Woordsoorte: Tussenwerpsels – taal se kerrie en kaneel

skryf

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die inligting in hierdie blog is gebaseer op die afdeling oor tussenwerpsels in die Afrikaanse skoolgrammatika, gratis toeganklik via ons webblad.

Wat is tussenwerpsels?

My kind het fiemies. Dit eet nie dit nie en dit drink nie dat nie, want dié smaak bitter en sus brand. Dis wat ʼn mens het van ADHD, het die pediater destyds gesê – dit is ʼn geldige, gediagnoseerde toestand wat ʼn oorsensitiwiteit meebring vir alles wat sintuiglik waargeneem word. As ʼn ma verstaan ʼn mens en het jy simpatie, maar as die een wat moet kosmaak, stel dit uitdagings wat jy nie voorsien het nie.

In my huishouding is dit net ek en die kind, en ek het vroeg-vroeg besluit ek maak nie van elke ete ʼn veldslag nie. Ek kon kies: Of ek eet vir die volgende twintig jaar smaaklose kos, of ek maak twee etes per maaltyd sodat elkeen net deur die dag kan kom.

Ek het probeer met die bleek macaroni-en-kaas, maar ek kon nie. Ek het die hoofdige mengsel van anys en kaneel en naeltjies en komyn gemis wat deur ʼn kombuis draal, en die warm oranje van ʼn koesterende boerekerrie soos wat my ouma dit nog op haar Dover in ʼn swart pot gemaak het. Geurmiddels die ding wat die siel voed, wat van kosmaak kuns maak, wat eet verhef van ʼn funksie tot ʼn vreugde.

Tussenwerpsels is die talige geurmiddels van ʼn gesprek. Ja, ʼn mens kan daarsonder kommunikeer, maar dan praat jy eintlik maar bleek macaroni-en-kaas: Die gesprek is aan die gang, maar dit voed nie die siel nie.

Watter soorte tussenwerpsels is daar?

Taalkundig val tussenwerpsels in twee groepe uiteen: Daar is klanknabootsende tussenwerpsels en daar is betekenisdraende tussenwerpsels.

Die eerste klompie doen presies wat die naam sê: Dit boots klank na. En omdat elke taalgebruiker dinge anders hoor, is die spelling van dié tussenwerpsels moeilik voor te skryf. Sommige is effe gestandaardiseer, soos tsk en brr, maar as ʼn mens skryf brrrrrr is dit net so reg.

Ouer lesers wat nog Alba Bouwer se lieflike Stories van Rivierplaas besit, kan gerus weer gaan kyk hoe kwistig en doeltreffend sy klanknabootsende tussenwerpsels in haar vertellings aanwend:

  • “Fi-jirts, fi-jirts, fi-jirts,” sê die stukkie kryt op Alie se lei…
  • Dan klap Ouma se brilhuisie kloeps! toe, en die stoel sê “ghierr” as Ouma opstaan…
  • “Sj-ô-r, sjips,” sê die straal water…

Skrywers wat klanknabootsende tussenwerpsels aanwend, is soos daardie kokke wat sommer self en op die ingewing van die oomblik besluit watter geurmiddels om by ʼn dis te voeg. So ʼn skeutjie hiervan en ʼn knippie daarvan. Dis hulle wat vir jou sê “kook tot gaar” en “geur na smaak”, en as jy hulle vra om vir jou ʼn resep neer te skryf, kan hulle jou net aanstaar. Hulle kos is heerlik, maar hulle sinne het hulle koppe oorgeneem.

Die tweede klompie tussenwerpsels is betekenisdraend. Hierdie tussenwerpsels geur nie net nie, hulle verander die geaardheid van die dis.

Betekenisdraende tussenwerpsels doen een van drie goed. Dit kan emosie uitdruk, dit kan verhoudings tussen gespreksgenote skep, of dit kan kragwoorde wees wat ʼn gesprek behoorlik peper.

Emosie hoef natuurlik nie net bitter te wees nie. Soos wat ons disse kan geur met suiker en vanielje en kaneel, kan ons gesprekke geur met woorde soos jammer, foeitog of skitterend. As jy hierdie soort tussenwerpsels in gebruik wil sien, sommer in sulke ritse, kyk na die kommentaar op enige plasing op ʼn sosialemediaplatform wat sterk emosie by lesers ontlok.

Daarbenewens is die woorde waarmee ons verhoudings met gespreksgenote skep, betekenisdraende tussenwerpsels. Die vetgedrukte woorde hier onder is almal betekenisdraende tussenwerpsels:

  • Goeiemôre, klas.
  • Baie dankie, dit was gaaf van jou.
  • Sit vir my die goed in die kattebak, asseblief.
  • Lekker slaap!

Die laaste groepie tussenwerpsels is die kragwoorde. Dis die rissies in die kerrie, die ding met brand en byt, waaroor ʼn mens na jou asem kan hyg en wat in die monde van jong kinders groot konsternasie veroorsaak.

Die krag van kragwoorde verskil natuurlik. Daar is kragwoorde wat (soms doelbewus) versag is, soos jissie of kwit of allamapstieks, maar dan is daar die volbloedvloekwoorde wat ʼn gehoor na hulle asem kan laat snak en wat, soos menige omroeper en openbare spreker al agtergekom het, loopbane kan kelder as dit onbedoeld uitgesaai word.

Hoe herken ʼn mens tussenwerpsels in ʼn sin?

Taalkundig herken ʼn mens tussenwerpsels daaraan dat dit met leestekens van die res van die sin afgeskei word. As dieselfde woorde in ʼn sin geïntegreer word en dan gewoon die spreker se houding weergee, is dit bywoorde:

  • Skakel die ketel aan, asseblief. (tussenwerpsel)
  • Skakel asseblief die ketel aan. (bywoord)

Dit is ook moontlik om woorde wat gewoonlik ander woordsoorte is as tussenwerpsels te gebruik:

  • Jou yster! (gewoonlik ʼn naamwoord)
  • Wat?! (gewoonlik ʼn vraende voornaamwoord)
  • Loop! (gewoonlik ʼn werkwoord)

Is uitroeptekens verpligtend saam met tussenwerpsels?

Dis belangrik om daarop te let dat nie alle tussenwerpsels die gebruik van ʼn uitroepteken vereis nie. Omdat sommige tussenwerpsels emosie uitdruk, is die tussenwerpsel baie keer gepas, veral as die tussenwerpsel alleen in ʼn sin voorkom, want dan is die hele doel van die uiting gewoonlik om uitdrukking te gee aan een of ander ekstreme gemoedstoestand. Maar dit is heeltemal in orde om sinne te maak met tussenwerpsels en dit dan nie met ʼn uitroepteken af te sluit nie.

Hoeveel tussenwerpsels gebruik ʼn mens?

ʼn Wenk aan skrywers en voornemende skrywers oor kragwoorde: Soos wat ʼn goeie kok oordeelkundig met geurmiddels te werk gaan, so gaan ʼn goeie skrywer oordeelkundig met tussenwerpsels te werk. Ja, daar is disse wat onderneem om die vel van jou verhemelte af te skroei en jou stikkend en hygend na ʼn glas melk te laat gryp, maar sulke geregte is in wese ʼn foefie. Ek wonder altyd waarom ʼn mens die moeite doen om sulke kos te eet, want ná die eerste mond vol proe ʼn mens in elk geval niks. Dieselfde gebeur met manuskripte waarin kragwoorde oorbenut word. Dit skok, maar ná ʼn paar bladsye wonder die leser of dit werklik die moeite werd is om deur die storie te ploeg, want al wat ʼn mens daarvan kry, is sooibrand en diarree. Onthou: Dis ʼn geurmiddel, nie ʼn purgeermiddel nie.

Wat van lesers wat kla oor enige gekruide taal?

Ek het in my eie skryfwerk besef daar is lesers met talige ADHD, vir wie enige soort geurmiddel in ʼn teks ʼn aanval op die sinne is. Dis mense wat vir jou kwaai briewe skryf as jy jissie of allamapstieks in ʼn teks gebruik, of dis ouers wat die skool bel en kla oor ʼn voorgeskrewe boek die woord bliksem bevat, terwyl hulle bloedjies die f-woord soos ʼn slingervel kan aanwend.

Ek maak met hulle soos my kind: Ek is vir hulle baie lief, maar ek laat nie toe dat hulle my kerrie kierang nie; ek kook hom steeds soos ek hom verkies – sterk gespesery. Dis mý kuns, mý taal, mý sinne en mý siel. Eet gerus macaroni-en-kaas as jy nie van kerrie hou nie.

VivA-groete
Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.