Woordsoorte: Voornaamwoord, voorvatwoord

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

Hierdie blog oor voornaamwoorde maak deel uit van ʼn reeks oor woordsoorte. Die blogs is op ons blogblad te vinde, en die inligting in die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) waaruit ons hierdie blogs skryf, is gratis in Taalonderrigportaal toeganklik.

Wat is ʼn voornaamwoord?
Die voornaamwoord se naam gee ons al die eerste wenk oor wat ʼn voornaamwoord is en wat dit doen. Hier is die definisie vir ʼn voornaamwoord soos dit in ASG opgeteken is:

‘n Voornaamwoord is ‘n woord wat in die plek van ‘n naamwoord of naamwoordstuk gebruik word. Die voornaamwoord verwys na ‘n referent, net soos ‘n naamwoord, en die referent kan óf uit die gespreksituasie of omliggende teks vasgestel word, óf die referent is onbekend of generies.

Wat beteken hierdie definisie?
Definisies word geskryf met die doel om die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie weer te gee, maar dit beteken soms dit raak duister vir mense wat nie vakkundiges is nie. Die belangrike elemente van hierdie definisie, wat veral vir skoolkinders moet saak maak, is die volgende:

  • ʼn Voornaamwoord staan in die plek van ʼn naamwoord of ʼn stuk sin wat die werk van ʼn naamwoord doen.
  • ʼn Voornaamwoord verwys na ʼn referent. “Referensie” beteken dat die woord nie gelyk is aan die ding waaroor die woord praat nie, die woord verwys na ʼn ding in die werklikheid. Daar is met ander woorde ʼn ding in die werklikheid [het ʼn stam, takke, blare en wortels, maak skaduwee] en daar is ʼn woord in Afrikaans wat hierdie ding se naam is [boom]. Dieselfde ding in die werklikheid se naam is in Engels [tree]. Naamwoorde benoem dus dinge, voornaamwoorde verwys na dieselfde dinge. Daardie ding wat die naamwoord benoem en waarna ons met die voornaamwoord verwys, noem ons die “referent”. (Nee, dis nie ʼn anglisisme nie, dis ʼn vakterm.)
  • Die referent waarna die voornaamwoord verwys, kan op een van twee maniere aan die leser/hoorder bekend wees: die referent kan in die teks self genoem word (ons noem dit “anaforiek”), of die leser/hoorder kan uit die konteks aflei wie of wat die referent is (ons noem dit “deiksis”).

Wat doen ʼn voornaamwoord?
ʼn Voornaamwoord tree in ʼn sin in die plek van naamwoorde of naamwoordstukke op sodat ʼn mens nie die hele tyd inligting hoef te herhaal nie. Dit skep vloei en samehang, oor sinne heen en oor ʼn teks heen, bv.:

  • Bettina sê Bettina se kop is seer. Bettina vra die meneer of die meneer pille vir Bettina se kopseer het.
  • Bettina sê haar kop is seer. Sy vra die meneer of hy pille vir haar kopseer het.

Hoe herken ʼn mens voornaamwoorde in ʼn sin?

  • Die voornaamwoord het dieselfde referent as die naamwoord. Dit klink ingewikkeld, maar dit beteken maar net die voornaamwoord verwys na dieselfde ding as waaroor die naamwoord gegaan het.
  • Die voornaamwoord tree op in die plek van ʼn naamwoord of ʼn sinsdeel wat die werk van ʼn naamwoord verrig.

Neem ʼn voorbeeld soos [Gerhard]hy is klaar met die werk.

  • Gerhard se referent is [ʼn man met die naam Gerhard]. As ʼn mens sou vra: Wie is hy in die sin? is die antwoord [ʼn man met die naam Gerhard]. Die naamwoord en die voornaamwoord het met ander woorde dieselfde referent.
  • Hy staan in die plek van Gerhard sodat ʼn mens nie hoef te skryf Gerhard sê Gerhard is klaar met die werk Die woord Gerhard is ʼn naamwoord, spesifiek ʼn eienaamwoord, en hy staan dus in die plek van ʼn naamwoord.

In die volgende voorbeeld is daar nie net een naamwoord wat die referent is nie, daar is ʼn hele sinsdeel wat ʼn referent het: [Die lede van die eerste rugbyspan] moet hulle truie kom haal.

  • Die referent van die sinsdeel en die voornaamwoord hulle is [die lede van die eerste rugbyspan]. Die voornaamwoord hulle staan in die plek van die lede van die eerste rugbyspan sodat ʼn mens nie hoef te skryf Die lede van die eerste rugbyspan moet die lede van die eerste rugbyspan se truie kom haal
  • Die sinsdeel die lede van die eerste rugbyspan word in die sintaksis as ʼn naamwoordstuk geklassifiseer. ʼn Mens kan hierdie sinsdeel met ʼn enkele naamwoord vervang (bv. spanlede moet hulle truie kom haal), wat bevestig dat die hele sinsdeel die werk van ʼn naamwoord verrig. Die voornaamwoord hulle staan dus steeds in die plek van naamwoordelike inligting.

Watter soort voornaamwoorde word in Afrikaans onderskei?
Hierdie lys is alfabeties:

Soort voornaamwoordEienskap(pe)Voorbeelde
Aanwysende voornaamwoord·        Verwys na ʼn spesifieke eksemplaar van die referent.

·        Skep ʼn ruimtelike oriëntasie tussen die deelnemers aan die kommunikasie en die referent.

·       Gee vir my daardie houtlepel aan.

·       Die referent is [houtlepel] en as ʼn spreker sê daardie, beteken dit die lepel is ʼn ent weg. As die spreker sê hierdie, was die lepel nader.

Besitlike voornaamwoord·        Verwys na ʼn duidelik identifiseerbare referent.

·        Dui vir daardie referent besit aan.

·       Jy lees mos nou my boek.

·       Die referent is [boek] en die boek behoort aan die spreker.

Betreklike voornaamwoord

 

 

·        Lei betreklike bysinne in.

·        Net wat en wie is betreklike voornaamwoorde.

·        Betrek naamwoordelike inligting uit die hoofsin.

·       Leerders wat nog nie klaar is nie, moet pouse agterbly.

·       Leerders wie se werk nog nie klaar is nie, moet pouse agterbly.

·       Beide voornaamwoorde betrek die inligting leerders. Leerders is ʼn naamwoord

Onbepaalde voornaamwoord·        Verwys na ʼn referent wat nie bepaal kan word nie.·       Iemand het my boek gesteel.

·       Die skool sal iets aan al die diefstal moet doen.

·       Dit is nie moontlik om te bepaal wie of wat iemand en iets is nie.

Persoonlike voornaamwoord·        Tree selfstandig in die plek van ʼn naamwoord op (nie voor ʼn naamwoord nie).

·        Dui nie besit aan nie.

·        Kan menslike of niemenslike referente hê.

·        Kan deikties (na ʼn referent buite die teks) of anafories (na ʼn referent binne die teks) verwys.

·       Ek weet nie of Gerhard hom ooit aan my steur nie.

·       Ek en my tree op in die plek van die naam van die spreker. Hom tree op in die plek van Gerhard.

·       ʼn Mens kan uit die teks aflei wat hom se referent is (anaforiese verwysing). ʼn Mens moet eers weet wie praat voor ʼn mens weet wat ek en my se referent is (deiktiese verwysing).

Vraende voornaamwoord·        Is ʼn vraagwoord.

·        Staan gewoonlik aan sinsbegin.

·        Die referent is inligting wat van die aangesprokene vereis word.

·       Wat is jou naam?

·       Waarheen gaan jy?

·       Hoe het jy hier beland?

·       Hy vra hoe jy hier beland het.

·       Let op dat vraende voornaamwoorde ook in indirekte vrae, soos in die laaste voorbeeld, kan optree.

Wederkerende voornaamwoord·        Is gewoonlik die direkte objek.

·        Het dieselfde referent as die subjek en het daarom ook dieselfde getal, geslag, ens.

·        Tree op waar die handeling (uitgedruk deur die werkwoord) op dieselfde referent oorgaan.

·       Stefan vererg hom.

·       Jessica skaam haar.

·       Alex wil homself skop.

·       Die referent in al die sinne is vir die subjek en die direkte objek dieselfde. Die handeling gaan wederkerend oor.

Wederkerige voornaamwoord·        Is gewoonlik die direkte objek.

·        Het dieselfde referent as die subjek, wat altyd in die meervoud is.

·        Tree op waar die handeling (uitgedruk deur die werkwoord) wedersyds op die referente oorgaan.

·       Die rugbyspelers wens mekaar geluk.

·       Hulle groet elkander.

·       Die referent in al die sinne is vir die subjek en die direkte objek dieselfde. Die handeling gaan wedersyds oor.

Voetnoot: Die voornaamwoord dit in ʼn sin soos Dit spook in daardie huis is ʼn persoonlike voornaamwoord. Die woord daar in ʼn sin soos Daar kan nie gesê word dat hulle nie probeer het nie is ʼn eksistensiële daar. Nie een van die twee is ʼn onpersoonlike voornaamwoord nie. Ons onderskei nie ʼn kategorie “onpersoonlike voornaamwoord” nie.

Hoekom moet ʼn mens voornaamwoorde kan herken?
ʼn Mens moet voornaamwoorde kan herken as ʼn mens taalreëls soos hierdie korrek wil toepas:

  • Die voornaamwoord wat ʼn mens kies om in ʼn bepaalde konteks te gebruik, moet ooreenstem met die referent se getal en geslag. Gerhard se referent is byvoorbeeld enkelvoudig en manlik, daarom is die voornaamwoord hy. Die lede van die eerste rugbyspan se referent is meervoudig en manlik, daarom is die voornaamwoord Veral tweedetaalsprekers het soms moeite om te weet watter voornaamwoord vir die konteks geskik is. Onder aan hierdie bladsy is daar tabelle waarin die korrekte vorme van die voornaamwoorde gegee word. Jy mag die tabelle kopieer en vir leerders uitdeel, erken net die oorsprong daarvan.
  • Een van die gereeldste navrae hier by ons adviesdiens is: Wanneer gebruik ons wie en wanneer gebruik ons wat? Hierdie blog verduidelik volledig hoe betreklike voornaamwoorde (moet) werk.
  • Waar die voornaamwoord dit saam met ʼn voorsetsel optree, word dit een woord en dit verbuig: Vat hierdie lepel en eet jou roomys met dit < Vat hierdie lepel en eet jou roomys daarmee. Hierdie nuwe woord is ʼn voornaamwoordelike bywoord. ʼn Lys van sulke verbuigings word ook hier
  • Waar die voornaamwoord wat saam met ʼn voorsetsel optree, word dit een woord en dit verbuig: Dit is die motor waarmee my pa-hulle gaan wittebrood hou het. Hierdie nuwe woord is ook ʼn voornaamwoordelike bywoord.
  • Die -self by die wederkerende voornaamwoord word net gebruik om misverstand uit die weg te ruim. In die sin Alex wil hom skop, kan hom se referent Alex wees, of dit kan iemand anders wees. In die sin Alex wil homself skop kan die referent net Alex By noodsaaklik wederkerende konstruksies (Stefan vererg hom; Jessica skaam haar) kan daar nie verwarring wees nie – Stefan kan nie iemand anders vererg nie, en Jessica kan nie iemand anders skaam nie. In sulke gevalle is die vorm met -self ʼn stylfout. Lees meer onder aan hierdie bladsy.
  • Vroulike voornaamwoorde vir voertuie en vaartuie is ʼn Engelse ding, en dit word in Afrikaans as ʼn taalfout beskou om na ʼn motor of ʼn skip as sy te verwys. Lees hierdie blog vir ʼn volledige bespreking.
  • Dit is aanvaarbaar om manlike voornaamwoorde soos hy en hom vir niemenslike referente te gebruik, bv. Sy trek die jas uit en gooi hom op die bed. Lees hierdie blog vir ʼn volledige bespreking.
  • Dit is aanvaarbaar om die voornaamwoord hul as persoonlike en besitlike voornaamwoord te gebruik. Dit word in hierdie blog

Een laaste opmerking oor voornaamwoorde: Daar is tans ʼn groter bewustheid van die noodsaaklikheid van genderneutrale voornaamwoorde (in Engels word they al hoe meer aangewend, selfs vir enkelvoudige referente), veral in formele en akademiese kontekste. Daar is ʼn genderneutrale voornaamwoord vir ons in Afrikaans beskikbaar, naamlik sig (bv. Die deelnemer moet sig van die bepalings en voorwaardes vergewis), maar dit word as verouder en oordrewe deftig ervaar, en dit lyk op hierdie tydstip asof akademici eerder hulle verkies.

As jy meer inligting oor voornaamwoorde nodig het, gaan na Taalonderrigportaal op ons webwerf sodat jy toegang kan kry tot die Afrikaanse skoolgrammatika.

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.