Winterskool-wenner (rubriek): Katie se koppie

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2018-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Lydia Gittens met Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met Katie se koppie
Gedigte: Olga Leonard met Erf (ook met inagneming van Kanker en Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte)

As wenprys word elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018 (4-8 Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom). Daarby dek Maroela Media die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk.

Katie se koppie van Sarie Marais-Nell is volgens die rubriekkategorie-beoordelaar ’n stuk wat jou aan die hart gryp. Die goeie skryfstyl staan uit. “Marais-Nell lewer ’n goeie koerant- of vrouetydskrifrubriek. Sy lug ʼn mening én vertel ʼn storie.”

Hier volg die eerste weergawe van haar rubriek. Sy gaan verder daaraan werk tydens die Winterskool en ʼn finale weergawe sal dan weer hier op Maroela Media gepubliseer word.

Die stuk word sonder enige teksversorging op Maroela Media gepubliseer. – Red

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Katie se koppie
Deur Sarie Marais-Nell

Katie was ons armoede-maat. As resultaat van haar maatskaplike erfenis, kon sy nooit mense in die oë kyk nie.

Saam met haar brandmaer enkel-ma – die pa was nooit in die prentjie nie – en die piepklein huisie aan die gatkant van die dorp, het Katie se klere-met-die-reukie, haar vloekwoorde en die jaarlikse gebarste wintersvingers, kleintyd al vertel hier skort iets.

Ek onthou haar oë die beste; immer smekend en soekend. Asof sy gewag het vir ʼn redder wat nooit opdaag nie; oë wat deur die jare nooit verander het nie.

Ons, haar klasmaats, het die andersheid kinderlik aanvaar. Ons het geleef in ʼn era toe wit en bruin apart skoolgegaan het, en ons verwysingsraamwerk was bloot dat Katie arm was. Baie arm.

Skindertonge het soms laat val dat haar klere via die maatskaplike werker kom. En dat Katie se ma drink.

In matriek was ons sku om te vra oor haar lewensplanne – te bang die vrae beklemtoon die groot gaping tussen ons vooruitsigte. Op die laaste skooldag het sy egter vir ons elkeen ʼn presentjie uitgehaal – tot ons skaamte. Want Katie het in haar eenvoud gewys sy dink aan ons.

My geskenk was ʼn gehawende blommetjie-koppie met geelbruin, gechipte rante. In die dae voordat terme soos rustic, vintage en boere-sjiek mode-items was, was dié geskenk my jeugdige ydelheid se grootste probleem.

Saamgaan Stellenbosch toe kon die koppie nie – wat sal die nuwe kamermaat van my dink? Weggooi – miskien oor tien jaar, nie nou nie. Gebruik? Ag nee sies.

My ma was prakties: Bêre dit in jou kas vir sleutels of spaarmunte. Onsigbaar, maar bruikbaar. En so is Katie saam Stellenbosch toe.

Student-wees het my grense en my visie verbreed, my geleer van spaarsaam leef, voorregte te ontvang – en dit baie te waardeer.

Toe, in my derde jaar, verdwyn Katie se koppie. Ek kon nooit verstaan waarom iemand dié onaansienlike koppie wou steel nie. Die inhoud was niks wat wonders nie … bruin munte, ‘n ou fliekkaartjie, pepermente.

Eers toe het ek besef dié eerlose koppie het my onbewustelik herinner watter voorreg elke helder bergblou, immergroen studente-dag op Stellenbosch is; ‘n ode aan diegene wat dit nooit kan smaak nie.

Die huidige studente-onrus laat my onthou hoe swaar ek moes werk om my studielening rand-vir-rand af te betaal. Terwyl vriendinne hul bonusse op luukses soos strand-vakansies en nuwe meubels kon spandeer, moes alle ekstras ses jaar lank my lening terugbetaal.

En waar studente verlede jaar nog eksamen gevrees en verafsku het, het dit skielik ʼn voorreg geraak.

Okergeel gechipte koppie-rante se kontras met sorgvrye studente-dae, of die stres en oorhoopsheid van eksamentye teenoor rekenskap gee met wagte voor die lokaal … in hierdie lewe is dit alles ʼn kwessie van perspektief, van die bril wat jy opsit wanneer jy daarna kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ebz ·

Pragtige storie. Ek onthou as kind het ons ook mense geklasifiseer as “baie arm”, vir geen rede eintlik nie, hulle was maar net anders as ons gewees. Of hulle werklik “arm” was sou ek nooit weetnie – ek het my nooit met hulle gemeng nie. Ek skaam my vandag vir my snobistiese optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.