Wen: Luisterstories wat sintuie prikkel

Argieffoto (Foto: Alireza Attari/Unsplash)

Lekker Luister, ʼn oudioplatform deur Christelle Webb-Joubert en Juanita de Villiers, vier hierdie maand sy eerste bestaansjaar en die inisiatief spog boonop ook met ʼn splinternuwe app wat pas bekendgestel is.

Webb-Joubert is ʼn omroeper en akteur, asook ʼn regisseur en vervaardiger van radioprogramme by RSG, terwyl De Villiers naam gemaak het in verskeie Afrikaanse rolprente soos Somerson en Die Ontwaking. Sy is tans ook te sien as Jana in die kykNET-sepie Getroud met Rugby.

Met boeke wat daagliks teen die televisie en selfoonskerms meeding, is hierdie inisiatief net die regte lokmiddel om kinders aan’t lees te kry.

Die doel van Lekker Luister is om al kinders se sintuie te prikkel met ʼn verskeidenheid karakterstemme, byklanke en musiek, en om vlerke aan hulle verbeeldingswêreld te gee. Daar is avontuur- en fantasieverhale, Bybelverhale en vervolgverhale soos Trix en Patat en Boelie en Loelie wat deur bekendes soos Nadia Beukes, Mandi du Plooy-Baard, Renske Jacobs en Kaz McFadden, vertel word.

“Dit is my passie om prentjies met woorde, musiek en byklanke te skep. Ek hoop ons Lekker Luister-stories gryp kinders (en hulle ouers) se verbeelding aan,” sê Webb-Joubert.

Haar seuntjie is op die outismespektrum en is nie-verbaal. “Hy sal moontlik ook nooit self kan lees nie, so die platform is spesiaal met hom in gedagte geskep,” voeg Webb-Joubert by.

Die Lekker Luister-platform is toeganklik en ouers, grootouers en mense wat met kinders werk, kan die stories met die druk van ʼn knoppie van die webwerf af luister – hetsy in die klaskamer of teen slapenstyd. Dit bied ook die geleentheid vir spesiale, kwaliteittyd om saam na ʼn storie te luister.

De Villiers sê sy het as dogtertjie gereeld smiddae voor die radio ingeskuif.

“My Ma het my altyd herinner om nader te skuif en in daardie tyd het ʼn hele nuwe wêreld in my verbeelding oopgegaan. Ek het na my eie denkbeeldige wêreld ontsnap en dit was die beste 10 minute van my dag,” vertel sy.

Dit is wat De Villiers hoop om met Lekker Luister reg te kry: Om so ʼn verbeeldingswêreld vir ander kinders te laat realiseer.

Webb-Joubert sê verder dat hulle ook met elke storie ʼn waardevolle lewensles wil oordra. “Stories, veral oudiostories, lei tot prentjies wat in die verbeelding gevorm word. Jou bos, kasteel, prinses, heks, seuntjie of dogtertjie mag lyk soos jy wil hê hulle moet lyk.”

Volgens haar is dit veral belangrik omdat daar daagliks vir kinders voorgeskryf word hoe iets moet lyk. Met Lekker Luister kan hierdie skatkis ontsluit word, meen Webb-Joubert.

Hoe dit ook al sy, Lekker Luister bied gelyktydig hope vermaak en ʼn bewusmaking na die waarde van luister, terwyl luisteraars se verbeeldingsvermoë en woordeskat vlerke kry.

Om toegang tot die stories te kry kan jy of maandeliks of jaarliks aansluit. Daar is ook die opsie om ʼn geskenkbewys te koop. Besoek Lekker Luister se webwerf vir meer inligting, of laai die app gratis van die Apple Store of Google Play Store af.

Skryf in

Drie Maroela Media-lesers staan die kans om elk ʼn Lekker Luister-lidmaatskap van een maand te wen. Al wat jy moet doen, is om jou besonderhede in die kompetisievorm hieronder in te vul. Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 12 Mei om 23:45.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die kompetisie sluit 12 Mei om 23:45.
  • Deelnemers moet ouer as 18 jaar wees.
  • Wenners sal deur middel van ʼn trekking aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Die trekking sal direk ná die sluitingsdatum plaasvind, waarna Maroela Media per e-pos met die wenners in verbinding sal tree.
  • Sodra alle wenners gereageer het, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Die pryse kan nie vir kontant omgeruil word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.