Woordloop en Aandwedloop by die Taalmonument

Die wenners van verlede jaar se 5km Woordloop by die Taalmonument: Allister Blaauw van Groendal Hoërskool (wenner); William Kruger van Boishaai (2e) en Emile Koch van Boishaai (3e)

Die wenners van verlede jaar se 5km Woordloop by die Taalmonument: Allister Blaauw van Groendal Hoërskool (wenner); William Kruger van Boishaai (2e) en Emile Koch van Boishaai (3e)

Trots op jou taal? Kom wys hóé trots – met ‘n Afrikaanse woord op jou bors tydens die Afrikaans op ‘n Drafstap Woordloop en Aandwedloop op Woensdag 11 Desember 2013 by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl.

Dié 5 km-Woordloop en 10 km-Aandwedloop word aangebied in samewerking met die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Paarl Atletiekklub.

“Die 5km-pretloop staan bekend as ‘n Woordloop, omdat deelnemers met ‘n woord inskryf in plaas van met ‘n nommer,” sê Ria Olivier, verteenwoordiger van die ATR. “Atlete wat aan die 10 km-Aandwedloop deelneem, ontvang benewens hul nommers, ook elkeen ’n woord. Deelnemers het die opsie om tydens registrasie van ‘n lukrake woord voorsien te word of hul eie woord te kies indien hul vooraf, teen R100, daardie woord in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) borg.”

Meer as 600 atlete en taalentoesiaste het verlede jaar deelgeneem aan dié fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum op Wellington.

“Ons daag almal in die land uit om in te skryf. Pa’s en ma’s, oumas en oupas, tantes en ooms en seuns en dogters kan almal deelneem – op ‘n stywe draf of voetjie vir voetjie. Die 5 km-Woordloop, wat om 18:40 begin, is bedoel vir die hele gesin. Stootwaentjies is ook welkom. Die inskrywingsfooi vir die Woordloop is slegs R15, en R5 vir kinders onder 18.”

“Daar is vanjaar ‘n spesiale trofee op die spel vir die grootste span wat aan die 5 km-Woordloop deelneem. Ons moedig dus besighede en organisasies aan om in te skryf onder hul eie unieke woord. Spaninskrywings moet vooraf met die Taalmonument gereël word.”

Die 10km-Aandwedloop, wat volgens die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:30. Dit volg ‘n opwindende en uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die inskrywingsfooi is R40 en tydelike nommers is beskikbaar teen R25. Stappers is welkom om deel te neem.

Toegang sal gratis wees vir ondersteuners, wat genooi word om vanaf 17:00 tot 20:30 (wanneer die prysuitdeling begin) ’n piekniek in die Kuierkom by Volksmond Koffiewinkel te geniet. Eie piekniekmandjies is welkom en verversings sal te koop aangebied word.

Medaljes en kontantpryse is op die spel en gelukkige trekkings sal plaasvind. Atlete kan vooraf aanlyn inskryf by www.entrytime.com / www.sa-active.co.za (spertyd vir aanlyn-inskrywings is 5 Desember 2013), asook by die Taalmonument (daagliks vanaf 08:00 tot 17:00). Inskrywings op die dag van die wedloop kan tussen 17:00 en 18:15 by die Taalmonument gedoen word.

Taalmuseum-webwerf
Taalmonument-webwerf
Facebook: Afrikaanse Taalmonument
Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.