Geheime van sukses (vervolg)

(Lees die eerste gedeelte van Geheime van sukses hier)

Die Sfinks het gevra: Wat is die geheim van sukses?

En die Pil het geantwoord: Moet nooit bitter raak nie.
En die Posseël het geantwoord: Jy moet bereid wees om ver te gaan.
En die Potlood het geantwoord: Bly by jou punt.
En die Pyl het geantwoord: Wees reguit.
En die Rek het geantwoord: Moenie oorspanne raak nie.
En die Sampioen het geantwoord: Groei! Groei! Groei!
En die Skaal het geantwoord: Wees ewewigtig.
En die Skaduwee het geantwoord: Sorg dat jy naby die grootbaas bly.
En die Son het geantwoord: Bring lig, nie net hitte nie.
En die Steen het geantwoord: Wees hardgebak.
En die Steenkool het geantwoord: Selfopoffering.
En die Ster het geantwoord: Skitter.
En die Tafel het geantwoord: Staan stewig.
En die Tandeborsel het geantwoord: Herkou ʼn ding voordat jy dit sluk.
En die Telefoon het geantwoord: Kry antwoorde van die mense by jou.
En die Teleskoop het geantwoord: Kyk ver, al weet jy jy sal nooit daar kom nie.
En die Tol het geantwoord: Om staande te bly, moet jy spoed hê.
En die Toring het geantwoord: Mik wel na die sterre, maar anker jou stewig op die aarde.
En die Troffel het geantwoord: Moenie skrik vir morsige werk nie.
En die Tuin het geantwoord: Moenie laat die vuilgoed groot word nie.
En die Vensterruit het geantwoord: Bly deursigtig.
En die Veer het geantwoord: Gee mee, maar kom terug na die basiese.
En die Verloofring het geantwoord: Sorg dat mense jou sien skitter.
En die Vurk het geantwoord: Moenie jou oorlaai nie.
En die Wilger het geantwoord: Wees so ontspanne as wat jy kan.
En die Wind het geantwoord: Moet nooit gaan lê nie.
En die Woordeboek het geantwoord: Wees sistematies.
En die Wortel het geantwoord: Sorg dat jy lof kry.
En die Ysblokkie het geantwoord: Bly koel.

En hulle had almal reg, maar elkeen slegs op eie beperkte wyse. Wat jy sien, hang naamlik nie bloot af van waarna jy kyk nie, wat regtig tel, is waarmee jy kyk. Daarom is die Oog se raad die beste – dit hang af uit watter hoek jy die ding sien: Bekyk ʼn saak van alle kante, en sien dit in perspektief.

Oorspronklik gepubliseer in die boek, Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink en geïllustreer deur Piet Grobler.
Uitgegee deur Tafelberg Uitgewers, 1998

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.