net eenvoudig vir hulle mooi is. Oor die vraag of slegs bestaande woorde geborg kan word, vertel Botha soos volg: “Jy kan enige denkbare woord borg. Dit hoef in geen woordeboek te wees nie.” Enige nuutskeppings wat dus tussen familie, vriende en sosiale omgewings ontstaan het, kan ook geborg word.

Hoe om ʼn woord te borg

Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook ʼn woord vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. As jy R5 000 skenk vir ʼn woord, ontvang jy ʼn 18A-belastingsertifikaat. Alle deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die aanlyn weergawe van die WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Een prys van R25 000, geborg deur Sanlam, kan gewen word. Almal wat woorde borg of koop, kom vanselfsprekend vir hierdie prystrekking in aanmerking.

Dit is ʼn gewilde geskenk aan geliefdes, familielede en vriende. “Dit is veral vroue wat hul mans se beroepe borg,” vertel Botha geamuseerd. Hy spreek ook sy verbasing uit teenoor mense wat woorde koop: “Ek bly verstom dat mense R5 000 bestee aan hierdie projek.”

Internasionale Woordeboekdag

Woordeboekdag word internasionaal ter ere van die beroemde Amerikaanse woordeboekmaker, Noah Webster, gevier. Hy is op 16 Oktober 1758 gebore en was ʼn briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.

Volgens Botha moet ons op Woordeboekdag onsself afvra of woordeboeke nog relevant is. Mense raak gefrustreerd omdat hulle verouderde woordeboeke gebruik wat nie rekenskap gee van die duisende nuwe woorde en nuwe betekenisse van ou woorde nie.

Indien jy ʼn woord wil borg, gaan na www.wat.co.za en klik op Borg ʼn Woord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Barend ·

Laurika, sovêr ek weet, hou by suiwer Afrikaans in haar liedjies, in teenstelling met talle ander sangers wat net nie kan wegbly van Engelse woorde tussen die Afrikaans nie, so asof Afrikaans nie goed genoeg is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.