Zwarrie-onnies: ‘Almal het ʼn storie om te vertel’

Juffrouens Yolandi du Plessis, Erika de Jager, Eleonor van den Heever, Tharien Groenewald en Lira Beukes (Foto: Verskaf)

Vyf Afrikaans-onderwysers van Hoërskool Zwartkop in Pretoria het besluit dat hulle talente nie langer in ʼn lessenaar se laai weggesteek kan word nie.

“Ons het een dag gestaan en gesels toe ons besluit om ʼn bundel van ons eie skryfstukke saam te stel,” vertel Yolandi du Plessis. “Ek en Tharien (Groenewald) het toe gespot en gesê dat ons eintlik die bundel vir onderwysers in die personeelkamer moet sit wat hulle tydens pouses kan lees.” Du Plessis het egter nie gedink dat dit ʼn werklikheid sou word nie.

Mettertyd is kollegas betrek en uiteindelik is die skryfstukke van Erika de Jager, Lira Beukes en Eleonor van den Heever saam met dié van Groenewald en Du Plessis byeengebring.

Een van die vier is dus ʼn versameling van ons eie gedigte en kortverhale,” vertel Groenewald.

De Jager verduidelik dat Martie van Niekerk, die skool se bibliotekaresse, se redigeringsvernuf ingespan is tydens die afronding. Die boek word op 15 Januarie by Hoërskool Zwartkop se hotelskool bekendgestel.

“Die titel verwys na die vier seisoene,” vertel Du Plessis. “Die eerste uitgawe fokus op somer en daarom is die uitleg en illustrasies ook volgens die tema uitgekies.”

Die vyf skrywers poog om nóg drie bundels die lig te laat sien.

“Ons beplan om later vanjaar die herfsuitgawe uit te reik.” Daarna sal die winter- en lenteuitgawe ook gepubliseer word.

Die doel met die bundel is om hul kreatiwiteit vas te vang en met die gemeenskap te deel.

“Ons wil hê dat Een van die vier gelees en geniet moet word. Miskien kan lesers hulself iewers vereenselwig met die woorde van die digters of die situasies van die kortverhaalkarakters.”

Een van die vier kos R190 en is slegs beskikbaar per bestelling. Om die bundel te koop of die boekbekendstelling by te woon stuur ʼn e-pos na Eleonor van den Heever by [email protected] of na Yolandi du Plessis by [email protected].

Lees hier een van die kortverhale in die bundel:

Geel rose

deur Yolandi du Plessis

Sedert hulle ses maande gelede hierheen getrek het, hou hy die ou man elke middag dop. Dis nie asof hy hom afloer nie, sy lessenaar is teenaan die venster geskuif.

Hy het elke dag min of meer dieselfde roetine. Eers loop hy by die voorhek uit en tel al die rommel van die sypaadjie op. Daarna sleep hy ʼn dun tuinslang langs die huis verby en gee die bedding teenaan die grensmuur water.

Hy praat graag met homself – of miskien met die plante. Sy lippe prewel terwyl hy die blomme langsaam natlei.

Daar is ʼn rustige, dog hartseer uitdrukking op die ou man se gesig wat hom laat wonder watter stampe en stote die lewe al aan hom uitgedeel het. Wat sal hy, ʼn bogsnuiter en nat-agter-die-ore, in elk geval van die lewe verstaan? Hartseer is wel ʼn universele taal wat deur almal gepraat word – ongeag wie jy is.

Na presies tien minute se natspuit gaan haal die man ʼn emmer en klein tuingereedskap. Hy gooi ʼn ou handdoek langs die bedding oop en spit sorgvuldig die grond om terwyl hy die fyn onkruid uittrek. So skuifel-skuifel die ou man al op sy knieë langs. Die laaste ritueel wat hy uitvoer, vat ook die langste.

Dis dan wat die seun besluit om af te stap kombuis toe om die toebroodjies en sap wat Lina vir hom reggesit het, vinnig te verslind en dan weer voor die boeke in te skuif voordat hy té veel van die ou man se roetine mis.

Maar vandag is daar ʼn effense verandering. Gewoonlik vertroetel hy die enkele roosboom wat in ʼn alleenbedding in die middel van die voortuin staan. Dit lyk kompleet asof hy partykeer die boompie – met sy kanariegeel roosknoppe – aanbid. Vandag is hy egter besig om die nuwe knoppies af te breek en ʼn bossie rose bymekaar te maak. Hy beplan heelwaarskynlik om dit vir iemand te gee. Mamma sê die ou oom is heel aangenaam al lyk dit nie op die oog af so nie, sy dink hy is bitter alleen.

Met die bossie in sy tuinhandskoen vasgeklem, is hy by die voordeur in. Dit is die laaste wat hy hom gesien het.

Die volgende middag is Mamma tuis toe hy van die skool af kom. Hy neem sy middagete en stap dadelik na sy kamer sodat die vertoning kan begin. Maar hy kyk in ʼn ambulans vas wat in die netjiese oprit geparkeer is. Twee noodpersoneel staan en gesels toe hy sy ma gewaar in hul rigting loop. Hulle gee iets wat soos ʼn kleinerige boksie lyk, vir haar.

Die aand sit hul om die etenstafel en Pa is die een wat uitvra na die gebeure langsaan. Ma tel haar kop stadig op en vertel ʼn hartseer verhaal dat tot hy ʼn knop in sy keel kry.

Die boksie staan op sy ma se spieëlkas toe hy verby die kamer loop. Hy kon sy nuuskierigheid nie keer nie en lig die deksel. Onder die bossie geel rose lê ʼn briefie: “Liefste Gertruida. Ek sien jou binnekort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Fransie ·

Kort en kragtig en praat diep met mens. Uitstekend en ek hoop julle gaan baie suksesvol wees.

Juffie ·

Juffies, julle kry sommer 20/10! Ek hoop ander skole “steek” by julle aan.

Andre ·

‘Woorde wek maar dade trek’ … dáár waar die tekkie die teer tref! In die klaskamers!

Pragtige voorbeeld wat die TAALONNIES stel!

Ek sal graag ‘n kopié van elke ‘pennevrug’ wil aanskaf!

DJ ·

Nou kry hul dubbed salaris. Plegs doen hul net hul werk. Te veel tyd onderwysers deesdae.

Yolandi Du Plessis ·

Ai DJ. Dis jammer dat jy so daaroor voel. Ons skryfstukkies is goed wat ons al oor baie jare lank bymekaarmaak. Baie min daarvan is onlangs geskryf. Onderwysers is eintlik regtig baie besig en veral taalonderwysers het baie merkwerk. Ek stel voor dat jy een dag by ‘n skool gaan inloer en saam met ‘n onderwyser sy dagtaak beleef. Ek dink jy sal vriendelik verras word wanneer jy sien wat onderwysers alles doen.

Vir al die onderwysers daar buite, dankie vir julle harde werk en dit wat julle vir ons jeug doen en beteken.

doringplant ·

Steur julle geensins aan DJ se ‘kommin’taar nie. Daar sal altyd dissels en dorings wees wat die rose nie sonskyn gun nie.

Tharien Groenewald ·

Liewe DJ

Ek sien jy skryf dat ons dubbeld ons salaris verdien. Ek verstaan nie wat jy daarmee bedoel nie, maar as jy dalk dink die bundel bring vir ons ‘n geldjie in, maak jy ‘n fout. Ons skryfsels in hierdie bundel kom uit ons hart, ons verdien niks ekstra hieruit nie.
Mooi dag!

Anina Brits ·

Welgedaan, kollegas, ek is trots op julle, beslis ‘n voorbeeld vir ons ander!

susan ·

Gee vir DJ 180 Engelse of Afrikaanse opstelle om te merk. Jy is totaal uit jou diepte uit broer. Net ‘n dwaas sal so-iets kwytraak.

Jax ·

Aan die onnies – Baie knap van julle. Dankie vir als wat julle vir die kinders doen en vir hulle beteken. Ek haal my hoed vir julle af!
Ek loop gister in n winkel rond en hoor twee vrouens praat. In hul gesprek met mekaar, Kom ek toe agter hulle is onnies wat vir hul klasse nuwe goedjies koop om die kinders beter toe te rus in die nuwe skooljaar. Hulle het allerlei speletjies en Ander interessante goedere gekoop om Ander mense se kinders les voor te gee. Dit in die laaste Paar dae van vakansie wat hulle met familie en vriende kon deurbring.
n Onderwyser se werk hou nooit op nie. Dit is n 24/7 werk waarvoor hulle peanuts betaal word. As jy dink dié onnies sit en tjol rol, maak jy n lelike fout. Daai gedigte is waarskynlik geskryf vir om stoom afblaas na n Baie Lang en dikwels moeilike dag in n klaskamer waar kinders maak en breek soos hulle Wil en die onnies is magteloos gelaat want hulle mag nie Meer stout kinders straf nie – Dan praat ek nie eens van die lae slaagsyfers wat hulle maar net moet toelaat nie.
Ek Sal nooit weer negatief my mond oopmaak oor vandag se onnies nie. As jy die een is wat dit wel doen, is dit waarskynlik jou telgies wat onnies na trane van frustrasie dryf
Dankie liewe onnies – julle is altyd in my gebede!

Yolandi du Plessis ·

Sjoe, dankie aan almal se positiewe steun en kommentaar. Ons waardeer dit baie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.