[email protected]

Carina Diedericks-Hugo

Thomas se lewe suig harder as ’n stofsuier. Hy is kniediep in die moeilikheid omdat hy ’n leë koeldrankblikkie geskop het en dit per ongeluk die skoolhoof, meneer Volschenk, teen die kop getref het. Nou moet hy mure verf en allerhande goor werk by die skool doen om te keer dat ou Oros-man hom uit die skool skop. En waar hy gewoonlik op sy pelle kan reken, laat hulle hom hierdie keer liederlik in die steek. Hannes, Lukas en Thabo begin ’n band – sonder om vir Thomas te sê of om hom in te sluit – en besluit om deel te neem aan die rock-kompetisie wat by Hoërskool Leeukop gehou word. Immers het Thomas sy meisie, Alex.

Die enigste probleem is dat sy en Hannes skielik heeltemal te veel tyd in mekaar se geselskap spandeer. Wanneer die sepiester Fleur Vermaak weer haar verskyning in Thomas se lewe maak, begin dinge lelik skeef loop. Vir die eerste keer in sy lewe voel dit vir Thomas of nie eens ’n pizza hom weer gaan laat glimlag nie. Intussen lyk dit of Hannes-hulle se band nie die enigste groep is wat die kompetisie wil wen nie. En iemand besluit hy sal enigiets doen om te wen – selfs al beteken dit dat iemand kan seerkry …

[email protected] is die agtste boek in die gewilde Thomas@-reeks waarvan daar altesaam reeds meer as 150 000 kopieë verkoop het. Maar dié boek is anders as enige jeugboek wat al ooit in Afrikaans verskyn het. Dit bring aan die leser ’n geïntegreerde leeservaring met opwindende ekstras soos:

    • QR-kodes wat jou lei na ’n foto, klankgreep en video.
    • ’n Spesiale MXit-kanaal net vir Thomas en sy vriende.
    • Thomas en Thabo se nuwe gunstelingspeletjie, Fangs.
    • Die Radikale Rockfees se webblad waar jy self ’n rock-ster kan word en jou eie musiek kan meng.

Oor die outeur
Carina Diedericks-Hugo is gebore in Johannesburg en het grootgeword in Pretoria en Kaapstad. Na matriek aan Herschel Girls’ School in Kaapstad, studeer sy aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BA (Internasionale Studies), Honneurs Afrikaans en Nederlands (cum laude) en MPhil (Joernalistiek). Sy is die skrywer van die Thomas@-reeks en is al benoem vir die Sanlamprys vir Jeuglektuur en die M.E.R.-prys. Sy het die ATKV-Kinderboektoekenning reeds vyf maal gewen. As sy nie stories skryf nie, werk sy as uitgewerskonsultant, resensent en artikelskrywer. Sy bly saam met haar man, die digter Daniel Hugo, en drie katte in Stellenbosch. Sy put haar inspirasie uit haar man, bling-bling, sjampanje, sjokoladekoek sonder versiersuiker, Lady Gaga en Sondae op Greyton.

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R80,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.