WAT vir ʼn woord?

viva app 2My pa het op die Vrystaatse platteland grootgeword. Klein dorpie, stofstrate, een verkeerslig in die hoofstraat. Die bodorp was duskant die rivier, die onderdorp anderkant die spoor. Oupa was ʼn treindrywer, wat beteken Pa het aan die verkeerde kant van die spoor grootgeword. Ouma het gesê dit maak nie saak waar sy woon nie, die huis is hare en dis betaal en die skinderbekke in die bodorp kan loop dinges, hulle leef almal op skuld.

In die rooibaksteenhuis langs hulle het die Gerings gewoon (klem op die Ge-). Die oom was ʼn stoker, die tante het kinders grootgemaak. Elke jaar ʼn nuwe enetjie. Wat moeilik was, want daar was nie lopende water in die huis nie en die kleinhuisie het onder ʼn peperboom in die agterjaart gestaan.

Pa en die Gerings het gereeld saam gespeel. (Ouma het geglo opstêrsgeit is ʼn sonde.)

Tot een doodgewone, loom agtermiddag toe die kinders weer onder die peperboom speel en die tema van die dag se skoolwerk ter sprake kom: Die aarde is rond en draai om sy eie as.

“Glo jy daai storie van die aarde wat draai?” vra Septimus Gering vir my pa.

“Ja,” sê Pa met die oortuiging van ʼn agtjarige wat boeke tot sy beskikking het.

“Ek dink dis str*nt,” verklaar Septimus. “Want as die aarde gedraai het, het daai kleinhuisie nou hier links van my gesit en netnou is hy voor my en teen vanaand is hy daar regs.”

Dit was vir Septimus se onthalwe jammer dat Ouma hom gehoor het. Want sy het net daar die houtlepel in die pot laat val, my pa aan sy arm kom vat en hom huis toe gesleep. Nie omdat Septimus verkeerd was nie, maar omdat Septimus gedink het die aarde draai om hóm.

Dis verstommend hoeveel mense vandag nog Septimus se opvatting en lewensuitkyk deel. Ook oor taalgebruik. Veral oor taalgebruik.

Die splinternuwe, bygewerkte uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) het onlangs verskyn. Taalkommissie-kollega Jana Luther, taalghoeroe Fred Pfeiffer en prof Rufus Gouws van US het hieraan gewerk. Dis mense wat die taal binnetoe-buitentoe kan omdop, hom kan uitskud, rondskud, regskud, regruk, regmaak, regvat, raakvat. Rugbreekwerk is in die projek in, in diens van Afrikaans.

Die woordeboek word bekendgestel. “Wat het ons hier?” mor (sommige) gebruikers dadelik. “Kyk hierdie vreemde woorde wat die boek ontsier.” “Dit kan g’n Afrikaans wees nie; ek ken dit dan nie!” “Ek sal nooit in my lewe so ʼn aaklige woord gebruik nie, hoekom staan dit in ʼn woordeboek?” Dis die Gerings van Afrikaans. Die taal draai om hulle.

Ongelukkig (vir hulle) werk taal nie so nie. Taal is ʼn ding wat aan al sy sprekers behoort en tuis is in die monde van almal wat dit praat. Dit skuif so stadig soos die kontinente en verander so vinnig soos die weer. Jou voorkeure is bloot dit: jou voorkeure. Die taal word deur taalkundiges, taalpraktisyns en woordeboekmakers opgeteken wat daagliks hulle brood in en met die taal verdien en behoorlik navorsing doen oor wat die taal alles kan kwytraak. As jy wil weet hoe die taal in sy breë, diepe, omvangryke, ongetemperde, ongemuilbande glorie lyk, móét jy uit jou eie agterjaart klim en in erkende bronne gaan naslaan. Dit is onvermydelik en onweerlegbaar dat jy met ʼn taal gaan kennis maak wat groter en wyer is as dit wat jy ken. Moenie dat dit jou bedreig nie; raak liewer opgewonde daaroor.

Een van die nuutste projekte tot jou beskikking is die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Woordeboekportaal. Dis op die web en as ʼn app beskikbaar  (Google Play Store of App Store), en die idee is dat jong taalgebruikers die fone, waaraan hulle deesdae so verknog is, kan gebruik om vinnig na te slaan of ʼn woord bestaan en hoe dit gespel word. Daar is ook vakwoordeboeke in die versameling, sowel as die baie nuttige Voorsetselwoordeboek, waarin jy kan naslaan of jy in Afrikaans op of met vakansie gaan. (Wonder jy nou? Gaan teken gerus in op VivA – dis gratis!)

Nog ʼn baie nuttige bron is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) waarin jy teen R150 per jaar tot ʼn ryke skat van Afrikaanse woorde, hulle spelling en gebruikstoepassings toegang kry. Woorde wat in die WAT opgeneem is, is woorde wat uit Afrikaanse tekste geëkserpeer word en dan behoorlik omskryf word. Sommige van die uitdrukkings is streektaal en sommige is gemerk (byvoorbeeld kru of taboe), maar die woordeboek probeer om die volle reikwydte van Afrikaans vas te vang.

Die HAT is ʼn verklarende handwoordeboek. Dit beteken dat die primêre oogmerk van hierdie bron is om betekenisse van woorde waarmee (al) Afrikaans se gebruikers in aanraking kom, duidelik te omskryf. Kyk na die inskrywings – daar word aangedui of die woord byvoorbeeld informeel, streektaal of taboe is.

Jy moet in jou woordeboekversameling ook ʼn omvattende, moderne (onthou, taal verander voortdurend) tweetalige woordeboek hê. Taalpraktisyns gebruik hoofsaaklik Pharos se “groot swarte”. Jy moet ongelukkig hierdie woordeboek in papierformaat aankoop. Daar is CD’s beskikbaar, maar hulle is so skaars soos die spreekwoordelike hoendertande.

As jy jou brood met vertaling verdien, moet jy ook toegang hê tot tegniese en vakwoordeboeke. PharosAanlyn, waarop jy jaarliks inteken, bied toegang daartoe. Pharos gee ook Skryf Afrikaans van A tot Z uit wat op jou woordeboekrak moet wees. Dit is oorspronklik vir joernaliste saamgestel, maar gewone gebruikers kan baie uit hierdie bron leer.

Enigiemand wat met en in Afrikaans werk, moet Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) aanskaf. Dit is die bron waarin die spelreëls vir Standaardafrikaans, ʼn lys afkortings, buitelandse plekname in Afrikaans, en ʼn lys woorde wat moontlik spelprobleme skep, opgeteken word. Die bron word saamgestel en voortdurend bygewerk deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die Woordelys is hier beskikbaar en is deel van VivA se Woordeboekportaal. Besoek gerus die Taalkommissie se Facebook-blad as jy taalnavrae het. Jy kan ook daar voorstelle maak vir moontlike opnames in die Woordelys.

Ten laaste: Of jy nou Afrikaans in ʼn klaskamer, op ʼn kansel, in ʼn kantoor of in ʼn kroeg geleer het, dis ʼn taal met meer moontlikhede as wat jy ooit kan ken. Aanvaar dat jy kan leer. Stel jou oop vir nuwe taalhorisonne. Verbreed hulle, want dis hoe jy groei. Laat jou taal toe om alles te wees wat hy kan wees. En onthou die les wat CJ Langenhoven al meer as ʼn eeu gelede vir ons kom leer het: “Om ons één taal tot nut te gebruik, is groter kuns as om sewe vreemdes by te leer.”

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.