Taalmonument: ‘Afrikaans bly’, sê minister

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het ’n “U-draai van 180 grade” gemaak en amptelik bevestig dat die Afrikaanse Taalmonument (ATM) in die Paarl se naam nié sal verander nie.

“Geen beleid is deur die departement of die ministerie ingestel om Afrikaans uit die naam van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument te verwyder nie. Daar sal dus geen naamsverandering van die ATM wees nie,” het die minister Woensdag in antwoord op ’n parlementêre vraag van dr. Leon Schreiber van die DA gesê.

Mthethwa het wel gesê dat die monument “minstens een inheemse taal aan boord moet neem” as deel van taalontwikkeling.

Sybrandus Adema, kommunikasiebeampte van die ATM, sê die raad en bestuur van die ATM neem kennis van die minister se parlementêre antwoord dat geen naamsverandering oorweeg word nie.

“Ons sal verder met die departement skakel oor presies wat bedoel word met die aanboordneming van minstens een inheemse taal. Intussen gaan ons voort om Afrikaans, inheemse tale en veeltaligheid te bevorder, en poog ons om sover finansieel moontlik inligting oor die ATM in ten minste Afrikaans, Xhosa en Engels weer te gee.”

Minister Nathi Mthethwa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Schreiber wys in ’n verklaring daarop dat dit ’n oortreding van die uitvoerende etiekkode is vir ’n minister om die parlement te mislei, “wat beteken dat die verbintenis vervat in sy [parlementêre] antwoord nou bindend vir die minister is”.

Schreiber sê die opposisieparty is wel deeglik bewus daarvan dat die minister in die lig van weke lange hewige kritiek oor die beweerde naamsverandering ’n “U-draai van 180 grade” gemaak het en sy planne vir naamsverandering laat vaar het.

Dít nadat hy op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê het die ATM se naam moet verander. Dit is volgens die ATM se raad gesê tydens die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerooreenkoms tussen die departement en alle hoofde en voorsitters van die openbare entiteite wat onder sy portefeulje val.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week in die parlement ook sy versekering gegee dat die ATM nie gedwing sal word om sy naam te verander nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

Kort termyn sukses vir Afrikaans. Die aanvalle sal maar net weer uit n ander hoek kom so die geveg gaan voort.

Clifford ·

Bring 1 inheemse taal aanboord en mens gaan die naam in elk geval na ‘n paar jaar moet verander oor dit weeer gesien gaan word as uisluiting.

Help ‘n inheemse taal on absoluut afsonderlik aan sy taal te bou en te vorder, dis ‘n taal monument nie tale monument nie.

Louis ·

Hulle sal maar altyd na iets soek om aan te krap. Dit trek die mense se aandag van hulle onbevoegdheid en korrupsie af. Wag nou om te sien wat volgende gaan wees.

Jannie van Niekerk ·

Loop maart lig vir ou Nati. Hy lieg ergers as sy tjommie Careltjie Pinnichio. Ek vetrou hom nie eers met ‘n oop Bybel op ‘n preekstoel buite die heelal nie, Kort voor lank begin hy weer met sy streke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.