Zoid nou beskermvrou van Borg ʼn Woord

RZA4 Epi1 01

Karen Zoid. Foto: Anelia Loubser/Verskaf.

Die Afrikaanse rock-sanger en kletsprogramaanbieder Karen Zoid gaan poog om die skat in woordeskat terug te sit. Sy is pas as die beskermvrou van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-projek aangewys en het reeds die woord “republiek” geborg.

“Ons het Karen gevra om beskermvrou te word omdat sy ikoniese status in die Afrikaanse musiekwêreld geniet en wyd gerespekteer word. Sy is buitengewoon begaaf en het aanhangers onder alle generasies,” sê dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT.

Enigiemand kan ʼn woord vir R100 borg, of ʼn woord koop vir R5 000. As jy ʼn woord koop vir R5 000 mag niemand anders daardie woord borg of koop nie. Meer as een persoon kan dieselfde woord vir R100 borg. Elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord wat hy geborg of gekoop het.

Volgens Botha het Borg ʼn Woord Afrikaanssprekendes bewus gemaak van die waarde van ʼn woord en ook van die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse woordeskat. Mense borg of koop woorde omdat dit ʼn besonder persoonlike bevrediging gee: Dit is jou woord. Dit is ook ʼn gewilde verjaardag- of Kersgeskenk.

Elke deelnemer kwalifiseer outomaties vir die prystrekking vir ʼn Sanlamprys van R25 000. Almal kry ook gratis toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ʼn woord borg of vir vyf jaar as jy ʼn woord koop.

Die volgende bekende persone het onlangs woorde geborg of gekoop:

  • Die skrywer, avonturier en dosent Johan Bakkes borg karnallie en karnuffel vir sy vrou Nanna, pantoffel vir sy seun Mark, spookasem vir sy dogter Cara, kabouter vir sy skoonseun Gallie en pallieter (“lewensgenieter”) vir homself.
  • Joan Hambidge borg goegeloer en vuisboek;
  • Steve Hofmeyr koop pampoen en toeka;
  • Rudolf en Sonia Gouws koop bolyf en slaggereed;
  • Die skrywer Wilna Adriaanse koop bobbelsee;
  • Chris Stals koop markekonomie;
  • Die skrywer Riëtte Rust borg emoji vir Coenie de Villiers;
  • die skrywer en vorige beskermheer van Borg ʼn Woord, Deon Meyer, koop nugter (vir Bennie Griessel) en spanning;
  • Die skrywer Ena Jansen koop abba;
  • Jan Braai koop braai;
  • Brand Pretorius koop dienende leierskap;
  • Jannie Mouton koop entrepreneur;
  • Boet Troskie koop filmbaas;
  • Johan Krige koop Kanonkop;
  • Hermann en Anette Giliomee koop wispelturig, snotklap, pantoffel, skattebol en kolwyntjie vir hul vyf kleinkinders;
  • Die skrywer Winnie Rust het ramkat en gedamasseerd ter herinnering aan haar pa (Boerneef se broer) geborg;
  • Oud-ambassadeur Albert Nothnagel borg parasitokrasie;
  • Skrywer Anzil Kulsen borg tirk (woord wat in Upington en omgewing vir ʼn padda gebruik word) en poenankies.

Ander interessante borgskappe is: Neels Borstlap borg borslap; Ockert Gouws borg namens sy ongebore babadogtertjie Petronella die woord mamma; Barry van der Westhuizen van die Sandveld borg ravot en latjiebeen; Wilhelm Sadie borg blymoedig vir Cebella Krige omdat sy die blymoedigste mens is wat hy ken; Johan Taljaard borg vinkel en koljander vir sy twee kleinseuns. Ook Nederlanders en Vlaminge borg en koop woorde en Erik Arys van Vlaandere het lugfietser (iemand wat droom, wat lugkastele bou) gekoop.

Die staat het die WAT se subsidie in die afgelope tyd drasties ingekort. Borg ʼn Woord is een van die wyses waarop die maatskappy die voltooiing van die grootste projek ooit in belang van Afrikaans wil verseker. Volledige inligting oor deelname aan Borg ʼn Woord is te kry by www.wat.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

SUSAN ·

Karen Zoid as beskermvrou van die Afrikaanse Woordeboek? Die advertensie waarin sy in engels met Abie praat en dan haar taal so meng is vir my net een te veel. Skakel dan sommer dadelik oor na iets anders sodat ek nie daarna moet luister nie. Het gedink mense op TV moet ‘n voorbeeld stel.

LEON ·

Ag siestog, maar julle is snedig! Ek gaan dadelik die woord “snedig” borg vir jou…

Maria van Dieweeck ·

Asseblief die woord ‘show’, ..daar moet tog n goeie Afrikaanse alternatief bestaan..en dis nie mo en po nie, maar ma en pa. Uitspraak is net so belangrik as die woorde!

Frans ·

Wat n jammerte dat n persoon wat dit moeilik vind om Afrikaans suiwer te gebruik wanneer sy dit praat so n rol vervul

Frans ·

Alternatief vir show,vertoning,opvoering,optrede,geleentheid

SUSAN ·

My kommentaar het darem iets goeds gedoen. Nog iemand gekry om ‘n woord te borg. Dankie Leon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.