Winterskool weer met trots in 2017 aangebied

skryfskool

Foto: Pixabay.com

Net mooi 32 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – soos verlede jaar egter met ’n Winterskool.

Talle gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 5 tot 9 Junie 2017 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan al wat opkomende woordsmid is.

Opwindende, bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, kinder- en jeugverhaalkuns en gedigte: Lien Botha, Simon Bruinders, Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Cecilia Steyn, Martin Steyn en Bibi Slippers.

Die hartklop van die Winterskool is die werksessies waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Franci Greyling (kinder- en jeugverhale), Heilna du Plooy (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) sal die leiding by die drie slypskoolgroepe neem.

’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal haal by die manuskripkeurders. In 2017 kom maak verteenwoordigers van die Afrikaanse hoofstroomuitgewers weer ’n draai by die Winterskool.

Stel jy belang om die Winterskool 2017 by te woon? Om meer te verneem oor die skryfkompetisie waardeur drie gelukkiges gratis bywoning van die Winterskool kan wen? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool vir meer inligting: [email protected]; tel. 018 299 1783. Skakel met Bernard Odendaal, direkteur van die ATKV-Skryfskool, vir onderhoude: [email protected]; tel. 018 299 1782.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.