Die beginsel van stof

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach se nuwe bundel is in ’n sekere sin ’n terugskouing op die lewe en die digkuns van die digter en het sterk outobiografiese elemente. Die tema van verganklikheid en oud-word loop sentraal, en daarmee saam die wisseling van plek en landskap. Die deernis en empatie met die mens en sy vreemde lewensverlope is aangrypend. Nog selde by hierdie digter het die landskap so ’n primêre en so ’n verhelderende rol gespeel as in hierdie bundel.

Eerlike en ongesmukte poësie, kompleks én eenvoudig. By uitnemendheid ‘n “wóórd”-bundel, een wat die taal self bemagtig. Hierdie nuwe bundel is werklik een van Breytenbach se sterkste bundels nog – ryk, aangrypend, wonderbaarlik, ’n testament vir Afrikaans.

Oor die outeur
Breyten Breytenbach word beskou as een van Afrikaans se grootste lewende digters. Hy is op 16 September 1939 in Bonnievale gebore. Hy matrikuleer in 1957 aan die Hoërskool Hugenote in Wellington en studeer aan die Universiteit van Kaapstad. Sy eerste gedigte verskyn in die studenteblad Groote Schuur in 1959. Hy verlaat Suid-Afrika en gaan na Parys, Frankryk in die 1960’s. Hy debuteer in 1964 met die vernuwende digbundel Die ysterkoei moet sweet en in dieselfde jaar verskyn ’n prosawerk Katastrofes.

Na sy huwelik met Yolande Ngo Thi Hoang Lien (dit beteken “Geel Lotus”), ‘n Franse vrou van Viëtnamese oorsprong, kan hy nie na Suid-Afrika terugkeer nie, weens die Wet op Gemengde Huwelike. In 1973 word ’n spesiale visum vir die eerste keer toegeken aan hom en Yolande en keer hulle, te midde van groot mediadekking, na Suid-Afrika terug vir ‘n skrywerskongres aan die Universiteit van Kaapstad. Tydens ’n besoek aan Suid-Afrika in 1975 met ’n vals paspoort word hy gearresteer op ’n klag van terrorisme en gevonnis tot nege jaar tronkstraf. Na sewe jaar word hy uiteindelik vrygelaat. Hy ontvang die Hertzogprys vir poësie in 1984 vir Yk, maar weier om dit te aanvaar.

Breytenbach se werk sluit poësie, romans, toneelstukke en essays in, waarvan die meeste in Afrikaans is en ’n aantal wat oorspronklik in Engels gepubliseer is. Die meeste boeke van sy boeke is in verskeie tale vertaal. Hy is ook bekend vir sy skilderwerk. Uitstallings van sy skilderye en afdrukke is gehou in verskeie stede insluitend Amsterdam, Stockholm, Parys, Edinburgh, en New York.

Hy ontvang die Hertzogprys vir poësie in 1999 vir Oorblyfsels: ‘n roudig en Papierblom . Sy digbundel, Die windvanger. (2007), is met die Universiteit van Johannesburgprys vir skeppende skryfwerk, die Hertzogprys én die WA Hofmeyr-prys bekroon. In 2010 ontvang hy die Mahmoud Darwish Prys, asook die Max Jacob Prys vir Outre Voix/Voice Over (uitgegee deur Actes Sud), die Franse uitgawe van Oorblyfsel/Voice Over (uitgegee deur Human & Rousseau).

Tans verdeel hy sy tyd tussen Europa (hy het Franse burgerskap), Afrika en Amerika. Hy is betrokke by die Gorée-instituut in Dakar, Senegal en by die Columbia Universiteit van New York waar hy klasgee in kreatiewe skryfwerk.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R170,00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.