Wie is wie by die BoekeJol

BoekeJol-02

Foto: Atterburytrust.org

Organiseerder Dia van Staden het ’n reusetaak vermag met al die talent wat sy vir vandeesweek se BoekeJol en FilmRolfees aangetree het. Die Atterbury Trust het met Dia gesels om uit te vind waarna feesgangers kan uitsien:

Dia, die tyd het aangebreek! Noem ’n paar van die hoogtepunte waarna jy persoonlik uitsien?

Ek is bly jy sê ’n paar, want daar is baie. Elke aand se geleentheid by die Atterbury-teater gaan spesiaal wees. Die kuieroggend op 27 Augustus saam met 35 skrywers gaan nog ’n hoogtepunt wees. Ek het soveel respek vir elke skrywer wat bereid is om hulself onder ’n vergrootglas te plaas voor ’n kritiese publiek. Die aktuele gesprekke is lekker uiteenlopend en behoort tot ’n wye verskeidenheid mense te spreek.

Hoe het jy op die deelnemers besluit?

Die onderskeie uitgewers was van groot hulp met die keuse van skrywers. Dit is uiteraard belangrik dat die nuutste boeke op elkeen se rak bekendgestel word. Wat die musikante betref, was dit my voorreg om my gunstelinge te kies. Die skrywers in ons land is ’n wonderlike spesie mens en ek sou almal daar wou hê as daar plek en tyd was.

Hoeveel skrywers en hoeveel filmmense kan die feesgangers verwag om teë te kom?

Ons het 50 skrywers, 10 bekende persoonlikhede en twee filmrolspelers by die fees dié week!

Hoe het jy besluit op die balans tussen boeke en films?

Ek gee babatreë met die films, aangesien ons oorvleuel met die Silwerskerm Filmfees in die Kaap. Ons boet egter nie gehalte in nie. Free State is splinternuut en ons kry die eerste geleentheid om ’n voorskou hiervan te vertoon. Kom luister na ’n pragtige klankbaan! Na afloop van die voorskou sal Piet de Jager en Rafiq Jajhbay met die gehoor gesels oor hoe ’n konsep tot ’n film verwerk kan word. En Vrydag wys ons die klassieke Stuur groete aan Mannetjies Roux. Dit is ’n goue oue wat die taal en sy kultuur vereer.

’n Keur van die skrywers en boeke wat op die fees te sien sal wees:

Die voormalige joernalis en radio-aanbieder Karien Basson stel haar vyfde boek, ’n Boodskap van Hoop, bekend ten tyde van die BoekeJol. Behalwe haar ander hoede is pastoorsvrou Karien ook ’n gekwalifiseerde Transformation Coach, NLP Life Coach, NLP Practitioner en Negative Emotional Therapy™ Practitioner en sy is ’n motiveringspreker en blogger!

Die bekende entrepreneur en geldkenner Hein Kruger verduidelik in maklike geselstrant in sy splinternuwe boek, Jou Geldsake, hoe jy jou geldsake kan regruk en bestuur. Met sy raad kan enigiemand ontslae kan raak van skuld, reg begroot, hul besteding beheer en hul geld ten beste belê. Jou Geldsake word ook by die BoekeJol bekendgestel.

Huisgenoot-joernalis Dana Snyman is ’n bekroonde skrywer met ’n rits topverkopers agter sy naam. Sy nuutste boek, In die Bloukamp, gaan oor sy ware ontmoetings met mense en soms ook dinge en is oorspronklik op sy Facebook-blad gepubliseer. Hy kom bespreek die boek Donderdag by BoekeJol.

Carla van der Spuy is ook ’n gevestigde joernalis wie se werk in talle prominente tydskrifte en koerante verskyn. Haar nuwe boek, wat sy op die BoekeJol kom bespreek, is gebaseer op die stories van ’n aantal vroulike moordenaars, met wie sy in die gevangenis onderhoude gevoer het. Sy kom Donderdag by BoekeJol gesels oor Bloed op Haar Hande.

  • Die BoekeJol en FilmRolfees vind van 26 tot 29 Augustus in Pretoria plaas. Vir meer inligting oor die fees, en die volledige program, sien besoek BoekeJol se webwerf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.