Winterskool 2019: Hier is die kategoriewenners

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media kondig met genoeë aan dat die volgende inskrywers as wenners aangewys is van die Winterskool 2019-skryfkompetisie:

Verhale: Natie Engelbrecht met “As die blou verdwyn”
Eenbedrywe: Naomi Malan met “Brood”
Gedigte: Zerelda Esterhuizen met “Kinderverse”

As wenprys word elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2019 (3 – 7 Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom). Daarby dek Maroela Media die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk.

Volgens Sophia Kapp, beoordelaar van die verhaalinskrywings, was daar etlike stukke skryfwerk van hoogstaande gehalte in hierdie kategorie. Oor Natie Engelbrecht en sy wenverhaal, “As die blou verdwyn”, skryf sy: “Wat ʼn talentvolle skrywer! Die taalgebruik is magies mooi, liries en meesleurend. Die verhaal is fyn-fyn geslyp, met soveel aandag aan beelde en besonderhede dat ek my telkens langs die see, in die kar op pad Kuruman toe, in Bloemfontein, langs die N1 bevind het. Die seer en die leed was tasbaar werklik, die verteller se emosionele betrokkenheid by die verlies so goed verwoord en vertel dat ek saam met hom wou treur.”

Harry Kalmer, wat in die eenbedryfkategorie as beoordelaar opgetree het, oordeel dat Naomi Malan se “Brood” duidelik bo die ander inskrywings uitgestyg het. Die teks wat sy ingedien het, getuig van ’n insig in teaterkonvensies en van harde werk. Malan wend ook dinge soos simboliek en spanning aan – elemente wat altyd help om ’n gehoor te boei. Plek-plek getuig die teks ook van ’n insig in die teaterwêreld en van wat daarmee saamgaan.

Die gedigtebeoordelaar, Louis Esterhuizen, vertel dat heelparty inskrywings in hierdie kategorie van versvernuf getuig. Zerelda Esterhuizen se kwatryn-drieluik, “Kinderverse”, vertoon egter die fynste aanvoeling ten opsigte van versifikasie. In die eerste kwatryne word die realiteit van ’n kleurlose kindertyd beeldend – en ook met iets soos die benutting van gebroke rym – oortuigend gekontrasteer met die versugting na die kleurryke en avontuurlike. In die derde gedigdeel word ʼn mate van hoop in die volwassewordingsproses verwoord. Die spreker se vermoë om bo eie omstandighede uit te styg, word effektief binne die konteks van poëtiese segging hanteer.

Winterskool 2019

Inskrywings vir Winterskool 2019 sluit op 20 Mei. Belangstellendes kan met Kobie van Aswegen in aanraking kom: stuur ʼn e-pos aan [email protected] of skakel 018 299 1783.

Die Winterskool vir opkomende fiksieskrywers word van Maandag 3 Junie tot Vrydag 7 Junie 2019 aangebied. Bekende skrywers, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale, gedigte en toneelstukke staan in 2019 in die kollig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.