Winterskool-wenner (rubriek): Katie se koppie

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2018-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Lydia Gittens met Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met Katie se koppie
Gedigte: Olga Leonard met Erf (ook met inagneming van Kanker en Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte)

As wenprys is elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018, wat in Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom aangebied is. Maroela Media het ook die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk gedek.

Die drie wenners het ook die geleentheid gehad om, tydens die Winterskool, aan verder aan hul tekste te werk en dit te skaaf tot ʼn finale produk uiteindelik hier op Maroela Media gepubliseer kan word.

Hiermee die finale weergawe van Sarie Marais-Nell se rubriek:

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Katie se koppie

Katie was ons armoede-maat. As resultaat van haar maatskaplike erfenis, kon sy nooit mense in die oë kyk nie.

Saam met haar brandmaer enkel-ma – die pa was nooit in die prentjie nie – en die piepklein huisie aan die verkeerde kant van die dorp, het Katie se klere-met-die-klankie, haar vloekwoorde en die jaarlikse gebarste wintersvingers kleintyd al vertel hier skort iets.

Ek onthou haar oë die beste; immer smekend en soekend. Asof sy gewag het vir ’n redder wat nooit opdaag nie; oë wat deur die jare nooit verander het nie.

Ons, haar klasmaats, het die andersheid kinderlik aanvaar. Ons verwysingsraamwerk was bloot dat Katie arm was. Baie arm.

Skindertonge het soms laat val dat haar klere via die maatskaplike werker kom. En dat Katie se ma drink.

In matriek was ons sku om te vra oor haar lewensplanne – te bang die vrae beklemtoon die groot gaping tussen ons onderskeie vooruitsigte. Op die laaste skooldag het sy egter vir ons elkeen ’n presentjie uitgedeel – tot ons skaamte. Want Katie het in haar eenvoud gewys sy dink aan ons.

Die geskenk wat ek gekry het, was ’n gehawende blommetjie-koppie met geelbruin, getjipte rande. In die dae voordat terme soos rustic, vintage en boere-sjiek beskrywend van mode-items geraak het, was dié geskenk vir my jeugdige ydelheid ’n groot probleem.

Saamgaan universiteit toe op Stellenbosch kon die koppie nie – wat sal die nuwe kamermaat van my dink? Weggooi? Miskien oor tien jaar; nie dadelik nie. Gebruik? Ag nee, sies.

My ma was prakties: Bêre dit in jou kas vir sleutels of spaarmunte. Onsigbaar, maar bruikbaar. En so is Katie toe wel saam Stellenbosch toe.

In my derdejaar verdwyn Katie se koppie. Daar wás ’n sluipende kleptomaan in ons koshuis, maar ek kon nooit verstaan waarom iemand hierdie eerlose koppie wou steel nie. Die inhoud was niks wat wonders nie: bruin munte, ’n ou fliekkaartjie, pepermente.

Eers toe het ek besef Katie se koppie het my onbewustelik herinner aan watter voorreg die belewing van elke veeg helder bergblou, elke immergroen Stellenbosch-dag is. Haar koppie het iets soos ’n ode bevat – wat ek moes drink op diegene wat dit nooit sal smaak nie.

Die huidige era van studente-onrus en -eise laat my dikwels terugdink aan my Matiedae. Studentwees het my geleer hoeveel wyer die lewensvisie is wat ’n mens ontwikkel sodra jy verby jou voorstoep begin leef; en dat alle voorregte verantwoordelikhede inhou.

Die grootste uitdaging vir verantwoordelike optrede het jaarliks in lentetyd voor my studentwees kom staan: die maande wanneer die nabygeleë Strand se wasemblou branders heeldag in my agterkop kom speel het; toe deursigtige groen blaartjies en spelende vinke in die akkerboom voor my kamervenster veel boeiender geraak het as handboeke; toe draf en fikswees saans skielik groter prioriteit geword het as voorbereiding vir die naderende eksamens.

Ek moes agterna hard werk om my studielening rand vir rand af te betaal. Terwyl tydgenote hul bonusse op luukses soos strandvakansies en nuwe meubels kon spandeer, moes alle ekstras vyf jaar lank studieleningsrekening toe.

Deesdae, lyk dit my, is daar min mense wat nog self afbetaal aan die voorreg om graadkry met ʼn glimlag klaar te kry.

Katie se wakende tjiprandkoppie in my studentekas word, vreemdweg, weerspieël in die streng wagte by lokaaldeure wat deesdae moet probeer verseker dat studente op die beplande eerste datum eksamen kan skryf – dat betogers nie die verrigtinge ontwrig nie. Sodanig dat ek opnuut besef: Wat die lewe bied, is ’n kwessie van perspektief – van hoe jy dit sien deur die bril wat jy op het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

TDW ·

Baie geluk aan die wenners, ek is dankbaar dat ons sulke goeie skrywers het! Goeie rubriek Sarie. Dankie MM en ATKV vir hierdie geleenthede waar die agter-die-toe-deur skrywers hul talente kan vervolmaak en hul stories die wêreld in kan stuur. Trots.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.