Onderhoud: Dokumentêre rolprent oor plaasmoorde

Die rolprentvervaardiger Rian van der Walt het ʼn dokumentêre rolprent gemaak oor plaasmoorde in Suid-Afrika. ‘War of the Flea’ vertel aan die hand van statistieke, onderhoude en foto’s hoe boere wreed in Suid-Afrika vermoor word. Een van die plaasmoorde waarop daar veral klem gelê word in die rolprent is dié van die Potgieter-gesin van Lindley in die Vrystaat. Daar is onder meer onderhoude met familielede van die Potgieter-gesin. Daar is ook onderhoude met politieke navorsers en misdaadkenners terwyl daar ondersoek ingestel word na die redes vir plaasmoorde. Van der Walt het in ʼn onderhoud met Maroela Media verduidelik hoekom hy die dokumentêr gemaak het en wat hy daarmee wil vermag.

** Hoekom ʼn dokumenter oor plaasmoorde?

“Ek het besef dat die boere in Suid-Afrika nie ‘n stem het nie. Omdat ek in die TV-bedryf is het ek besluit om daardie stem te wees. Dit was nie maklik nie. Die inhoud van die film is nie juis polities korrek nie.”

** Hoekom het jy besluit om veral te fokus op die moorde van die Potgieter-gesin van Lindley?

“Dit was nie van die begin af die plan nie. Die dag toe ons in Lindley opdaag, het ek geen kontak met die familie gehad nie. Ek het bloot gegaan om die dorpie af te neem en het gedink ek sal die storie kortliks met ‘voiceover’ vertel. Wat daardie dag gbeur het is niks kort van ‘n wonderwerk nie. Ek het iemand ontmoet wat my voorgestel het aan Bokkie, Willemien se ouma. Vandaar het al die ander onderhoude ontwikkel. Ons is eers laat daardie aand daar weg en dit is toe dat ek besef het hierdie storie sal ‘n baie groot deel uitmaak van die film.”

** Is jy al self deur ʼn plaasmoord geraak? Het jy op ʼn plaas grootgeword?

“Nee nie self nie en ek het ook nie op ʼn plaas grootgeword nie. Het op Louis Trichardt gebly en was baie bewus van die plaasmoorde in die omgewing.”

** Wat hoop jy om te bereik met die dokumentêr?

“Bewusmaking van die probleem, plaaslik en internasionaal. Asook om die probleem beter te verstaan. Hoe meer inligting op die tafel is, hoe beter kan ons ‘n debat voer oor plaasmoorde. Ek besef ek het nie die antwoorde nie maar hoop dat ek kan bydrae tot die debat.”

** Wie is die teikenmark vir die dokumentêr?

“Almal, wit en swart. Wit, omdat hulle persepsie van die probleem baie keer uit die verkeerde plek kom en swart omdat hulle nie bewus is van die probleem nie.”

** Wie gaan die dokumentêr uitsaai en waar?

“Sover het ek nog geen uitsaaier nie. Dit is ‘n baie moeilike onderwerp waarvoor al die uitsaaiers in Suid-Afrika baie versigtig is. Ons leef in ‘n land waar ons so gefokus is om polities reg op te tree dat dit in die pad staan van die waarheid. Ek het van die begin besef dit gaan baie moeilik wees en dat dit makliker sal wees om iemand in die buiteland te kry om daarna te kyk. Hoop om die mense by kykNET te kry om daarna te kyk asook mense by die SAUK.”

** Van watter hulpmiddels maak jy gebruik in die dokumentêr?

“Ons het verskeie plase gaan besoek waar ons met van die slagoffers se familie gesels het. Het ook baie onderhoude gevoer met kenners op die gebied van misdaad. Statistiek maak natuurlik ook ‘n groot deel daarvan uit.”

** Dink jy die dokumenter gee ʼn akkurate weergawe van plaasmoorde in Suid-Afrika?

“Ek hoop so. Mense moet nie vasgevang word in die detail nie. Syfers word maklik rondgegooi en kan nie noodwendig bewys word nie. Ek dink wat verstaan moet word is dat daar ‘n probleem is en almal moet bewus wees daarvan. Hoe meer inligting beskikbaar is, hoe beter die besluite wat oor die probleem geneem word.”

** Word die dokumentêr aan die slagoffers van plaasmoorde opgedra?

“Die slagoffers is die werklike helde van die film. Hulle was bereid om my in hul huise in te neem en hulle diepste smart met my te deel. Ek hoop hierdie film eer die vertroue wat hulle in my gestel het.”

** Is die doel van die dokumentêr om te skok of verandering te weeg te bring?

“Ja die skok-faktor is beslis in berekening gebring maar ek was baie versigtig om dit nie te ver te dryf nie. Sou jy die film kyk moet jy nie halfpad ophou kyk omdat dit te erg is nie.”

** Hoekom die naam ‘War of the Flea’?

“War of the Flea: Analogically, the guerrilla fights the war of the flea, and his military enemy suffers the dog’s disadvantages: too much to defend; too small, ubiquitous, and agile an enemy to come to grips with. If the war continues long enough – this is the theory – the dog succumbs to exhaustion and anemia without ever having found anything on which to close its jaws or to rake with its claws – Robert Taber. In dié geval kan die ‘boere’, as ʼn groep, beskou word as die ‘hond’ en hulle word  uit verskillende rigtings aangeval. Maar hierdie is nie noodwendig ʼn beplande groepsaanval nie. Verskillende individue wat niks van mekaar weet of met mekaar te doen het nie, werk tot dieselfde doel. En uiteindelik is die ‘hond’, die boere as ʼn groep, te swak om hulself te verdedig.”

** Hoekom is die dokumentêr in Engels?

“Daar is dele wat in Afrikaans is met subtitels maar die meerderheid is in Engels sodat die film ʼn beter kans staan om aanvaar te word in die buiteland.”

** Wie is Rian van der Walt?

“Ek is 40 jaar oud en is in Pretoria gebore maar het in Louis Trichardt grootgeword. Ek is reeds 20 jaar in die TV-industrie. Ek is ‘n pa met drie kinders, om ‘n pa te wees, het my laat besef dat slegte dinge in die wêreld gebeur en dat die wêreld nie ʼn beter plek sal wees as ons nie self probeer om dit beter te maak vir die wat na ons kom nie. Boere word vermoor en ons gee nie genoeg om nie, ek het dit op my geneem om mense in te lig sodat hulle meer sal omgee en miskien kan ons saam die wereld ʼn beter plek maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

rassehund ·

terrible,very sad what I have seen in these videos.The word needs to know what is going on in South Africa.
And Malema is the one who actually calls out to” kill the boer ”
How can a so called democratical gouvernment allow this?why don`t they jail this unperson Malema ?
or is Malema only openly shouting out what the black government thinks? it`s a week government,that we know.shame on them!
I really feel sorry for any person being governd by such an government.
(sorry for writing this in english,but Iam german-speaking,learning Afrikaans,but my Afrikaans is not good enough yet to express my anger)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.