Winterskool-wenner (verhaal): Dooie honde byt nie

Die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit en Maroela Media het onlangs die wenners aangewys van die Winterskool 2018-skryfkompetisie.

Die wenners was:
Verhale: Lydia Gittens met Dooie honde byt nie
Rubrieke: Sarie Marais-Nell met Katie se koppie
Gedigte: Olga Leonard met Erf (ook met inagneming van Kanker en Slaapliedjie vir ’n stilgeboorte)

As wenprys word elk van die kategoriewenners kwytgeskeld van die inskrywingsfooi vir die ATKV-Skryfskool se Winterskool 2018 (4-8 Junie aan die NWU-kampus te Potchefstroom). Daarby dek Maroela Media die wenners se verblyfkoste vir die kursustydperk.

Oor Lydia Gittens se verhaal “Dooie honde byt nie” skryf die beoordelaar onder andere soos volg: “Die skrywer slaag daarin om die leser reg van die eerste bladsy af te boei. Gittens wek simpatie vir die hoofkarakter, al wens jy jy kan die hoofkarakter waarsku om nie die grootste probleem in haar lewe letterlik uit die weg te probeer ruim op die wyse wat sy beplan nie. ’n Vinnige trant sonder oormatige gebruik van byvoeglike naamwoorde of onnodige lang beskrywings laat die verhaal enduit vloei. Tot by die verrassende slot, wat die leser nog lank laat nadink.”

Hier volg die eerste weergawe van haar verhaal. Sy gaan verder daaraan werk tydens die Winterskool en ʼn finale weergawe sal dan weer hier op Maroela Media gepubliseer word.

Die stuk word sonder enige teksversorging op Maroela Media gepubliseer. – Red

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Dooie honde byt nie
Deur Lydia Gittens

“Juffrou?”

Mariska lek vlugtig oor haar lippe. “Dis Mevrou. Mevrou du Preez.”

Sy ys vingers raak ligweg aan hare. ʼn Halwe glimlag krul om sy mondhoek so asof hy weet sy lieg.

Dis nou belaglik. Hoe kan die bonkige man in sy netjiese manelpak weet sy lieg behalwe as hy haar so goed nagevors het soos sy vir hom? Sy probeer haar vingers ongesiens aan haar broekpak af te vee. Aan die ander kant is dit seker logies dat hy iets van haar af weet Jy stem tog nie in tot so opdrag as jy niks van jou kliënt af weet nie.

“Sal ons ingaan?” Sy warm asem teen haar oor onderbreek haar mymerings.

Sy ruk weg. Sien die fyn spot in sy oë. Sy stap vinnig vooruit. Die man gee haar behoorlik die koue rillings maar sy het hom nodig. Bitter nodig.

*

Die maître d’ kom dadelik nader toe hulle restaurant binnestap.

“Goeienaand. Welkom by ons. Julle van is?”

“du Preez. Mevrou du Preez. Ek het gister ’n tafel vir twee bespreek.”

Hy knik. “As ek reg onthou het u die tafel aan die regterkant van die gebou derde van agter versoek?”

“Korrek.” Haar metgesel behoort tevrede te wees dat sy opdrag tot die letter toe uitgevoer is. Hopelik is hy net so presies met haar opdrag.

Die vreemdeling trek ewe galant haar stoel uit voor hy oorkant haar sy plek in neem. Rug teen die muur. Sy oë flits ʼn slag deur die vertrek voor hy gemakliker agtertoe skuif en die styf geparste servet oor sy skoot oopvou.

Die maître d’ maak aanstellerig keel skoon. “Ons sjef se spesialiteit vir die aand is: Blouvin tuna of sou julle iets anders verkies?”

“Die Tuna klink perfek.”

“Ek stem saam.” Mariska loer onderlangs na haar metgesel. Sy gesig gee niks weg nie tog weet sy met vroulike intuïsie dat vanaand sy manier is om te toets of sy werklik sy dienste kan bekostig. Hierdie ontmoeting by een van die duurste restaurante in die stad is op sy versoek. Sy wil liewer nie dink aan wat die ete haar gaan kos nie. Vanaand gaan sy eenvoudig moet oë toeknyp en betaal. Sy het te ver gekom om nou koue voete te wil kry.

“As metgesel tot die Tuna stel ek … ”

Die maître d’ noem ʼn wyn waarvan sy nog nooit gehoor het en hopelik nooit weer sal hoor nie. “Ons sal ʼn bottel neem. Dankie.”

Met ʼn tevrede glimlag draai hy om en stap weg.

Die vreemdeling se blik rus peinsend op haar. “Jy weet seker jy het pas Sushi bestel?”

Rou vis. Sy ril tot in haar klein toontjie.

Weer die halwe glimlag. “So gedink. Blouvin tuna is een van Japanse mees gesogte disse. In die volksmond staan dit bekend as Koning van Sushi. Dit is vir die eerste keer in-”

Sy skuif ongemaklik op haar stoel rond moet sy werklik hierna luister as daar lewe en dood op die spel is.

Hy bly skielik stil. “Hoe onsensitief van my. Vergewe asseblief. Kos is een van my groot passies in die lewe. As ek eers daaroor begin praat hou ek nooit op nie. Vertel my meer van jou. Jy weet waarskynlik alles van my af.”

Natuurlik weet sy alles van hom af of ten minste dit wat die internet en ʼn paar diskrete vrae aan die regte persone op gelewer het.

“Julle wyn.” Die maître d’ hou die bottel sodat die lang man kan sien. Skink ʼn bietjie vir hom in. Wag tot hy knik maak hy dan albei hulle glase vol.

Sy teug stadig aan haar wyn. Dankbaar vir die kort onderbreking. Sy wil die man se fokus van haar af wegkry. Hoe minder hy van haar af weet hoe beter. Dis veiliger so. Sou iets verkeerd gaan. Nee sy mag nie so dink nie netnou begoël sy die hele opdrag. Niks sal verkeerd gaan nie. Niks.

Hy rol die glassteeltjie tussen sy vingers. Wag seker vir haar om te begin.

“Meneer Gildenhuizen-”

“Noem my Dirk ʼn van is tog so pretensieus of hoe?”

Hy probeer haar seker nou terug kry oor haar ge-mevrou van vroeër. Hoe ook al sy moet die fokus wegkry van haar af. “Daar is nog ’n paar dinge wat ek van jou wil weet voor ons oor my praat”

“Soos?”

“Al wat ek weet is dat jy vir jare in die spesiale magte was en dat jy op ʼn baie jong ouderdom een van die hoogste range beklee het. Na jou uittrede word jy ʼn huursoldaat in Cuba. Twee jaar later verskyn jy op Interpol se lys van hoë profiel sluipmoordenaars. Die stories oor jou aktiwiteite strek van die heldhaftigste tot-”

“Dis genoeg! Gun my nou ʼn beurt juffrou, dogter van Dominee en mevrou Jonker. Direkteur van Lascale-Beperk. Internasionale vervaardigers en verspreiders van gesogte edelgesteentes. Tussen hakies jy’t die mooiste twee Siamese katte wat ek in ʼn lang tyd gesien het.”

Sy neem vinnig ʼn sluk van haar wyn hopelik kalmeer dit haar. Probeer hy haar bloot intimideer of eerder subtiel waarsku deur sy intieme kennis van haar ? “Vra gerus.”

“Met die tipe kontakte wat jy het, kan jy enige iemand in diens neem. Hoekom juis vir my?”

“Want jy is die beste.” Daarvan het sy seker gemaak. Maande lank. In die diepste donkerste hole in gekruip. Kontakte se kontakte uitgevra en betaal. Hoeveel keer oorsee om na ʼn skim te soek uiteindelik sy spoor in Suid-Afrika opgespoor. Dit het toe nog weke se fyn onderhandeling deur ʼn middelman gekos om hom te oorreed om haar opdrag te aanvaar. Sy voorwaarde: Hy wou haar persoonlik ontmoet voor hy dit sou uitvoer. Nie in haar wildste drome het sy so gekultiveerde man verwag nie.

“Julle kos.” ʼn Kelner plaas ʼn bord voor elkeen neer. “Geniet dit.”

ʼn Naar stoot dreigend in haar keel op. Rou, koud en dood. Sy neem vinnig nog ʼn sluk van haar wyn. Dwing die gruwelike gedagte eenkant toe. “Ons moet nog oor jou kostes praat.”

Hy maak rustig hulle glase vol voor hy weer praat. “Later. Ek verkies om nie besigheid en goeie kos te meng nie.”

Sy drink stadig aan haar wyn. Sy wil dit eerder nie waag om te eet nie. Daarvoor sit die naar nog te vlak.

Na ʼn ewigheid stoot hy sy leë bord eenkant toe. “Koffie of likeur?”

“Koffie.” Sy moet probeer nugter word. Sy het meer as helfte van die bottel opgedrink en dit vir iemand wat nooit drink nie. Gelukkig kom De Wet nie vanaand nie. De Wet ek doen dit alles net vir jou-vir ons.

“Mariska?” Sy wenkbrou lig ʼn agste.

“Skuus. Koffie. Swart. Geen suiker nie.” rammel sy haar bestelling af.

“Ek verkies myne met melk. Bring sommer ʼn stukkie van julle Roomkaaskoek saam? Vir jou?”

Sy skud haar kop. Stoot haar onaangeraakte bord in die rigting van die kelner.

Dirk kyk die kelner ʼn oomblik agterna voor hy na haar toedraai. “Interessant? Geen rou visgeregte of swaar nagereg nie net swart koffie. Jou eersteling?”

Sy trek haar asem skerp in. Aan daardie moontlikheid het-wou sy nog nie dink nie. En nou? Die daaglikse naar word vir alles en niks nie. Hierdie en laas maand se oorslaan? Kan dit wees dat die vrug hulle liefde in haar groei? Haar hart kry vleuels. De Wet sal in die sewende hemel wees. Sy kind. Bloed van sy bloed.

Hy loer sydelings na sy duur polshorlosie toe die kelner die koffie voor hulle neersit. “Jammer om ons aandjie te moet aanjaag maar uit die aard van my werk verkies ek om nie te lank op een plek te wees nie. Ons moet nog praat oor die opdrag.”

Sy kyk ʼn slag vinnig rond. Die ander kliënte is of besig om te eet of met mekaar te gesels. Van die kelners is daar geen teken nie. Sy leun effens vorentoe. In die flieks lyk dit so maklik maar nou hoe vra jy vir ʼn wilvreemdeling so iets. Sy lek oor haar lippe.

Hy sug. “Praat. Jy mors net my en jou tyd.”

Sy knyp haar oë toe. Haal ʼn slag diep asem voor sy haar handsak oop knip en ʼn foto uithaal. Sy stoot dit onderste bo na hom toe.

Hy fluit saggies toe hy die foto omdraai.

Die irritasie stoot in haar op. “Ja ek weet sy is mooi.”

“Mooi? Beeldskoon is ’n te flou woord vir haar.”

Sy blaas haar asem stadig uit. Kwaad raak gaan nou niks help nie. “Dis die vrou van wie ek jou vertel het. Ek wil hê jy moet van haar ontslae raak.”

Sy vingers streel oor die foto. “As ek geweet het dis so godin-”

“Noem jou prys?”

“Nie so vinnig nie. Het jy hierdie foto geneem?”

“Natuurlik nie. Ek het dit van haar amptelike webwerf afgekopieer.”

“Gedink sy lyk bekend. Is sy ʼn model of ʼn filmster?”

“Hoekom? Is dit ʼn probleem?” vra sy snedig.

Weer die ellendige glimlaggie. “In teen deel. Dit maak sake net ʼn rapsie meer opwindend en natuurlik duurder maar vertel my van haar.”

“Haar naam is Retha de Wet. Sy werk as model vir verskeie nasionale en internasionale mode huise. Volgens my bronne is sy tans by die huis op ʼn ruskuur van ses maand na een of ander ineenstorting.

“Adres?”

“Dis agter op die foto.”

“Enige voorkeur wat tyd en dag betref waarop die opdrag uit gevoer moet word?”

“Woensdag oggend tussen tien uur en twaalfuur.” Die enigste dag en tyd wat de Wet kantoor toe gaan eerder as om van die huis te werk. Niks mag verkeerd gaan nie.

Hy grinnik “Jou wens is my bevel.”

“Hoeveel gaan dit kos?”

Hy noem ʼn astronomiese bedrag. “Helfte nou. Die res sodra die opdrag uitgevoer is.”.

Sy sluk. Sy gaan ten minste van een van haar motors ontslae moet raak en dalk twee beleggings losmaak. “Hoe weet ek jy sal die opdrag uitvoer en nie bloot met die eerste helfte van die geld verdwyn nie.”

“Omdat ek bitter graag die ander helfte van my geld wil hê”

“Solank jy net seker maak daar word geen bewyse agter gelaat nie. Daar mag niks agterbly wat die moord hoegenaamd aan my kan verbind nie. Dit moet soos ʼn inbraak lyk wat dodelik verkeerd gegaan het.”

Sy oë verdonker “Jy hoef nie my werk vir my te leer nie. Jy het ʼn reputasie om te beskerm en ek het my vryheid om te beskerm. Daar sal geen bewyse wees nie. Niks wat jou of my later kan kom byt nie.”

“Dis baie geld. Jy sal my tyd moet gee.”

“Goed maar net tot Dinsdag toe. Twee dae behoort jou genoeg tyd te gee. Ontmoet my selfde tyd by Sint Mario. Dis mos so klipgooi van jou huis af. Bring die geld in gebruikte geldnote saam. As jy teen tien uur nog nie opgedaag het nie sal ek weet jy wil nie. Moet my net nie in die rug probeer steek nie. Ek weet waar jy bly en waar jy werk. Sowel as pappa en mamma se adres. Nag.” Sonder ʼn verdere woord stap hy met lange hale by die restaurant uit.

Die wynbottel rinkel teen die glas toe sy die laaste bietjie in haar glas gooi. Bewe haar vingers van vrees of opwinding? Hy weet meer as genoeg van haar af om gevaarlik te wees. Moet sy werklik hiermee voortgaan? Speel sy nie met ʼn vuur wat haar gaan verswelg nie? Genadiglik het sy nog twee dae om van plan te kan verander.

Sy stoot haar stoel traag agtertoe onwillig om na ʼn leë woonstel toe terug te keer. Iewers lui ʼn selfoon. Dit vat ʼn oomblik voor sy besef dis hare. “De Wet?” Hoekom bel hy so laat?

“Naand liefling.”

Sy klem die foon styf teen haar oor. Wil elke nuanse van sy stem indrink. “Waar is jy?”

“Voor dooimansdeur.”

“Jy bedoel-”

Sy lag rinkel oor die foon. “Ek staan voor jou deur en verlang my stukkend. Op die koop toe het ek baie groot nuus.”

“Ek’s op pad.” Sy druk die foon haastig terug in haar handsak. Opwinding bruis deur haar. Groot nuus? Kan dit wees dat hy finaal besluit het om van Retha te skei. “Hou die kleingeld,” roep sy oor haar skouer reeds halfpad uit die gebou. Sy moet by die woonstel kom.

*

Die bekende silwer sedan staan skuins oor haar ingang geparkeer. De Wet staan arms gevou teen die enjin kap aangeleen. Sy loer vinnig in haar tru-spieëltjie toe sy langs hom stilhou. Elke haar is nog in plek en haar grimering steeds foutloos. Haar deur vlieg oop. Sy arms vou besitlik om haar. Trek haar uit die motor teen hom aan.

“Jy weet nie wat jy aan my doen nie.” Woorde smoor teen haar hare. Warm lippe streel soekend oor haar gesig tot hulle uiteindelik haar lippe opeis.

Haar lippe gaan spontaan onder syne oop. Om haar vervaag alles. Is dit net sy en die man wat sy met haar hele lewe bemin.

Geleidelik woed die storm tussen hulle uit. Hulle bly so staan. Sy ken op haar hare. Haar kop genestel teen sy bors. Onder haar oor klop die musiek van sy hart. “Bly by my.”

“Jy weet ek wil maar ek kan ek nie. Nie vanaand nie. Ek het na landing dadelik hierheen gekom maar nou moet ek huis toe.”

“Kan jy nie vir Retha laat weet die vliegtuig is vertraag of so iets nie?” Smeek-vra sy teen haar eie beterwete in.

Sy lippe streel oor haar hare. “Liefste. Jy weet tog-”

Sy ruk haar kop weg maar bly in die kring van sy arms staan. Ja sy weet maar te goed. Retha het hom nodig. Dis elke keer sy verdompte redenasie Haar oë gly oor die geliefde beeld voor haar. Sterk en Ferm. Sy hare blink silwer in die maanlig. Sy buig haar kop agtertoe om hom in die oë te kyk. Dit juis dit wat haar eerste na hom toe aangetrek het. Sy lengte, min mans is langer as sy. Daarby die besonderse kleur van sy oë. Iets tussen Lasuursteen en Smarag. Mooier as die mooiste edelgesteente. “Jy moet my nog die groot nuus vertel.” Sy druk weer haar gesig teen sy baadjie aan. Adem hom in die vermenging van fyn speserye, dennenaalde en suiwer viriliteit tot diep in haar siel in.

Hy lig haar ken met sy vingerpunte op. “Ek is ʼn baie goeie pos in Londen aangebied met hope goeie voordele.”

“Dis fantastiese nuus.” Dit voel soos ʼn droom waaruit sy nie wil wakker word nie. Uiteindelik sal hulle saam kan wees. Weg van Retha af. Hulle sal kan oor begin. Nuut begin. Net hulle twee. Soos dit oorspronklik bedoel was maar toe ontmoet hy vir Retha eerste in stede van haar. Nou sal die orde herstel kan word. Sy gaan more oggend vroeg vir Dirk laat weet. Dankie maar nee dankie. Sy dienste word nie meer nodig nie. Met ʼn tevrede sug gly haar arms om de Wet se nek. Buig sy kop nader. Wag vir die brand van sy lippe. Niks.

Haar oë vlieg oop. “En nou. Wat-wat’s fout?”

Sy oë is dof en seer. “Ek het pas besluit om my aanvaarding terug te trek.”

“Hoekom?”

“Verstaan jy dan nie?” kreet hy dit uit.

“Nee!”

“Ek wil nie sover van jou af wees nie.”

“Maar jy sal nie wees nie. Ons sal tog saam wees in Londen. Vir ewig bymekaar. Soos dit nog altyd hoort.”

Hy ruk los Gaan staan by sy motor rug teen haar. “Die hemele weet ek het jou lief. Maar Retha het my nodig. Jy is ʼn sterk vrou en kan met gemak op jou eie bene staan. Retha kan nie. As dinge anders was … as ons maar net eerste ontmoet het … ” Sy stem breek. Sonder om weer na haar te kyk ruk hy sy motor deur oop. Skakel die enjin aan en jaag met skreeuende bande weg.

Sy bly oomblikke verdwaas staan dan haal sy haar selfoon uit. Druk ʼn enkele knoppie. “Jy’s gehuur. Ek sal Dinsdag jou eerste paaiement saambring.”

*

Tienuur- tien oor tien-twintig oor … Sy is lus en gooi haar polshorlosie teen die restaurant se klipmuur stukkend. Waar bly die man? Hy is tog nie bang vir hierdie sous reën nie. Hy het haar hand en mond belowe vandag is dié dag. Haar oë dwaal vir die hoeveelste keer venster toe. Dit reën nou heelwat sagter. Hier en daar waag iemand dit al buitentoe.

“Het jy die res van my geld saamgebring?”

Sy byt haar lip betyds vas om ʼn gil te keer. Sy het hom glad nie gesien of gehoor nie. Nes ʼn roofdier wat sy prooi bekruip. “Natuurlik.”

Hy skuif oorkant haar in. Wink die kelner nader. “Ek glo Sjampanje is in orde.”

“Jy’t dit gedoen.” Lag sy verlig. Sy gaan De Wet toe ry sodra hulle hier klaar is dis mos net reg dat sy die treurende wewenaar gaan vertroos.

“Natuurlik. ʼn Enkele skoot toe is alles verby. Die godin het nie eens tyd gehad om te gil nie.”

Vandag drink sy ʼn hele bottel sjampanje leeg. Maar sy moet seker wees. “Jy is seker niemand het jou gesien nie? Dat daar geen getuies gaan wees nie.”

“Beslis nie.” Hy glimlag skeefweg. “Ding het wel nie so glad verloop as wat ek beplan het nie maar nou ja sulke dinge gebeur met die beste van ons.”

“Bedoelende?”

“ʼn Onverwagse probleempie het hier teen die einde opgeduik. Darem nie iets waaroor jy jou hoef te bekommer nie.”

“Waarvan praat jy? Watse probleem?”

“Niks wat ek nie kon hanteer nie. Ek het die teiken pas geskiet toe iemand by die kamer instap en my by die lyk sien.”

Die aarde tuimel om haar. Sy gryp blindelings na die tafelblad tussen hulle. “Wie?” Sukkel sy die vraag oor horingdroë lippe.

“ʼn Man.”

“Grys en lank?”

“Einste. Sy oë was baie besonders gewees. Iets tussen Lasuursteen en Smarag. Toe nou. Jy hoef nie so verskrik te lyk nie. Ons is honderdpersent veilig. Dooie honde byt nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae