Winterskool met skryfkompetisie vir opkomende skrywers

Argieffoto (Foto: Victoria_Borodinova/Pixabay)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit bied van Maandag 1 Junie tot Vrydag 5 Junie 2020 ’n Winterskool vir opkomende fiksieskrywers aan.

Bekende skrywers, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op. Die skryf van verhale, gedigte en kinder- en jeugboeke staan in 2020 in die kollig. Die werkswinkels in die drie skryfgenres word gelei deur Ingrid Winterbach (verhaalkuns), Bernard Odendaal en Lynthia Julius (digkuns) en Franci Greyling en Fanie Viljoen (kinder- en jeugboeke) – almal ervare, meestal ook bekroonde skrywers.

Hierdie vyfdaggeleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat verhale, gedigte of kinder- en jeugverhale wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R3 500 per persoon. Dié bedrag dek kursusgeld, asook kostes vir verversings gedurende oggend- en middagteepouses, ’n openingsonthaal op Maandagaand 1 Junie en ’n afsluitingsfunksie op Donderdagaand 4 Junie.

Inligting oor ’n beperkte hoeveelheid verblyfplekke langs die Potchefstroomkampus van die NWU is beskikbaar. Skakel mev. Kobie van Aswegen by [email protected] (tel. 018 299 1783) vir meer besonderhede.

WEN

Die ATKV-Skryfskool bied, in samewerking met Maroela Media, vanjaar ook ’n kompetisie vir skryfwerk in die genoemde genres aan. Die wenner in elk van die kategorieë (vir ’n kortverhaal, ’n gedig of ’n kort kinder- of jeugverhaal) sal die Winterskool gratis kan bywoon (met verblyf geborg deur Maroela Media). Vir meer inligting hieroor, skakel met mev. Kobie van Aswegen. Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings: 6 April 2020.

Kom put uit die ervaringskat van bekroondes by dié Winterskool – vir ’n wegspring op jou skrywerspad soos min!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.