Winterskool-wenner (gedig): Erf

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2018-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Lydia Gittens met Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met Katie se koppie
Gedigte: Olga Leonard met Erf (ook met inagneming van Kanker en Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte)

As wenprys word elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018 (4-8 Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom). Daarby dek Maroela Media die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk.

Volgens die gedigtekategorie-beoordelaar was dit uitdagend om ’n wennerskeuse onder ’n hele handvol inskrywings van baie verdienstelike gehalte te maak. Uiteindelik is op Olga Leonard se inskrywing besluit, en wel met inagneming van die kombinasie van minstens die genoemde drie van haar gedigte. “Hulle demonstreer die stylverskeidenheid waartoe sy as digter in staat blyk te wees. Elk van die drie genoemde gedigte beïndruk op betreklik eiesoortige wyse met hul afwerking en emosionele trefkrag.”

Hier volg die eerste weergawe van haar gedig. Sy gaan verder daaraan werk tydens die Winterskool en ʼn finale weergawe sal dan weer hier op Maroela Media gepubliseer word.

Die gedig word sonder enige teksversorging op Maroela Media gepubliseer. – Red

Argieffoto (Foto; rawpixel, Pixabay)

Erf
Deur Olga Leonard

in kaapstad arriveer ’n besending erfgoed:
1 skildery,
haar naam,
1 klavier,
haar faam,
1 boks silwerware,
en haar vroeggrys hare
blink reeds op my kop
haar vel lê blas oor my hande getrek
ek verpak die fyn porselein
en die kort humeur
in die onderste laai
(haar trapleer het nie saamgekom nie)

sy omsingel my,
betrek my –
as my erflating
in ’n afgedeelde huis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.