‘Woorde III’, hier is die wengedigte

Die musikant Lizanne Barnard het mense binne die eerste paar dae van die afsonderingstydperk genooi om hul gedigte vir haar te stuur. Barnard het ʼn paar gekies, getoonset en later besluit om ʼn tuiskonsert op te neem waarin sy die verwerkings sing en só het Stuur my jou woorde se eerste program die lig gesien.

Ná die sukses van Stuur my jou woorde I en II, wat uit 18 toonsettings van aanhangers se gedigte saamgestel is, is Barnard tans besig om Woorde III af te rond.

Maroela Media het lesers vroeër genooi om hul gedigte met die tema ‘Wanneer ek jou weer sien’ vir Barnard se derde program in die reeks in te skryf.

Meer as 200 Maroela-lesers het hul gedigte ingeskryf en na ure se kopkrap en oorweging is dié gedigte vir Woorde III gekies:

  • “Tot jy weer moet gaan” (Wanneer ek jou weer sien) deur Marthie Botha
  • “Duisend duine” deur Susanne Pike
  • “Soen soen soen” (As ek jou weer sien) deur Mari Vorster
  • “Somernooi” deur Simon Riekert
  • “Grendelsprokie” deur Michelle Oosthuyzen
  • “Verlore dans” deur Andries Fourie
  • “Saam maak ons die aardbol heel” deur Anne-Marie van Eeden
  • “Voor jy dalk vergeet” deur Anri Potgieter
  • “Tyd van skeiding” deur Willem Breyl

“Om slegs nege gedigte uit te kies, was vir my ʼn besonderse en emosiebelaaide ervaring,” sê Barnard. “Dit is waarskynlik omdat ek, net soos met die vorige werk wat ek ingekry het, so intens bewus geraak het van waar ons mense se harte nou lê.”

Almal se vrese, versugtinge, pyn, plesier en basiese begeertes bly op grondvlak presies dieselfde, net die graad daarvan verskil, vertel sy.

Lizanne Barnard (Foto: Pieter Lombaard)

Barnard verduidelik dat sy probeer het om ʼn goeie versameling van die onderwerpe waaroor daar geskryf is te kies. Dit was veral belangrik dat die gedig elemente bevat wat dit moontlik maak om getoonset te word.

Kykers kan uitsien na gasverskynings deur Anna Davel, Anne-Marie van Eeden, Ian Roberts, Pyjama Shark, Emma van Heyn, Helena Hettema, Loren Ehlers en Ignatius van Heerden.

“Elke kunstenaar is spesiaal met die hand uitgesoek om die karakter van die betrokke liedjie ten mooiste te vertolk,” verduidelik Barnard.

Davel is van meet af aan deel van die projek. Dié sangeres en kunstenaar het met groot sukses haar hand gewaag aan die skep van ʼn kunswerk vir elke liedjie. Davel het agterna die skilderye op Facebook opgeveil en verkoop. Vir Woorde III het Davel ingestem om ʼn hoë gehalte afdrukke van die oorspronklike kunswerk aan die nege wenners te gee.

Barnard sê die musiek vir Woorde III sluit ʼn verskeidenheid genres in. Sy skuif self agter die klavier en mikrofoon in en word deur drie musikante vergesel.

Vinnie Henrico, ʼn meesterlike tromspeler, hanteer die perkussie. Barnard se seun, Adam Helberg, oftewel Pyjama Shark is self ʼn kranige jong komponis en sal met kitaar en sang sy unieke bydrae lewer. Leon Ecroignard van Ses Snare en Die Ooms se Band sluit by hulle aan met die kontrabas, elektriese baskitaar en al die ander ongewone, dikwels handgemaakte instrumente in sy arsenaal.

Woorde III bied ʼn samekoms van woord, klank en skilderkuns en beloof om ʼn skitterkonsert te wees waarna kykers met groot opgewondenheid kan uitsien.

Dit word in samewerking met Maroela Media, die Atterbury-teater en Optog! aangebied. Kaartjies is op Optog! se webwerf beskikbaar. Die konsert is van 2 Oktober beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.