Wenners vir RSG Radiodrama-skryfkompetisie bekendgemaak

Die dramaturg Charles J. Fourie het vanjaar die eerste prys vir sy radiodrama, Vergifnis, gewen. Foto: Verskaf

Die dramaturg Charles J. Fourie het vanjaar die eerste prys vir sy radiodrama, Vergifnis, gewen. Foto: Verskaf

Die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie het vanjaar meer as 130 nuwe radiodrama-inskrywings gehad, sê Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur vir drama.

Vanjaar het die dramaturg Charles J. Fourie se boeiende radiodrama, Vergifnis, dié gesogte radiodrama-skryfkompetisie vir 2015 gewen. Dié drama handel oor ʼn bejaarde, rolstoel-gekluisterde vrou wat ʼn protesoptog van Touwsrivier na die parlement in Kaapstad lei om bewustheid te skep van die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jongmense.

Fourie het al voorheen groot sukses behaal met, onder meer Offer, ʼn vorige radiodrama wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is.

Ander skrywers het ook erkenning gekry. Marita van der Vyver se radiodrama, Genade, is gekies as die tweedebeste radiodrama. Dié drama is ’n hartroerende verhaal wat die luisteraar op ’n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte neem.

Die nag van die wyses deur Zenobia Kock, wat as derdebeste aangewys is, is ’n “pragtige, poëtiese teks”. Dit is ’n Kersverhaal met heelwat kinkels en onthullings en hou die luisteraar se aandag met lieflike karakters en lekker dialoog.

Kock is bekend vir sy boeke Die mense wat so rou is, asook Die kruppel engel.

Erica Harris (21) het in die kategorie vir skrywers jonger as 30 jaar met haar debuut-radiodrama, Die eksentriekes, ook ʼn prys ontvang. Harris se radiodrama is gevul met interessante karakters en goed geskrewe dialoog.

Luisteraars kan verwag om na die dramas op die radio te luister van April 2016 op RSG (100 tot 104 fm). RSG se radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 se handleiding sal teen middel-Desember op die webblad beskikbaar wees. Inskrywings vir die kompetisie sluit 30 Junie 2016.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.