Wen: Koebaai, taalgoggas! Hallo, Slimk(o)op!

Argieffoto. (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Goed, beter, allerbeste Afrikaans! Met Moedertaaldag wat op 21 Februarie wêreldwyd gevier word, is dit ʼn gulde geleentheid om die ABC van Afrikaans onder die knie te kry.

Hokaai! Ons praat nie hier nét met taalboffins en persone wat soos wandelende woordeboeke rondloop nie. Dit is beslis ook nie ʼn hoogdrawende artikel oor die moets en moenies van Afrikaans nie.

Maroela Media het juis ʼn gids saamgestel wat oud en jonk sal help om daardie lastige taaltoffies in ʼn japtrap kaf te draf.

Bo en behalwe dit gee Maroela in samewerking met Pharos een PharosAanlyn-lidmaatskap en, danksy die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), twee eksemplare van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) weg. Verbeel jou!

Die onderstaande lys bevat ʼn versameling taaldienste, inisiatiewe en hulpmiddels wat enigiets van woordeboeke en gratis slimfoontoepassings tot Facebook-groepe insluit.

Boekmerk gerus die artikel en hou dit byderhand vir die ontydige taalgoggas (in alfabetiese volgorde):

Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS)
Die AWS is die normeringsbron vir Standaardafrikaans wat duidelike leiding oor spelling en skryfwyses bied, en is dus ʼn noodsaaklike hulpbron vir mense wat Afrikaans praat en/of skryf – van skoliere tot taalspesialiste. Dit is as’t ware die handleiding vir hoe om Afrikaans korrek te praat en skryf, en daarom vervul dit ʼn belangrike, onmisbare rol in die gebruik en voortbestaan van Afrikaans.

Hier sal jy hulp kry oor taal- en spelreëls soos:

  • Afkortings
  • Hoof- en kleinletters
  • Leestekens (byvoorbeeld aanhalingstekens, dubbelpunt, komma en skuinsstreep)
  • Meervoudsvorme
  • Skryfwyse – los en vas

Die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) is die amptelike liggaam vir die standaardisering van Afrikaans en is verantwoordelik vir die saamstel van die AWS.

Lees meer oor die 11de omvattend herbewerkte uitgawe van die AWS. Dit word deur Pharos, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, uitgegee.

Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool!
Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool! is in 2007 gestig en een van die oudste Afrikaanse taalgroepe op Facebook. Sowat 16 500 lede gesels daagliks saam oor outydse én hedendaagse Afrikaanse uitdrukkings en woorde.

“Ons groep is ʼn plek waar Afrikaans waardeer en gepraat en bespreek word. Ons kan soms hier koppe stamp oor wat nou eintlik ʼn anglisisme is (of nie) en oor of dit wat my juffrou gesê het in 19-toet toe nou werklik die waarheid was (of nie).”

Enige persoon is welkom om gratis by die groep aan te sluit, maak egter seker dat jy vooraf die reëls bestudeer en nie later per ongeluk een daarvan oortree nie.

(Foto: Beter Afrikaans/Facebook)

Beter Afrikaans
Beter Afrikaans is ʼn gratis taaldiens wat daarop gerig is om Afrikaanssprekers se taal speel-speel te verbeter.

Hoe werk dit? Gebruikers registreer gratis op Beter Afrikaans se webwerf. Jy ontvang dan elke weeksoggend ʼn e-pos met ʼn skakel na die toets van die dag. Elke toets bestaan uit vier multi-keusevrae en jy kan op drie verskillende moeilikheidsvlakke speel. Deelnemers kry onmiddellik terugvoer oor hulle antwoorde, met ʼn kort verklaring oor hoekom ʼn woord op ʼn bepaalde manier gespel word.

As jy meer wil leer, kan jy ook op die webwerf raadpleeg vir meer inligting oor die los- of vasskryf van woorde, deeltekens, hoofletters, moeilike woorde en intensiewe vorme.

Skryf in by Beter Afrikaans en leer speel-speel meer oor spelling. Jy kan gratis die Beter Afrikaans-app in die Google Play Store of Apple App Store aflaai. Beter Afrikaans is in samewerking met die Nederlandse Beter Spellen ontwikkel.

Afrikaanse SkryfGoed 6
Afrikaanse SkryfGoed is ʼn versameling van vier skryfhulpmiddels vir Microsoft® Office wat deur Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) (NWU) ontwikkel is. Die sentrum werk met verskeie vennote saam aan die bevordering van mensetaaltegnologie in Suid-Afrika.

Afrikaanse SkryfGoed bevat ‘n speltoetser, grammatikatoetser, tesourus en woordafbreker. Die program bied nie ʼn gratis pakket nie en is ongelukkig nie met Office for MAC of aanlyn- en tabletweergawes van Office versoenbaar nie.

Klik hier om die speltoetser te bekom of om meer oor die produk te wete te kom. Gebruikers kan ook die CTexT – NWU Afrikaanse Speltoetser-blad op Facebook volg.

(Foto: Pharos Woordeboeke/Facebook)

Pharos-woordeboeke/Dictionaries
Die Pharos-druknaam, wat deur NB-Uitgewers uitgegee word, is ʼn trots Suid-Afrikaanse uitgewer van Afrikaans, Engels, Afrikatale, veeltalige woordeboeke en stylgidse. Dit sluit in:

  • Klein woordeboek/Little Dictionary (2013) deur Jan Kromhout
  • Afrikaans vir almal: Taalreëls, naslaanlyste, algemene kennis (2015) deur Isabel Uys
  • Blokraai-antwoorde (2020) deur Adri Burger
  • Tesourus van Afrikaans (heruitgawe) (2021) deur Leon de Stadler, Amanda de Stadler

Pharos Woordeboeke het sedert die stigting in 1996 gepoog om tred te hou met die vinnig veranderende behoeftes van Suid-Afrikaanse woordeboekgebruikers. ʼn Span toegewyde leksikograwe ontwikkel voortdurend nuwe produkte wat die volle kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse taallandskap weerspieël.

Pharos se woordeboeke is op NB-Uitgewers se webwerf beskikbaar of gebruikers kan op PharosAanlyn registreer om die woordeboekversameling digitaal te gebruik.

PharosAanlyn is ʼn versameling aanlyn algemene en vakwoordeboeke. Dit is ʼn omvattende naslaanbron vir elkeen wat effektief in Afrikaans, Engels en ander tale wil kommunikeer. Dié versameling sluit ʼn wye verskeidenheid tegniese woordeboeke in en word deurlopend aangevul wanneer nuwe titels verskyn.

Gebruikers kan al die PharosAanlyn-woordeboeke vir 14 dae gratis op die proef stel. Daarna word ʼn lidmaatskap vereis om toegang tot die platform te kry. Subskripsies is vir 12 maande geldig vanaf die datum van intekening.

Wil jy dalk meer te wete kom? Volg Pharos woordeboeke/Dictionaries op Facebook vir die jongste publikasies en ander taalbrokkies soos die herkoms van woorde, woord van die week en betekenisverskille.

Taalgoggas en Balbyters
Taalgoggas en Balbyters is ʼn private Facebook-groep met sowat 8 600 lede. Dié groep is vir enigiemand wat in Afrikaans werk of sommer lief is vir die taal.

Die groep moedig Afrikaanssprekers aan om vrae te vra en mekaar van hulp te wees – mits dit met verdraagsaamheid en beleefdheid is.

Hier kan jy aanklop vir gepaste vertalings van Engelse woorde en uitdrukkings, skryfwyse van woorde, en lede laat kopkrap oor nuutskeppings in Afrikaans.

Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) (Foto: VivA Afrikaans/Facebook)

Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA)
Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) is ʼn navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en is ʼn geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk.

VivA bied onder meer die volgende taaldienste en portale aan gebruikers:

  • Taaladviesdiens: Taalnavrae kan per telefoon, webblad, e-pos, Facebook en Twitter aan Sophia Kapp, VivA se taaladviseur, gerig kan word. Klik hier om kontak te maak.
  • Lees-en-luisterbiblioteek: Die tekste word in twee groepe verdeel. Die een groep bevat inhoud vir jong lesers, en die ander een is geskik vir volwasse lesers.
  • Slimfoontoepassing: Die VivA-app is gratis op Google Play Store of Apple App Store Gebruikers kry toegang tot sowat sewe Afrikaanse woordeboeke en woordelyste: die AWS, CTexT® SkryfGoed Tesourus, CTexT® Skryfgoed Woordelys, Kuberwoordeboek, Entrepreneurskapwoordeboek, Voorsetselwoordeboek en Gesegdes.

VivA is gestig deur die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, in samewerking en oorleg met die Noordwes-Universiteit, die Universiteit Stellenbosch en die Nederlandse Taalportaal (onder bestuur van die Meertens Instituut).

Skryf nou in

Een leser staan die kans om ʼn PharosAanlyn-lidmaatskap (vir 12 maande-toegang) te wen en nog twee lesers gaan elk met ʼn eksemplaar van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) wegstap. Al wat jy moet doen is om jou besonderhede in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te vul.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 28 Februarie om 23:45.

Oops! We could not locate your form.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 28 Februarie om 23:45.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind waarna die wenners deur Maroela Media gekontak sal word.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Indien enige van die betrokke persone nie binne 48 uur reageer nie, sal ʼn volgende wenner aangewys word en die oorspronklike wenner sal die prys verbeur.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Lesers wat inskryf moet ʼn Suid-Afrikaanse adres verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.