Wees deel van RSG se kunstefees – in die gemak van jou eie huis

RSG-Kunstefees2015kleinRSG Kunstefees word tans vir die derde keer regstreeks aangebied.

Die kunstefees eindig Vrydag 20 November om 20:40 met Banket met Nataniël, en tussendeur is daar iets vir elke smaak. En net soos in die verlede is alles gratis en verniet!

Die beste van alles is dat jy nie eers ʼn voet hoef te versit om die fees te geniet nie – jy kan saamluister in die gerief van jou eie huis of kantoor. Jy kan selfs saamluister sonder ʼn radio!  Moderne tegnologie maak dit moontlik dat jy danksy “live streaming” via ons webwerf kan saamluister op jou slimfoon of rekenaar, en RSG kan deesdae ook gehoor word op DStv-oudiokanaal 913.

Vanjaar se RSG Kunstefeesprogram is ‘n heerlike hutspot van drama’s, woordkuns, klassieke musiek, eksperimentele musiek, klankdramas, storievertel, musiekteater, poësie, kinderteater, profielgesprekke en selfs visuele kuns, ballet en dans! Die fees spog vanjaar selfs met ʼn feeskunstenaar, en daar sal daagliks ‘n gesprek wees oor die werk van die veelbekroonde Diane Victor (met foto’s en video’s op die RSG-webblad sodat jy kan saamkyk).

Die RSG Kunstefees is nie verniet met twee top-toekennings vir innovasie bekroon nie. Volgens Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG, is die fees juis geskep om mense wat andersins nooit die geleentheid sal hê om ʼn kunstefees by te woon nie, blootstelling aan kunstefeesproduksies te gee.

Vanjaar sorg RSG weer vir ʼn kunstefees uit die boonste rak danksy borgskappe van onder meer die Dagbreek Trust en die Cordis Trust.  Daar is verskeie produksies wat spesiaal vir hierdie kunstefees geskep is, soos ‘n klankeksperiment Metamorfose, ‘n Koos Prinsloo-radiodrama, Christo Davids se Tussen bokse, Adam Small se splinternuwe Maria – Moeder van God en Hennie Aucamp se Wolf, wolf hoe laat is dit? Marius Weyers sal ook te hoor wees in die eerste radioweergawe ooit van Franz Kafka se ‘n Verslag aan die Akademie. (Hierdie is maar net enkele van die drama’s waarna jy kan uitsien – daar is nog baie meer.)

Op ‘n ligter noot is daar onder meer die “kwinksinnighede” van Oom Goltros van Verneukpan, Elias P. Nel se wonderlike komiese karakter, die komedie van Anne Hirsch en Nataniël se Banket, spesiaal geskep vir RSG. Philip de Vos se maltrap-versprogram, Boetie dit is tyd vir bid as ‘n seekoeikoei op jou skoot kom sit, is kostelike vermaak vir die hele gesin. Die drie digters wat verlede jaar vir groot vermaak gesorg het met Die Woordketting, is terug, en Philip de Vos, Diana Ferrus en Andries Bezuidenhout se nuutskeppings, gebaseer op klassieke Afrikaanse gedigte, sorg weer vir onvergeetlike woordpret.

Musiekliefhebbers kan ook uitsien na verskeie uitstekende produksies, onder meer Rapsodie op Gershwin (met o.a. Charl du Plessis en Corlea Botha) en Les Javan se Wydsbeen-konsert (met o.a. Rian Malan, Churchil Naudé en Riku Lätti). In Chriskras lees Paul Eilers, bekende akteur, kortverhale voor uit die pen van die Sestiger Chris Barnard terwyl Steffie le Roux en haar orkes Barnard se woorde musikaal laat sprankel. Ingrid Jonker-aanhangers kan uitsien na die opdragproduksie Korreltjie Kantel, met Luna Paige, Nick Turner en ander musikante wat vleuels gee aan Jonker se werk. Ockie Vermeulen (kerkorrel) en Wessel van Wyk (klavier) sorg ook vir ‘n onvergeetlike klassieke musiekuitvoering waarin jy kan luister na werke van Bach, Beethoven, Mozart en Karl Jenkins. (Let wel: konserte of programme wat musiek bevat sal NIE op potgooi beskikbaar wees nie, so maak seker dat jy saamluister wanneer dit uitgesaai word.)

Tussendeur is daar profiele oor bekendes uit die kunstekringe, ‘n Afrikaanse vertaling van die werk van die Spaanse digter Federico Garcia Lorca, klankeksperimente en nog baie meer. Die kleingoed kan ook uitsien na splinternuwe Poen en Toekie-verhale.

Kliek op www.rsg.co.za vir die volledige program of laai dit hier af.

Sluit aan by die gesprek deur #RSGfees op Twitter te volg. Twiet en hertwiet ook oor jou gunstelingproduksies, en gebruik @zarsg en die hutsmerk #RSGfees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.