CD-bekendstelling: FAK-liedjies kry splinternuwe baadjie (Video)

Die sanger, Andries-Hendrik Potgieter, tydens die bekendstelling van sy album, Rooiwarm, by die Voortrekker Monument in Pretoria.

“Afrikaners het ʼn ryk kultuurskat geërf. Ons jonger generasie is egter in ʼn ander era en dit is belangrik om dié skat aan hulle oor te dra ten einde te verseker dat hulle ook die kultuur ervaring beleef”. Dit was die woorde van dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die FAK, tydens die bekendstelling van Andries-Hendrik Potgieter se album, Rooiwarm, op 19 Oktober by die Voortrekker Monument in Pretoria.

Rooiwarm beloof om oud en jonk weer opnuut ʼn warm gevoel onder die hart te gee met ou Afrikaanse liedjies wat daar weer nuwe lewe ingeblaas is. Die album bevat 14 verwerkings van nagenoeg 34 FAK-liedjies soos Sarie Marais, Die Alibama en Bobbejaan klim die berg. Potgieter se bestuurder en hoof van SyAn Productions, Sya van der Walt, sê dit sal ook die eerste keer wees wat Sarie Marais beskikbaar sal wees op iTunes. “Die album sal meer as 400 musiekwinkels regoor die land beskikbaar wees en sal ook regoor die wêreld beskikbaar wees vir aflaai op die internet”.

Die album is die voorloper van die 75ste viering van die FAK-sangbundel volgende jaar. Dr Brink sê die FAK is baie opgewonde oor die Rooiwarm-album aangesien dit meer lewe sal blaas in die sangbundel. “Die feit dat daar tans steeds sowat 500 FAK-sangbundels per jaar verkoop word, spreek boekdele van Afrikaanse mense se wense oor hierdie bundel en sy inhoud. Daarom is die FAK so opgewonde oor die Rooiwarm album Potgieter. Ons glo dat die CD soos soetkoek sal verkoop en dat dit nóg meer lewe sal blaas in die sangbundel, wat reeds oënskynlik geen einde ken nie. Mag hierdie CD ons volkie opnuut weer in Afrikaans laat sing en mag die skatkis van Afrikaanse musiek van 1937 tot 2011 deur middel van hierdie pragtige projek bewaar en versterk word”.

Die bekendstelling van Rooiwarm het met tradisionele volkspele gepaard gegaan.

Potgieter sê as agterkleinseun van die Groot Trek-leier, Andries Hendrik Potgieter, is dit vir hom die grootstevoorreg om deel te wees van die herlewing van ons herkoms en kultuur. “As kunstenaar het ek die verantwoordelikheid om elke dag die waarde van goeie keuses aan ons huidige generasie oor te dra en te help om hulle toekoms te bou. Kuns en kultuur is die instrumente wat ons aan dit wat goed is, en goed was, herinner. FAK, jy is die middelpunt van dit wat ons as Afrikaners so uitsonderlik maak. Ek is trots op my herkoms! Daar is niks groter as dit om mee te spog nie”.

Lees meer oor die album Rooiwarm.

http://youtu.be/HBuCAkjqWSw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.