Woon en skryf vir ʼn maand in Somerset-Oos

Die Gerwel-huis. (Foto: The Jakes Gerwel Foundation)

Die Gerwel-huis. (Foto: The Jakes Gerwel Foundation)

Tyd om onverpoosd te skryf, is ʼn versugting van menige skrywer. Die oorgrote meerderheid skrywers kan nie wegkom van hulle dagtake nie en vind dikwels nie genoeg tyd om ordentlik te sit en skryf nie. Boeke bly só ongeskryf en waardevolle talent word nie ten volle benut nie.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans is opgewonde om vanjaar ʼn skrywersresidensie van stapel te stuur wat aan skrywers die kans bied om vir ʼn maand in die Gerwel-huis tuis te gaan om aan ʼn skryfprojek te werk.

Dié historiese huis, langs die Bosberge in die skilderagtige Somerset-Oos, is pas gerestoureer. Met sy sjarmante ouwêreldsheid, ruim kamers, houtvloere en lowergroen tuin, bied die huis die ideale geleentheid vir skrywers om in ʼn inspirerende omgewing aan hul manuskripte te werk.

Die Gerwel-huis. (Foto: The Jakes Gerwel Foundation)

Die Gerwel-huis. (Foto: The Jakes Gerwel Foundation)

Die fokus van die residensieprogram is veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie. Voorkeur sal gegee word aan skrywers wat aan die begin van hul loopbane staan en alle genres sal oorweeg word.

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans word hiermee hartlik uitgenooi om aansoek te doen vir die Jakes Gerwel Stigting se skrywersresidensie, aangebied in samewerking met PEN Afrikaans.

Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans dek die koste van die skrywers se verblyf vanaf 8 Julie tot 5 Augustus, insluitende internet, skoonmaakdienste, drie maaltye per dag, retoervliegkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Vervoer in Somerset-Oos sal ook aangebied word.

Aansoeke moet bestaan uit:

  • ʼn Brief ter motivering van waarom die aansoeker van die residensie gebruik wil maak.
  • ʼn Opsomming van die aansoeker se loopbaan as skrywer. Gepubliseerde skrywers moet ʼn lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk (30 bladsye prosa of 10 bladsye poësie) by die aansoek moet insluit.
  • ʼn Projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.

Aansoeke moet Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, teen 12 April by [email protected] bereik, waarna verteenwoordigers van die stigting en die bestuur van PEN Afrikaans die aansoeke sal oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.