Wen met jou nuwe woorde!

Varsgebek

Varsgebek

Hoop jy nog hete kole op iemand se voorhoof, of sit jy eerder iemand in die oë? Het jy ʼn Afrikaanse ekwivalent vir “dab” (as ʼn fietsryer met sy/haar voet aan die grond raak; iets wat bergfietsryers vermy), ʼn “bae” (before anyone else), of “YOLO” (You only live once)?

Varsgebek is ʼn splinternuwe kompetisie wat alle sprekers van Afrikaans die geleentheid bied om nuutskeppings, vars uitdrukkings of nuwe idiome in te stuur en daarmee lekker pryse los te slaan.

Afrikaans is ʼn polsende, lewenskragtige taal met ʼn enorme reikwydte, maar soos enige ander lewende taal, is daar uitdrukkings en woorde wat in die volksmond bestaan wat nie in woordeboeke opgeteken word nie. Daarbenewens het ons vaktaal nodig wat met ons geïndustrialiseerde en gedigitaliseerde wêreld moet tred hou.

Taalgebruikers het met Varsgebek die geleentheid om sulke nuwe woorde, vakterme, uitdrukkings, idiome of streektaal wat nog nie in woordeboeke of ander taalbronne opgeteken is nie, by Varsgebek in te skryf. ʼn Paneel kundiges sal elke maand die inskrywings beoordeel en ʼn weninskrywing aanwys.

Die wins vir die taal is dat al die inskrywings aan leksikograwe voorgelê word vir moontlike opname in woordeboeke en databasisse – en so bewaar ons ʼn erfenis vir die hele taalgemeenskap.

Daar is twee kategorieë waarvoor deelnemers kan inskryf. In die Sêgoed-kategorie kan enige talige skepping wat nuut, vars of onbekend is, ingeskryf word. Daar is elke maand ʼn wenner en aan die einde van die jaar word Varsgebek se algehele wenner aangekondig. Daarvoor is daar ook ʼn gewigtige prys op die spel.

Daar is nog ʼn kategorie, Kykgoed, waar grafiese voorstellings van bestaande of nuwe woorde en idiome ingestuur kan word. Dit kan ʼn prent, foto, grafiese ontwerp, illustrasie, video of animasievideo wees, solank dit ʼn eg Afrikaanse woord of uitdrukking uitbeeld. Enigiemand kan deelneem, maar ʼn graad 11- of 12-leerder kan ʼn studiebeurs van R150 000 in hierdie kategorie wen. Skole en leerders word dus veral aangemoedig om hiervoor in te skryf.

Inskrywings vind plaas op http://varsgebek.org. Die kompetisie duur van 1 Junie tot 30 November 2016, met maandelikse pryswenners in elk van die kategorieë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

K ·

Ek is baie veiligheidsbewus en nou vra hulle vir my my wagwoord op Varsgebek
nie eers my eie huismense ken dit nie. Maroela verskaf asb `n pos adres. Dankie

Suné van Heerden ·

Dagsê K

Daar is ongelukkig nie ‘n posadres waar jy kan inskryf nie.
Jy kan ‘n wagwoord opstel wat jy slegs vir Varsgebek (VivA-Afrikaans) gebruik, dit hoef nie dieselfde te wees as enige ander wagwoord wat jy gebruik nie. Jy moet jou eie profiel skep voor jy kan deelneem, en daar kan jy self jou eie wagwoord kies: http://www.viva-afrikaans.org/user-registration

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Maria van Dieweeck ·

ons moet meer kompetisies en samekomste he vir Afrikaans Sommer ook met sulke oulike pryse vir ons kinders

Dries Laas ·

Ek het twee goete om in te stuur:

1.Moet net nie *MANDIEKIES kry nie .Wanneer iemand heftig reageer of ontsteld is
het my skoonpa die persoon gemaan deur die woord mandiekies te gebruik.

2 As iemand jou verkeerd opvryf dan trek hy of sy die *VERKEERDE leisel

W. Caudron ·

Oorsprong woord BAKGAT.
Dr. Anton F. Prinsloo dink die, woord “bakgat” het iets te make met mond en kaak. Maar ek het dalk een beter verklaring. Ek het die woord bakgat eers gehoor in die jaar 1952 in een klein dorpie naby Brugge (wes vlaanderen).
Die ou boeremense van daardie streke het in die kroeë ‘n bakspel gespeel. Hulle het met een “stuiwer” (metale skyfie) naar een tafel gegooi met een klein ronde gat daarin. Die doel was om die stuiwer in die gat te laat beland waar die stuiwer dan in een bak geval het. Omdat baie van die spelers en toeskouers een entjie van die tafel gestaan het, het iemand wat meer naby die bak was “bakgat” geroep as iemand suksesvol was.
Die spel kan ook gespeel word met spanne, waar ‘n maat jou stuiwer een duw in die regte rigting kan gee (dink aan rolbal en jukskei).
Die seemanne wat naar S. A. gekom het, was meesal van die kusstreke van holland en vlaanderen. Die mense het in en rond die hawekroeë rondgehang tot hulle aangewerf is.
Die moontlikheid is dus groot dat die seemanne die woord saamgebring het.
Bakgat is dus baie gooed. v.b. “Bakgat, ek het ‘n jop gekry!!”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.