Wil jy ook graag skryf?

Leer om self te skryf! (Foto: Unsplash)

Om woorde op papier te sit, kan ʼn uitdagende taak vir enige ontluikende skrywer wees. Gelukkig hoef jy nie net op ingebore talent staat te maak nie – daar is ʼn paar wenke wat jy kan volg om jou skryfwerk so suksesvol moontlik aan te pak.

Maroela Media het by prof. Hans du Plessis, bekende navorser, akademikus, digter, dramaturg, rubriekskrywer, romanskrywer en skrywer van jeugfiksie, gaan kers opsteek vir ʼn paar nuttige skryfwenke.

  1. Wil jy ook graag skryf? Dan moet jy lees! Nie net een boek nie, want een boek se beïnvloeding op jou eie skryfwerk noem ons plagiaat; baie boeke se invloed is inspirasie en intertekstualiteit.
  2. Lees en ken jou genre: as jy wil dig, lees elke dag ten minste een gedig; as jy speurverhale wil skryf, lees elke week ʼn speurverhaal; as jy vir die Romanza‑klub wil skryf, lees alles wat na liefde lyk, en as jy literêr wil skryf, lees alles, van die Bybel tot by Buys, van “comics tot Camus”, het Etienne Leroux altyd gesê.
  3. Hou net op om te wil skryf, gaan sit tog net en doen dit! Die res kom vanself.
  4. Fokus! Elke boek het ʼn ruggraat en alles in jou storie of versie of drama of draaiboek moet aan die ruggraat vas wees.
  5. Skryf is ʼn alleenwerk omdat net jy wat skrywer is, sal moet instaan vir die eindproduk.
  6. Om ʼn boek te skryf, is ʼn proses, nie ʼn gebeurtenis nie. Ek weet van ten minste vyf fases in dié proses: die idee wat jou dryf om te skryf, moet iets sinvol wil oordra, want om te skryf, is om iets te sê te hê. Jy as skrywer moet dan in ernstige gesprek met die idee tree. Beplan die skryfsel vir jouself, op papier of in jou kop, ruweg. Dan gaan sit jy en jy skryf! Tot hiertoe is dit net jy en jouself, want die skepping is net joune. Moenie eers daaroor praat nie, met niemand nie – dink net en skryf net. Jy is ʼn skrywer, nie ʼn prater nie. As jou poging eers in die rekenaar gebêre is, mag jy, móét jy, met iemand daaroor praat, want die groot werk het nou eers begin: om te skryf, is om oor te skryf. Die slim mense noem dit redigering. So maak jy van jou poging ʼn manuskrip. Uitgewers gee nie pogings uit nie, hulle publiseer manuskripte wat hulle kan verkoop.
  7. Niemand, maar niemand, kan uit haar of sy kop uit redigeer nie! Dit is waarvoor die Afrikaanse woordelys en spelreëls, goeie woordeboeke, speltoetsers, taalversorgers en redakteurs daar is. Ek ken niemand wat alles kan spel nie; niemand weet álles van Afrikaans af nie.
  8. Wat redigeer ʼn mens? Natuurlik in die eerste plek die instrument waarmee jy skep: die taal! Verder bepaal die genre die elemente waarmee jy skep en dit moet geredigeer word. As jy dig, is dit beelding, metrum, rym, ritme en weer beelding. Skryf jy prosa, kyk jy weer en weer en weer na jou intrige, jou karakters, tyd en plek. In ʼn roman moet daar altyd iets iewers met iemand op een of ander tydstip gebeur. O ja, en amper vergeet ek: om vir kinders te skryf is dieselfde as om vir grootmense te skryf – dis net baie moeiliker!
  9. Nou kan jy jou manuskrip aan die regte uitgewer voorlê om gepubliseer te word. En as jy nie wil publiseer nie, vir wat skryf jy dan? Sing dit sommer, dis makliker …
  10. Kies die regte uitgewer, die een wat uitgee wat jy skryf – en daar is net een manier om dit uit te vind: Lees – nee, twee maniere: lees en lees nog!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.