Sê Amen

Sofia Smit

Sê Amen verskyn op lesers se aandrang vir die eerste keer in boekvorm.

Die rubriek uit die tydskrif Vrouekeur het al legendariese status bereik, want dis alombekend dat die meeste lesers Sofia Smit se rubriek heel eerste lees voordat hulle na die res van die tydskrif kyk. Die rubriek het aanvanklik: “Daarop kan ek amen sê“, geheet, maar het verander na “Sê amen” omdat Sofia elke week die laaste woord inkry.

In haar sewe en veertigste lydingsjaar beleef Sofia Smit ‘n annus horribilis wat die Britse koningsgesin se veelbewoë jaar na ‘n Sondagmiddagpiekniek laat lyk. Sofia se man, Basjan, is ‘n slagoffer van regstellende aksie, ‘n sepieslaaf en ‘n kampioensnorker, haar seun dra lyfjuwele en wil sy naam verander, en haar beste vriendin se sangtalent dreig om die plaaslike polisiediens te mobiliseer.

Sofia en Basjan open ‘n gastehuis, Blikkantien, op ‘n beeldskone Karoodorpie en word weldra opgeneem in die wel en weë van die kleindorpse bestaan. Deur haar “Sê Amen“-rubriek in Vrouekeur gee Sofia ‘n kostelike blik op die mense wat hul lewe kruis: ‘n beroemde “aktrize”, ‘n neusoptrekkerige sjef, ‘n vreesaanjaende filmresensent, ‘n magnaat wat Sofia in ‘n vliegrit oor die Karoo neem, en ‘n alien wat in ‘n gas se kameralens vasgevang word.

In Sofia se ryk herinneringslewe is daar ‘n ouwêreldse bioskoopvertoning waartydens ‘n meisie met ‘n opwiphoedjie en ‘n flitslig jou sitplek afslaan en namens jou “Excuse the patrons, ekskuus die patrone” vra.

Sofia neem jou op ‘n genotvolle en gebeurtenisryke tog deur die “sielsverrykende uitgestrektheid” van die sterreryke Karoo, totdat jy besef haar onrusjaar was bloot ‘n wankelende aanloop tot die ondervinding van ‘n leeftyd.

Sofia Smit het al twee Caxton-pryse gewen vir beste skrywer – een eerste prys en een naaswenner.

Sê Amen is beskikbaar by toonaangewende handelaars asook direk by Lapa Uitgewers. Skakel Lapa by 012 401 0700 of klik hier om hul webwerf te besoek.

Uitgewer: Lapa
Prys: R180-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.