Die Liewe Heksie Omnibus

Verna Vels, Piet Grobler

Die Liewe Heksie Omnibus bevat een-en-dertig stories waarin die bekoorlike klein karaktertjie en haar maats, Blommie Kabouter, Karel Kat, Kwaaitjie Kabouter en vele meer weer oud en jonk laat skaterlag met hulle mannewales. Die stories is ’n versameling uit die bundels: Lekker Liewe Heksie-stories en Die groot Liewe Heksie-storieboek wat in 1983 uitgegee is – met stories soos: Liewe Heksie kry ’n verjaarsdag, Liewe Heksie en die motor, en Liewe Heksie kry ’n kat.

Bekende kunstenaar Piet Grobler se tekeninge vang die en humor en deernis in die verhaaltjies en karakters uitstekend vas.

Oor die outeur
Verna Barbara Robertson Vels is op 13 Junie 1933 op Reitz in die Vrystaat gebore. Sy voltooi haar skoolloopbaan op dié dorp en gaan in 1952 na die Universiteit van Pretoria. In 1954 behaal sy ín BA-graad met drie hoofvakke, Afrikaans/Nederlands, Engels en Kunsgeskiedenis. In Desember 1954 begin sy by die SAUK in Durban werk as omroeper, en vir die res van haar professionele loopbaan sou sy betrokke wees by die radio- en televisiewese. In 1963 word sy na Johannesburg verplaas waar sy vir etlike jare die vroue-, kinder- en kunsprogramme behartig. In 1968 werk sy in Hilversum, Nederland, vir die buitelandse diens van Radio Suid-Afrika. In die middel 1970’s maak Verna ’n loopbaanskuif van radio na televisie – aanvanklik as regisseur en met haar aftrede in 1993 is sy die vrou met die hoogste uitvoerende posisie by die Suid-Afrikaanse televisiediens.

Die Liewe Heksie-stories is aanvanklik as radioverhale aangebied en die eerste een is in 1961 op die kinderprogram Siembamba uitgesaai. Twee jaar later is daar met ín reeks radioverhale begin en in 1965 het die eerste boek by Human & Rousseau verskyn. Liewe Heksie is later vir televisie verwerk en op video uitgereik, dit is op plaat, kasset en CD vrygestel. Liewe Heksie en die rekenaar het in 1999 verskyn en is met die Tienie Holloway-medalje, ATKV-kinderboektoekenning en C.P. Hoogenhout-toekenning bekroon.

Piet Grobler is op 26 September 1959 op Nylstroom gebore. In 1977 matrikuleer hy aan Hoërskool Warmbad. Hy studeer aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1981 die BA- en in 1984 die BD-graad behaal. In 1984 word hy predikant in die Hervormde Kerk. In 1989 tree Piet uit die bediening en in 1990 behaal hy ’n honneursgraad in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy word hierna grafiese ontwerper by Sanlam se advertensie- en publikasie-afdeling. Intussen studeer hy verder in grafiese ontwerp en behaal in 1993 die N6 Diploma in Grafiese Ontwerp aan die Kaapstadse Tegniese Kollege. Sedert 1996 is Piet ’n vryskut-kunstenaar en kinderboek-illustreerder. In 2001 was hy die feeskunstenaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn.

Piet het al ’n hele paar internasionale toekennings ontvang soos die Silwer Medalje van die Noma Concours (Japan) in 1997 vir Hier is ek en weer in 2003 vir Sun Canary, Moon canary!, die Octogene de Chêne (Frankryk) in 1999 vir Karnaval van die diere en die Primo Alpi Apuane (Italië) in 2000 vir Karnaval van die diere. Op die plaaslike toneel is hy al met die Tienie Holloway-medalje, die Katrine Harries-toekenning en die M.E.R.-prys bekroon. Piet Grobler woon en werk sedert 2009 in Engeland.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R147,95*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Ek dink hierdie boek is ‘n moet in elke Afrikaanse huis – dit is ‘n stukkie Afrikana! Ek sal dit vir my dogtertjie moet kry, maar ook sodat ek weer lekker kan saamlees…

Anoniem ·

Wat ‘n terugblik :-)… ek dink die idee dat ek eendag graag ‘n sterredak wil he kom juis van Liewe Heksie. Hierdie is verseker ‘n moet-he-boek*

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.