Woordfees sê binnekort wat gaan borrel en bruis in die Boland

Die Toyota US Woordfees het pas bekendgemaak dat vanjaar se feestema “borrel” is, wat volgens organiseerders ’n verskeidenheid assosiasies en betekenismoontlikhede inhou.

Dié Bolandse fees vind vanaf 7 tot 15 Oktober in Stellenbosch plaas, en beloof om met dié tema feesgangers die geleentheid te gee om salig weg te dryf, maar ook om hulself uit te daag en nuwe perspektiewe te verken.

“Enersyds verwys ‘borrel’ na speelse bruising en drif; ’n swewende, dromerige gevoel; onskuldige kinderpret met seepbelle; en die lekker ou Nederlandse woord vir ’n partytjie waar die silwer borrels in Bolandse vonkelwyn graag geniet word,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees oor vanjaar se tema.

“Aan die ander kant herinner dit ook aan Stellenbosch en die Universiteit Stellenbosch wat volgens sommige kritici en besorgde inwoners ’n bubble is wat in bevoorregte ontkenning van die werklikhede van die groter Suid-Afrika leef. Hoewel ’n borrel ’n brose membraan het, ’n weerlose grens wat kortstondig die verskil tussen binne en buite bepaal, is Stellenbosch se skeidslyne histories opgestel en finansieel verskans.”

Volgens Botha het ‘borrel’ ook twee konnotasies in die kunste: “Die verbeelding maak dit vir kunstenaars moontlik om mense vir ’n kosbare wyle van swaartekrag te bevry en na ’n nuwe droomwêreld te verplaas. Die kunste het egter ook die belangrike vermoë en verantwoordelikheid om die borrels van persepsies te bars en ons só aan nuwe werklikhede bloot te stel en die bewussyn te verruim.”

Volgens Botha sal die feesprogram, wat op 22 Junie bekendgestel word en vanaf 23 Junie vir die algemene publiek beskikbaar is, ’n ryk verskeidenheid van geleenthede tot ontvlugting én besinning oor ingewikkelde werklikhede bied.

Die program sal tweetalig op die Woordfees se webwerf en as ’n gratis gedrukte Afrikaanse feesgids in die Woordfeeskantoor en by ander uitgesoekte boekwinkels en biblioteke vanaf 23 Junie beskikbaar wees.

Die feesgidsboekie sal daarbenewens in PDF-formaat in beide Engels en Afrikaans van die webwerf afgelaai kan word.

Inskrywings vir US Woordfeeskortverhaalbundel sluit ook binnekort

Skrywers kan nou die penne opneem en hul kortverhale instuur vir die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel, ʼn projek wat Botha sê haar na aan die hart lê.

“Die Woordfees het ontstaan as ’n literêre fees en die woord en skrywers is steeds die hart van ons program. Die bundel is ’n uitbreiding daarvan en ook ’n poging om die buitestander, dophouer en aantekenaar – soos skrywers dikwels is – in ons jaar- en feesprogram blootstelling te gee,” verduidelik sy.

“Die US Woordfeeskortverhaalbundel is uniek in die opsig dat nuwe skrywers en gevestigde skrywers op gelyke voet meeding, en omdat die keuring volkome anoniem geskied, is die speelveld werklik gelyk vir alle deelnemers,” voeg Botha by.

Ongeveer 25 verhale word vir die bundel gekies, waarvan een as ʼn wenverhaal uitgelig word. Die skrywer van dié wenverhaal wen prysgeld van R30 000, terwyl skrywers wat in dié bundel opgeneem word, elkeen R5 000 ontvang.

  • Inskrywings vir die US Woordfeeskortverhaalbundel sluit op 31 Mei 2023 om 17:00. Meer inligting is op die Toyota US Woordfees se webblad
  • Die Toyota US Woordfees vind vanaf 7 tot 15 Oktober 2023 in Stellenbosch plaas. Vir navrae, stuur ’n e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.