Winterskool 2018: Hier is die kategoriewenners

Argieffoto (Foto: vborodinova, Pixabay)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media kondig met genoeë aan dat die volgende inskrywers as wenners aangewys is van die Winterskool 2018-skryfkompetisie:

Verhale: Lydia Gittens met “Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met “Katie se Koppie
Gedigte: Olga Leonard met “Erf” (ook met inagneming van “Kanker” en “Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte”)

As wenprys word elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018 (4-8 Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom). Daarby dek Maroela Media die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk.

Oor Lydia Gittens se verhaal “Dooie honde byt nie” skryf die beoordelaar onder andere soos volg: “Die skrywer slaag daarin om die leser reg van die eerste bladsy af te boei. Gittens wek simpatie vir die hoofkarakter, al wens jy jy kan die hoofkarakter waarsku om nie die grootste probleem in haar lewe letterlik uit die weg te probeer ruim op die wyse wat sy beplan nie. ’n Vinnige trant sonder oormatige gebruik van byvoeglike naamwoorde of onnodige lang beskrywings laat die verhaal enduit vloei. Tot by die verrassende slot, wat die leser nog lank laat nadink.”

“Katie se Koppie” van Sarie Marais-Nell is volgens die rubriekkategorie-beoordelaar ’n stuk wat jou aan die hart gryp. Die goeie skryfstyl staan uit. “Marais-Nell lewer ’n goeie koerant- of vrouetydskrifrubriek. Sy lug ʼn mening én vertel ʼn storie.”

Volgens die gedigtekategorie-beoordelaar was dit uitdagend om ’n wennerskeuse onder ’n hele handvol inskrywings van baie verdienstelike gehalte te maak. Uiteindelik is op Olga Leonard se inskrywing besluit, en wel met inagneming van die kombinasie van minstens die genoemde drie van haar gedigte. “Hulle demonstreer die stylverskeidenheid waartoe sy as digter in staat blyk te wees. Elk van die drie genoemde gedigte beïndruk op betreklik eiesoortige wyse met hul afwerking en emosionele trefkrag.”

Winterskool 2018

Inskrywings vir Winterskool 2018 sluit op 18 Mei. Belangstellendes kan met Kobie van Aswegen in aanraking kom: [email protected] of telefonies by 018 299 1783.

Die Winterskool vir opkomende fiksieskrywers word van Maandag 4 Junie tot Vrydag 8 Junie 2018 aangebied. Bekende en bekroonde skrywers en digters, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale, gedigte en rubrieke staan in 2018 in die kollig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.