Woordfees kry nuwe boekeprogramkoördineer

Elmari Rautenbach (Foto: Naomi Bruwer, Litnet)

Elmari Rautenbach (Foto: Naomi Bruwer, Litnet)

Die Woordfees wat jaarliks in Stellenbosch aangebied word, het Dinsdag sy nuwe boekeprogramkoördineerder aangekondig.

Die organisasie het in ʼn verklaring bevestig Elmari Rautenbach, vryskutjoernalis en bekende in boekkringe, sal voortaan die Woordfees se boekeprogram koördineer.

Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur, het gesê dit is ʼn groot voorreg om Rautenbach by die Woordfees te verwelkom. “Dit is vir ons ʼn voorreg, want sy is vertroud met plaaslike en internasionale letterkunde. Elmari is nie net belese en berese nie, maar sy ken die Afrikaanse boekewêreld baie goed en sy sal beslis ’n nuwe dimensie tot die fees se boekeprogram bring. Dis lekker om haar besondere energie voortaan as deel van die span te tel.”

Rautenbach het gesê sy is opgewonde oor die nuwe pad wat voorlê. “Die Woordfees beklee ʼn unieke plek in die Suid-Afrikaanse feeslandskap. Dis ’n fees waar woorde en boeke werklik die hart van die program vorm. Dit bied ook besonderse moontlikhede vir die saamstel van ’n unieke en relevante boekeprogram.”

Rautenbach het ervaring van meer as twee dekades in die joernalistiek en was onder meer redakteur van Insig, waarnemende redakteur van Drum en eerste nasionale boekeredakteur van Media24 se dagblaaie.

Die US Woordfees-kortverhaalbundel wat vanjaar vir die eerste keer die lig gesien het, sal weer in 2017 gepubliseer word. Madri Victor, wat die afgelope drie jaar die koördineerder van die skrywersprogram is, sal steeds die bundel bestuur.

Die Woordfees word weer van 3 tot 12 Maart 2017 op Stellenbosch aangebied. Kontak Frieda le Roux by 082 742 4156 of stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.