Wen groot pryse met Internasionale Afrikaans-Ekspo

(Foto: Verksaf)

Jong kunstenaars en skrywers met ʼn liefde vir Afrikaans kan nou inskryf vir ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat gewortel is in die viering van Afrikaans.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Vanjaar se tema vir dié kompetisie is “groei”, met taal, kultuur en geskiedenis as riglyne.

“Wanneer ons van groei praat, is dit sinoniem met Afrikaans. Dink maar oor hoe Afrikaans oor die jare heen sterker en groter geword het met nuutskeppings, idiome, liedjies en nog meer. Dan is daar skrywers, digters en kunstenaars wat baanbrekerswerk vir die taal verrig het,” het die FAK in ʼn verklaring gesê.

2018 se wenfoto (Foto: Angeleah Moss/verskaf)

“Groei kan vir jou ook direk verband hou met hoe jy grootgeword het of selfs met plantegroei, dus wil ons jou uitdaag om met vanjaar se tema kreatief te dink en jou pen of verfkwas te laat vloei met kleurvolle stories, kuns of foto’s.”

Buiten dat deelnemers die geleentheid kry om in ʼn prettige omgewing in Afrikaans kuns uit te voer, word hulle ook met hul skryfproses gehelp deur middel van terugvoer van die beoordelaars.

Graad 6- tot 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibië, of enige land ter wêreld waar Afrikaans gebruik of bestudeer word, kan inskryf. “Ons moedig veral ook studente van Afrikaansdepartemente aan universiteite regoor die wêreld aan om deel te neem.”

Jak de Priester en die wenskildery van 2018 (Foto: Verskaf)

Daar is sewe kategorieë waarin deelnemers hul kreatiwiteit kan uitleef. Dit sluit in dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, fotografie en skilderkuns.

Die weninstansie ontvang R10 000 wat volgens ’n formule bepaal sal word. Die wenner self ontvang ʼn wisseltrofee en R1 000. ’n Verdere R4 000 kontant word vir sy of haar skool gegee.

Alle inskrywings moet teen 12 Julie vanjaar ingehandig wees. Inskrywings is gratis. Leerders en studente wat vir die kompetisie wil inskryf, kan aanlyn hul inskrywings voltooi by ekspo.fak.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.