Beweging se Tienpunt Diensleweringsplan vir toekoms

Flip-Buys-Toekomsberaad

Flip Buys die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema.

ʼn Omvattende plan om te sorg dat dienslewering verbeter, vorm deel van die Solidariteit Beweging se beplanning wat by eerskomende Saterdag se Toekomsberaad bekendgestel gaan word.

Die uitgangspunt van die diensleweringsplan is dat hardwerkende belastingbetalers geregtig is op behoorlike dienste in ruil vir hul belastinggeld. Daarom is ons beweging se plan daarop gemik om die regering op alle vlakke aanspreeklik te hou en om te sorg dat hulle hul werk doen. Hierdie strategie berus op tien planne wat gesamentlik uitgevoer gaan word.

1. Monitering- en Waghondfunksie

Die organisasies in ons beweging soos AfriForum, die Helpende Hand, Solidariteit en die FAK gaan as “waghonde” optree om te verseker dat die regering doen waarvoor hulle betaal word. AfriForum moniteer byvoorbeeld regeringsfunksies soos munisipale dienste, veiligheid, watergehalte en die omgewing. Die Helpende Hand doen dieselfde met die verskaffing van maatskaplike dienste aan bejaardes en hou die regering, waar nodig, op hul tone. Solidariteit hou die groeiende rassewetgewing dop, blaas die fluitjie waar nodig en neem klagtes wat nie opgelos word nie, selfs na internasionale liggame soos die VN. Die FAK kyk na die regering se hantering van belangrike sake soos die vak geskiedenis op skool en sorg dat ons verlede nie gekriminaliseer word nie.

2. Onderhandeling met die owerhede

Probleme word onmiddellik met die betrokke owerheid opgeneem, met die doel om die kwessie deur middel van gesprekke op te los. Ons doel is om waar enigsins moontlik, ʼn goeie werksverhouding met die owerheid te  handhaaf, deur goeie betrekkinge na te streef.

3. Aanspreeklikheid

In die praktyk is dit ongelukkig nie maklik om met goeietrougesprekke probleme op te los nie. Die grootste versperring is om toegang tot die owerheid te kry, as gevolg van ʼn gebrek aan politieke wil en onbevoegde amptenary. Wanneer onderhandeling oor ʼn brandpunt soos riool wat in riviere loop nie slaag nie, het AfriForum nie ʼn keuse as om die hof te nader om ʼn hofbevel te kry nie. In die hofbevel word gewoonlik bepaal dat die skuldige munisipaliteit deurlopend met Afriforum moet praat en terugvoering oor die vordering moet gee, wat dan gemonitor word.

4. Selfdoen veldtogte

Sommige staatsinstellings het al so verval dat hulle nie meer in staat is om hul werk te doen nie. Dan spring die Beweging se instellings soos AfriForum self in en sorg byvoorbeeld daarvoor dat ʼn dorp se krag nie deur Eskom afgesny word omdat die munisipaliteit nie die dienstegeld oorbetaal het nie. Net so sal die Helpende Hand optree om ʼn ouetehuis se watertoevoer te herstel, of sal die FAK self begin om geskiedenishandboeke te skryf. Hoewel ons besef dat belastingbetalers geregtig is op behoorlike dienste, het ons nie ʼn keuse as om in die geval van nood in te tree met ʼn Selfdoenprojek nie. Ons kan nie toelaat dat die gemeenskap se belange onherstelbare skade ly weens lui of onbekwame amptenare nie.

5. Geld terugeis van die owerheid

Omdat ons nie kan toelaat dat die owerheid met growwe pligsversuim wegkom nie, stel ons, waar enigsins moontlik, eise in om die onkostes te verhaal. Belastingbetalers moet kry waarvoor hulle betaal en dis tog nie vir die Beweging moontlik om sonder belastinginkomste alle dienste te lewer nie. Afriforum het al talle suksesse hiermee behaal, waar munisipaliteite gedweë rekenings betaal nadat dringende dienste gelewer is, soos groot slaggate wat herstel of water wat gesuiwer is. Ongelukkig werk dit nie in alle gevalle nie, maar ons sal voortgaan om op hierdie strategie voort te bou.

6. Verdere optrede

Dit is noodsaaklik dat hoogsbetaalde amptenare of staatsinstansies nie wegkom met vrot dienslewering nie. Daarom word hierdie gevalle verder geneem na alle moontlike forums om probleme op te los, of te keer dat dit weer gebeur. Hierdie forums wissel na gelang van die probleem, maar dit kan die Ouditeur-Generaal, die Openbare Beskermer, ʼn bepaalde minister, ʼn parlementêre portefeuljekomitee, ʼn opposisieparty, die media of ander gemeenskappe wees. So het Solidariteit byvoorbeeld met groot sukses die Pamodzi BEE korrupsie na die parlementêre portefeuljekomitee geneem, wat tot optrede teen die skuldiges gelei het.

7. Gemeenskapsdienste aan Afrikaners

Dit is ongelukkig so dat regeringsbeleid groot sakereuse dwing om te diskrimineer op grond van ras. Vanweë hierdie uitsluiting kry wit jongmense nie toegang tot studiegeleenthede soos vakleerlingskappe of finansiële studiehulp nie. Omdat dit ingevolge huidige wetgewing nie maklik is om hierdie sake in die hof te beveg nie, lewer ons self hierdie dienste deur die stigting van ʼn tegniese kollege of deur ons eie studieskemas.

8. Gemeenskapstrukture

Mense kan nie op hul eie maklik ʼn verskil maak nie. Daarom is die Solidariteit Beweging uitgebou tot ʼn moderne Helpmekaarbeweging van sterk selfdoen-organisasies met strukture in feitlik elke gemeenskap. Hierdie strukture se doel is om deur gesamentlike optrede met die owerhede te skakel en dien ook as verbindingskanaal met die hoofkantore van die Beweging. Hulle lewer ook dienste waar en wanneer nodig.

9. Groeiende Selfstandigheid

Ons siening is dat die enigste oplossing vir swak staatsbesluite, selfbesluite is. Daarom moet ons instellings sterk genoeg uitgebou word om self besluite te kan neem en dit uit te voer. Die vlak van selfstandigheid word bepaal deur faktore soos die betrokkenheid van plaaslike leiers, die demografie, houding van die betrokke owerheid en die plaaslike omstandighede. Ons doel is om die aantal dienste en die vlak van selfstandigheid van die betrokke dienste, so wyd en hoog as moontlik te ontwikkel.

10. Plan A en B

Ons Beweging se plan is nie om onsself af te sonder of om in konflik met die owerhede op te tree nie. Maar ons kan ook nie net sit en wag dat dinge vanself regkom nie. Terwyl ons die rol van opposisiepartye ondersteun, is ons taak nie op partypolitieke terrein nie. Ons werk eerder aan praktiese oplossings, omdat ons glo dat ons so ʼn groter verskil kan maak omdat ons gemeenskap meer “weeg” as “tel”. Daarom werk ons steeds aan “Plan A” oftewel die gewone demokratiese prosesse, maar die glybaan waarna groot dele van die land afgly, maak dit nodig dat ons ook ons “Plan B” vir selfstandigheid versnel en vergroot.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wicus ·

Ek begin baie opgewonde raak, daar is besig on ‘n plan te ontwikkel waarmee ons kan identifiseer, ‘n plan wat op sukses gaan uitloop!

Ons het weer ‘n duidelike doelwit, die toekoms roep al harder!!!

Ludwig Myburgh ·

Alhoewel ek in beginsel Flip Buys se standpunt steun om ons Afrikaners en die res van die blanke bevolking wat met ons Afrikaners se westerse norme en waardes identifiseer, voel ek dat Flip en sy span die os voor die wa span. Ons moet eers ‘n veilige omgewing skep voordat daar begin kan word met die opheffig en bemagtiging van ons Afrikaner en blanke gemeenskap. Dit alleenlik kan ons doen deur kulturele selfbeskikking met munisipale status om vry en onafhanlik te kan funksioneel binne ons eie grond gebied.
Ons moet uit die multi-kulturele samelwing beweeg d.m.v kulturele selfbeskikking want die afgelope 21jaar het ons ‘n groot prys betaal deurdat die ANC self bewys het dat ‘n multi-kulturele samelewing rampspoedig en ‘n doodgebore ideaal is!! In Europa met die vlugteling krisis asook in Amerika is dit ook bewys.
Om oor die lang termyn die regering te dwing om hulle werk te doen is bloot nie volhoebaar nie.

Henry ·

Solidariteit kan seker nie te ver verkeerd wees indien hulle die ‘os voor die wa’ inspan, soos jy sê nie. Andersom sou dit waarskynlik ‘n probleem gewees het, of hoe?
Hoe en waar moet tewerk gegaan word deur ‘n minderheid van ongeveer 3 miljoen Afrikaners, om eers “kulturele selfbeskikking met munisipale status” te verseker, in ‘n land waar 50 miljoen siele uit nie-Afrikaners bestaan?

Ludwig Myburgh ·

Alhoewel ek in beginsel Flip Buys se standpunt steun om ons Afrikaners en die res van die blanke bevolking wat met ons Afrikaners se westerse norme en waardes identifiseer, voel ek dat Flip en sy span die wa voor die os span. Ons moet eers ‘n veilige omgewing skep voordat daar begin kan word met die opheffig en bemagtiging van ons Afrikaner en blanke gemeenskap. Dit alleenlik kan ons doen deur kulturele selfbeskikking met munisipale status om vry en onafhanlik te kan funksioneel binne ons eie grond gebied.
Ons moet uit die multi-kulturele samelwing beweeg d.m.v kulturele selfbeskikking want die afgelope 21jaar het ons ‘n groot prys betaal deurdat die ANC self bewys het dat ‘n multi-kulturele samelewing rampspoedig en ‘n doodgebore ideaal is!! In Europa met die vlugteling krisis asook in Amerika is dit ook bewys.
Om oor die lang termyn die regering te dwing om hulle werk te doen is bloot nie volhoebaar nie.

Theo ·

Ek is seker daarvan dat Solidariteit na ander idees en/of voorstelle sal luister.

Ludwig Myburgh ·

Ja, ek gaan verseker by die toekomsberaad wees nadat ek die oggende ‘n funksie by die kerkplein het ter ere van oom Paul Kruger.

Ek glo hulle sal ‘n vrae en antwoord sessie aanbied soos die vorige keer en sal elk geval die stelling maak of self persoonlik dit met Flip Buys bespreek.

Theresa ·

Baie dankie aan Flip Buys en sy span denkers. Dit gaan van ons afhang of dit positief benut en uitgevoer word.

AlwynBeetge ·

Ek hou van Afriforum/Solidariteit se realistiese en praktiese benadering tot die huidige politieke dilemma.

Peet J ·

Ooreenkomstig die geskiedenis van die blanke Afrikaner nasie is laasgenoemde nie bereidwillig om hom deur ‘n ander nasie te laat regeer nie. Die Afrikaner het een opsie en dit is om af te stig van die huidige owerheid nie met politieke gewin nie (Boer maak ‘n plan)
Verder is die owerheid besig met ‘n aanslag nl. doelgerigte integrasie bestuur, teen die blankes dit is orals waarneembaar wat natuurlik ook geestelike verval gaan veroorsaak.

Marius van Niekerk ·

Dankie!! Baie dankie, Flip Buys en span, vir julle heldhaftige optrede. Dankie vir leiers soos julle. Was dit nie vir julle nie, WIE sou ons gehad het ?

Dorethea Herbst ·

Julle het goeie voornemens. Dis vir my net onaanvaarbaar dat daar in jul 10-punt plan woorde gebruik word soos “vrot; ons taal kan beter aangewend word en meer respek afdwing. ‘n Woord soos “vrot” geld vir ‘n eier, en behoort nie gebruik te word aangaande mense nie. Hierdie is ‘n enkele voorbeeld. Wees net bedag daarop dat skrywers meer nadenkend kan wees. “Besonder swak/onbevredigend” is ook maniere wat gebruik kan word. In die eerste plek wil julle of ons tog respek afdwing, maar dan moet ons ook ons misnoeë met omsigtigheid te kenne gee. Ek erken dat dit regtig meestal die geval is.
Anoniem

Charmaine Badenhorst ·

Jammer ek is engels boertjie en wil net se ek is vandag bitter hartseer oor die land en hoe ons as wit Suid Afrikaners behandel word. Ek het nie apartheid ingestel nie maar nou moet ek en my kinder daar onderly omdat ons te wit is om by die myn naby ons huis te kan werk. want hoekom swart mense is die enigste mense wat mag daar aangestel word, of hulle gekwalfiseer is of nie. En so sit ons in sak en as

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.