‘Weet’ alles oor die verkiesing

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Oor twee weke stem Suid-Afrikaners in die nasionale verkiesing. Ons hoor byna elke dag verkiesingsnuus en weet dis ʼn belangrike gebeurtenis, maar al hierdie nuus en inligting is soms ingewikkeld en heeltemal onverstaanbaar.

Weet, die e-naslaangids vir leerders en nuuskieriges, het ʼn kundige gevra om die belangrikste inligting oor die verkiesing uit te soek en artikels daaroor te skryf wat almal kan verstaan. Hierdie inligting is nou op weet.co.za beskikbaar!

Onder die kategorie “Verkiesing 2024” kan jy meer lees oor die Suid-Afrikaanse kiesstelsel – wat op aarde is dit en hoe werk dit in ons land? As die woord “koalisie” jou laat kriewel, kan jy jou algemene kennis daaroor ook op Weet gaan opskerp, in die artikel wat koalisiepolitiek verduidelik. Kom ontdek wat dit is, hoekom dit belangrik is, en hoe dit in Suid-Afrika se politiek werk.

Op Weet gaan jy ook inligting kry oor al die verskillende politieke partye wat aan die verkiesing deelneem – van die regerende ANC en die amptelike opposisieparty die DA, tot Zuma se nuwe MK-party en die onafhanklike kandidate wat hierdie jaar vir die eerste keer aan die verkiesing deelneem. Elke artikel verduidelik hoe en hoekom die party gevorm is, wat hulle dink en glo, wie hul leier is, watter sukses hulle behaal het, en watter kritiek hulle ontlok.

(Argieffoto: Megan Swart/Maroela Media)

Weet se artikels bevat ook ʼn wonderlike hulpmiddel: die woordbank. Moeilike woorde en begrippe word sommer in die teks self verduidelik, wanneer jy met die pyltjie of jou vinger bo-op die vetgedrukte woord gaan staan. Nou kan jy ook verstaan wat woorde soos “korrupsie”, “integriteit”, “vryemarkekonomie” en “regstellende aksie” binne ʼn politieke konteks beteken. “Minderhede” en “konserwatief” word in hul konteks beskryf, net soos terme soos “selfbeskikking”, “federale stelsel” en “taalregte”.

Wonder jy oor Julius Malema se kwalifikasies? Kom lees op Weet watter grade hy verwerf het en wat presies sy radikale idees behels. Weet jy wat die VF Plus se embleem verteenwoordig, en waarvoor die groen, swart en goud in die ANC se logo staan? Weet sal jou vertel. Weet jy hoeveel mens moet betaal om lid van ʼn party soos die DA te wees? Jy kan op Weet daaroor en baie meer lees. En weet jy dat daar partye is wat die doodstraf wil terugbring? Weet vertel jou ook meer daaroor.

Lees op Weet oor die verskillende algemene verkiesings in Suid-Afrika sedert ons in 1994 ʼn demokrasie geword het, en hoe ons parlement werk. En as jy oor iets wonder wat jy nie op Weet kan opspoor nie, stuur vir ons ʼn boodskap en ons vind vir jou uit – want Weet glo dat ʼn mens moet weet!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.