Winterskool vir opkomende fiksieskrywers uitgestel

Argieffoto (Foto: vborodinova, Pixabay)

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit wat van Maandag 1 Junie tot Vrydag 5 Junie 2020 aangebied sou word, is tot verdere kennisgewing uitgestel weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

Bekende skrywers, toonaangewende uitgewers van Afrikaanse fiksie en personeel van die ATKV-Skryfskool tree tydens só Winterskool as sprekers, werkswinkelaanbieders en groepsessieleiers op.

“Onsekerheid of die gesondheidsgevare teen Juniemaand al sal gewyk het, asook of die Noordwes-Universiteit, gastehuise, lugrederye en ander instellings teen daardie tyd normale bedrywighede hervat sal hê, noop ons om Winterskool 2020 liefs uit te stel tot verdere kennisgewing,” het Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool, in ʼn verklaring gesê. “Indien toestande oor enkele maande sodanig verbeter dat ons wel die aanbieding van die Winterskool later vanjaar kan oorweeg, sal opnuut met betrokkenes geskakel word.”

Die skryf van verhale, gedigte en kinder- en jeugboeke staan in 2020 in die kollig. Die werkswinkels in die drie skryfgenres word gelei deur Ingrid Winterbach (verhaalkuns), Bernard Odendaal en Lynthia Julius (digkuns) en Franci Greyling en Fanie Viljoen (kinder- en jeugboeke) – almal ervare, meestal ook bekroonde skrywers.

Hierdie vyfdaggeleentheid is ’n praktiese slypskool vir enigiemand wat verhale, gedigte of kinder- en jeugverhale wil skryf. Dit word aangebied op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit en die inskrywingsgeld beloop R3 500 per persoon. Dié bedrag dek kursusgeld, asook kostes vir verversings gedurende oggend- en middagteepouses, ’n openingsonthaal en ’n afsluitingsfunksie.

Skakel mev. Kobie van Aswegen by [email protected] (tel. 018 299 1783) vir meer besonderhede. 

WEN

Die sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings is ook onbepaald uitgestel. Dit sal bekend gemaak word sodra die datum van die Winterskool bepaal is.

Die ATKV-Skryfskool bied, in samewerking met Maroela Media, vanjaar ook ’n kompetisie vir skryfwerk in die genoemde genres aan. Die wenner in elk van die kategorieë (vir ’n kortverhaal, ’n gedig of ’n kort kinder- of jeugverhaal) sal die Winterskool gratis kan bywoon (met verblyf geborg deur Maroela Media). Vir meer inligting hieroor, skakel met Kobie van Aswegen.

Kom put uit die ervaringskat van bekroondes by dié Winterskool – vir ’n wegspring op jou skrywerspad soos min!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.