Geheime tienpuntplan om universiteite te verwoes

flip buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging Foto: Reint Dykema.

“Kaders en kamerade,” sê die voorsitter amptelik voordat hy vervolg: “Ek het skokkende nuus.” Die kaders en kamerade spits hul ore en skuif tot op die punt van hul sagte stoele. Almal wil die eerste wees om die skokkende nuus van die voorsitter te hoor, en almal wil hê dat almal moet sien hoe geskok hulle is. “Wat is so skokkend, kameraad voorsitter,” vra ʼn paar kaders in ʼn koor wat nie meer die spanning weens al die hangende korrupsiesake teen hulle kan verduur nie.

Die voorsitter kyk gemaak gesteurd na die nuuskierige, beskuldigde kaders en huiwer nóg ’n senutergende oomblik voor hy vervolg: “Die Sentrale Komitee het vasgestel dat daar sowaar nog een pilaar van die ou orde oor is wat staan – wat nog nie getransformeer is nie.” Die kaders snak na hul asem en die kamerade spring soos gewoonlik woedend op. “Watter pilaar is dit, kameraad voorsitter, en wie se skuld is dit dat hy nog staan,” bulder almal in een stem. “So ’n man moet sekerlik sterwe,” sê ’n kader in die voorste ry wat sy lewe gewy het aan die vernietiging van die land se tegniese kolleges.

“Sê net watter pilaar dit is en ons sal dit dadelik afbreek voorsitter,” sê ’n veteraan van die aftakeling van Eskom. “Ons ideologie bepaal mos uitdruklik dat nie een steen van die ou orde op ’n ander moet oorbly nie.”

“Alles moet omvergewerp word,” het kameraad Marx mos gesê. “Ja dit is so,” sê die voorsitter gewigtig, “maar om hierdie pilaar om te stoot, gaan nie maklik wees nie.”

“Gee dit vir my,” bied ’n geesdriftige kader aan wat suksesvol ontplooi was om plattelandse munisipaliteite ten gronde te regeer. “Ek sal sorg dat daar niks oorbly nie.” Al die kaders en kamerade glo hom en knik instemmend. “Nee, ek sal dit doen,” skree ’n ander kader en spring op om sy geesdrif te wys – hy ruik tenders. “Kyk net hoe vinnig het ek die staatshospitale ongesond gemaak,” sê hy en lag alleen vir sy eie grappie. Selfs hierdie groep uitgesoekte kaders en kamerade lyk onseker of hy die regte man vir die afbreekwerk is. Selfs Rome is immers darem nie in net een dag afgebreek nie!

Klassestryd

“Ek praat van die universiteite kamerade,” sê die voorsitter geheimsinnig. “Ons moet hulle omverwerp sodat ons die jeug kan toerus met die nodige vaardighede om die klassestryd in die werkplek te veg ter verwesenliking van ons nasionale demokratiese rewolusie as die kortste pad na sosialisme,” sê die voorsitter, uitasem ná so ’n lang aanhaling uit die partybeleid. “Uitstekende idee, hoor-hoor,” skree die kaders en kamerade en klap geesdriftig hande. “My departement het reeds die nodige ervaring daarvoor,” skree ’n kameraad-kader wat die verwoesting van ’n hele provinsie se openbare skoolstelsel op haar kerfstok het trots. Die kaders en kamerade knik instemmend, want min kan vir haar kers vashou. Sy het dit immers reggekry om miljoene rande te vermors en duisende kinders se toekoms te verwoes met haar beleid dat dit nie die doel van skole is om kinders te leer nie, maar om onderwysers se salarisse en diensvoorwaardes te verseker. “Maar ek het dan die hele departement van openbare werke teen miljarde rande laat ophou werk,” kla ’n kameraad wat gereeld daarmee spog dat hy die staatsdiens as ’n werkskeppingsprojek sien. Die vergadering dreig nou om wanordelik te raak – byna al die kaders is op hul voete in hul demokratiese ywer om die rewolusie te voltooi.

Stem vir ʼn lewe

“Stilte,” brul die voorsitter. “Hierdie werk is so belangrik, ek gaan dit self doen,” sê die hy beslis. Die vergadering raak stil. Hulle het duidelik nie besef daar is nog soveel om af te breek nie. “Ja, maar ek het jul hulp nodig,” sê die voorsitter. Hy klink nou weer tegemoetkomend. “Waarmee kan ons help?” vra ’n gewillige kader wat besig is om die land se waterstelsel te verinneweer. “Julle kan help met my geheime tienpuntplan om universiteite te verwoes,” sê die voorsitter belangrik. “Ons moet die mense swak opgelei en afhanklik van ons regering hou, anders kan hulle naderhand self werk vir ’n lewe en wil hulle nie meer vir ons stem om aan die lewe te bly nie. “Kameraad-voorsitter is darem slim,” sê ’n kader opgewonde aan die kameraad langs hom terwyl hy hoop dat dit aan die voorsitter oorgedra sal word. “Hy vra nooit ’n vraag as hy nie die antwoord ken nie.” “Hier is my tienpuntplan,” sê die voorsitter in sy belangrikste stem.

Tienpuntplan

  1. Beloftes skep verwagtings

“Ons moet gratis universiteitsonderwys aan almal belowe,” sê die kameraad-voorsitter. “Die belangrikste is dat ons onhaalbare beloftes maak wat verwagtings skep, want onvervulde beloftes veroorsaak ’n rewolusionêre klimaat.” “Briljant!” skree die kaders. Dié suksesresep ken hulle. “You can’t outpromise a socialist!” skree ’n kameraad trots.

  1. Verstop die onderwyspyplyn

“Tweedens moet ons die onderwyspyplyn verstop deurdat ons die skoolstelsel deur ons vakbondkamerade laat beheer in plaas daarvan dat die skoolhoofde en die ouers se beheerliggame dit doen,” sê die voorsitter slim. “Dan kan minder kinders universiteit toe gaan. “Dit is reeds gedoen,” juig ’n ingenome kader wat al talle skole in die grond in bestuur het.

  1. Geen keuring vir studente

“Daar moet nie keuring vir studente wees soos in ander lande wat gratis universiteitsopleiding verskaf nie.” Almal moet toegang kry en gratis studie verwag terwyl ons die universiteite se subsidies sny,” sê die voorsitter. “Ons verskuif net die skool- en kosteprobleem na hulle toe,” sê hy en knip sy oog vir ’n kader wat nie oortuig lyk nie. “Onthou dat jy klaar die tegniese kolleges vernietig het,” sê hy gerusstellend aan hom. “Hulle het geen ander heenkome as om by universiteite te probeer ínkom nie, al het hulle nie ’n kans om suksesvol anderkant uit te kom nie,” lag hy – trots op sy slim woordspeling.

  1. Verlaag die slaagsyfer na onder 50%

“Die vierde stap is om te sorg dat minder as 50% van die studente wat vir ’n graad inskryf nooit deurkom nie,” sê die voorsitter gewigtig. “Dit sal verseker dat die meerderheid lus sal wees vir rewolusie omdat hulle prakties onindiensneembaar is.” “Terselfdertyd mors ons daarmee meer as die helfte van die belastingbetalers se bydrae vir studiekoste.” Teen hierdie tyd hang die vergadering se monde oop. Hulle het nooit so ver agteruit kon dink soos hierdie geleerde kameraad nie.

  1. Vernietig die nasionale studiehulpskema vir studente

“Daarna vernietig ons die nasionale studiehulpskema vir studente.” “Hoe gaan ons dit regkry,” vra ’n verstomde kader. “Maklik, ons transformeer die skema net so dat net 4% van die studielenings terugbetaal word. Dit sal sommer gou die geld laat opraak wat nog oor is nadat ons nie keuring gedoen het nie en die helfte van die geld verkwis het op studente wat nie deurgekom het nie,” sê die voorsitter slim. ’n Kader wat elektrisiteitsgeld in Soweto moet “invorder”, maak vinnig notas – hieraan het hy nooit gedink nie.

  1. Verhoog werkloosheid

“Die volgende stap is om die ekonomie met al groter staatsinmenging só te verswak dat werkloosheid verhoog totdat ’n kleiner deel van die bevolking werk as in lande soos Ethiopië en Rwanda. Ons moet eenvoudig verseker dat die groepie wat wel grade verwerf, nie werk het nie, want dit sal beslis tot ’n opstand lei,” sê die voorsitter. Die saal is doodstil; teen so ʼn dodelike redenasie stry niemand nie.

  1. Struggle- politieke kultuur

“Dit is belangrik dat ons ’n struggle- politieke kultuur by die jeug skep,” sê die voorsitter. “’n Leerkultuur gaan hulle laat deurkom en dan verlaat hulle die geledere van die proletariaat en word deel van die bourgeoisie,” sê die voorsitter treurig. “En ons weet opgeleide werkende mense is nie lus vir rewolusies nie.” “Dit sal ons nie toelaat nie,” skreeu ’n kameraad en begin dreunsing totdat die hele saal toi-toi. “Dit is verraad teen die rewolusie.” “Weg met die teenrewolusionêre deurkommers – ‘weg’ – sing almal.”

  1. Swak regering

“Is daar nog,” skree-vra ’n uitasem kameraad wie se gewig te veel raak vir die marathon toi-toi. Die soustrein is nie bevorderlik vir flinke voete nie. “Hier kom die Nommer Een,” grap die voorsitter, maar almal is te moeg om te lag. “Ons moet die land so swak regeer dat die hele bevolking gegrief voel en die studente ondersteun,” sê die voorsitter. “Maar gaan die mense dan nie vir ons kwaad raak en vir die EFF stem nie?” vra ’n kader. “Nee, ons moet juis vir die mense wys ons is meer militant as Julius se manne,” sê die voorsitter. Daarom moet ons die voortou neem in protes en Jan van Riebeeck, die kapitalisme, wit mense en die opposisie die skuld gee as dinge verkeerd loop.” “Verder moet ons met BEE vir die rykes, Affirmative Action vir die middelklas, welsyn vir die armes, en salarisse vir 5 000 tradisionele leiers die res se steun koop,” lag die voorsitter. “Hoor-hoor,” skree die kaders. “Blameer, transformeer en nasionaliseer” sing die kamerade terwyl hulle vrolik treintjie-treintjie linksom in sirkels skuifel.

  1. Universitêre outonomie

“Maar as die studente steeds ontevrede is,” vra ’n kameraad. “Maar dis die hele doel,” antwoord die voorsitter ongeduldig. “Ons moet ’n rewolusionêre klimaat skep om universiteite se outonomie verder te ondermyn en hulle te nasionaliseer soos ons met die Setas gedoen het.” “Marx het mos gesê die bestaande orde moet éérs omvergewerp word, dán moet die werkersklas ’n diktatuur vestig, en daarna gaan almal lank en gelukkig en onderdanig lewe,” verduidelik die voorsitter stroef. Dit is vir hom duidelik dat alle kamerade nie deel van die demokratiese voorhoede is nie.

  1. Groot gelykmaking

“Hiermee bereik ons dan ons einddoel van demokratiese gelykmaking,” jubel die voorsitter terwyl hy sy hande omhoog wuif. “Geen goedgeleerde mense meer nie. Dit bring net ongelykheid,” roep ’n klasbewuste intellektuele kameraad. “Hoor-hoor,” skree almal. “Eerder ’n gelykopverspreiding van armoede as ’n ongelyke verdeling van welvaart,” roep iemand bo die gejuig uit. “Bevoorregting is gelyk aan bevoordeling,” begin iemand dreunsing.

Ná nog baie gesing, geëet en gedans verdaag die vergadering en klim die kaders in hul duur Duitse motors wat hul bestuurders vir hulle nadergetrek het. Gelukkig is hulle darem nog meer gelyk as ander.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Maria ·

Animal Farm sowaar. Ek sien die gebeure in die boek voor my afspeel, met ons regering se gesigte op die varkkarakters. Hehehe. Baie snaaks maar ook hartverskeurend om te dink wat met ons land gebeur. Bravo Flip.

Joe Soap ·

Inderdaad kameraad, ‘n skrikwekkend realistiese beskrywing. As ek reg ooedeel is 8 uit 10 punte reeds volbring. So, wat kan die Joe Soap’s, soos ek, doen om te help ? Anders as om totaal magteloos te sit en kyk hoe hierdie nagmerrie afspeel.

Bert ·

Soos die skrywer Konsalik geskryf het: “Dit is om van te kots Kameraad”.

Berner ·

In animal farm – Het die varke nie nie plaas regeer nie ?

Frik Lotz ·

Goeie artikel deur Flip Buys geskryf. Flip, jy vat die dinge mooi raak. Welgedaan!

Louw ·

Ja, en wat gaan daaraan gedoen word?????? Ons stem almal dis wat gebeur, maar wat en wie gaan daaraan iets doen.

Rooijan ·

Louw, Flip en Solidariteit en Afriforum doen reeds iets. Sluit aan, skenk geld of gee jou tyd.

Positief ·

Louw, jy en ek gaan iets daaraan moet doen. Ons sit en wag vir die ridder op die wit perd en daar is nie een nie. Selfbeskikking, selfonderhouding, alles self. In jou omgewing, in die area waar jy bly, gaan kyk waar is hulp nodig wat jy self kan doen net daar rondom jou. Daar is nog baie bekwame Suid-Afrikaners in ons land met baie vaardighede, insig en kennis, elkeen van hulle sal moet help en iets doen. As jy wil terug sit en wag dat iemand anders iets doen, gaan dinge net vererger. Ja dis onregverdig en dis eintlik sommer belaglik, maar dis die keuse, doen self iets daaraan, of alles gaan vergaan. Dis ons grootste wapen teen hierdie onbekwame regering. Ons moet die self doen vir almal doen – vir ons land doen. Sonder opgeleide bekwame mense gaan ons nerens kom nie. Dr Sues : “Unless someone like YOU care a whole awfull lot, nothing is going to change, it’s not”

Johan 2 ·

Net so Rooijan….dit is ongelukkig presies hoe hul dink, die wat nie is klaar landuit.

Theresa ·

Sjoe, ek is ook nou moeg. Dis ‘n stewige stuk waarheid en puik geskryf! En skoon moeg gelag, want dis so ongelooflik waar.
Moet sê ek is baie bly ek hoef nie nou klein kindertjies in hierdie nar-land met die dreunsang en gedans soos eeuoue mense al om iets wat seker in die oertyd ‘n vuur was? Pakke klere en pruike het nou plek ingeneem waar landsbestuur besluite geneem word om als tot niks te maak nie. “scary”.

Winston ·

Puik geskryf kameraad. Absoluut puik! Intussen word mense ontwapen om n teen rewolusie te keer. Gesongheidsdienste in grond afgebreek om van water nie eers te praat nie. Eskom eish. Boere solank vermoor voor die regte stryd kom. Ek wil ook weet, wanneer begin die volle teen rewolusie? As jy n volk onderdruk kom hy in opstand!! Ons weet dit mos.

Elsa ·

Ongelukkig is niemand so blind as die wat nie wil sien nie.

leon van rensburg ·

hou net moed die isrealiete het 40 jaar getrek maar het geen verlies gely nie ek kry net di jammer wat so verniel want lees maar SAGARIA 8 vers 9 tot 13

TTh ·

nee nee, almal wat uit Egipteland uit is het omgekom in die woestyn behalwe Kaleb en Joshua. Net die kinders het dit gemaak …

Carel ·

Lagwekkend , maar ons weet dat die eintlike motivering gaan oor beheer van alles vir die huidige regering, en nie wat reg of verkeerd is nie. Die obsessie met beheer lei daartoe dat alle redelikheid en denke oor dinge ondergeskik is aan emosie. ‘n Verstandige mens dink voor hy iets doen en het kalmte in sy/haar gees om dinge eers sorgvuldig uit tevoer. Met ander woorde die eie ek. Meeste Afrika lande moes deur diep agteruitgang gaan voor dit in ‘n sekere mate beter gaan.
Die vraag vir solidariteit, afriforum ens. is wat word self gedoen om die situasie te verbeter. Beide Soltech en Akademia moet so spoedig moontlik die opleiding wat hulle bied uibrei en verbreed. Soltech sal moet so spoedig moontlik uitbrei tot en met N6 ten minste, en Akademia sal hulle studie rigtings moet uibrei. Ek het self al hulp aangebied, maar dit blyk dat dit op dowe ore val. Verder sal hulle (Soltech en Akademia) beide moet besef dat die akkreditasie nie deur lokale prosedures gedoen word nie, doen dit internasionaal.
Solidariteit en al die organisasies moet maw oorgaan tot aksie. Natuurlik sal daar teenstand wees , maar dan vra ek die volgende vrae aan die regering. Waar moet ek as wit persoon inpas op hierdie lappie aarde ? Waar moet ek werk ? Waar moet ek leef ? Moet ek as slaansak dien vir alles verkeerd gaan? Wie gaan jy blameer as ek nie meer daar is nie ? Die leisels is in jou hande en kyk wat doen jy aan almal op hierdie lappie aarde?
Onthou daar kom ‘n tyd in die lewe van die mens soos hy groei en groter word dat hy/sy nie meer die vorige geslag /ander mense / en tye kan blameer nie. Hy/sy moet sy eie verantwoordelikheid dra en self reg maak wat verkeerd is. As mens die heeltyd in jou kar se truspieel kyk gaan jy ‘n ongeluk maak. Besef regering van die lappie aarde dat die oorlog verby is en dat die wraak jou siek maak. Die regering praat een ding, en doen ‘n ander. Dit is tipe mens wat in my lewenservaring bekend staan as die skynheilige.

Maria ·

Bravo. Beter kon dit nie gesê word nie. Wys vir my een suksesvolle instansie waar die ANC of BEE in beheer is? Dinge voor 1994 was verskriklik verkeerd teenoor Swart mens en ander rasse. Maar nou is ons op die afdraende pad oor imbesiele in beheer is wat net vir hulself sorg.

Poplap ·

Dankie tog vir organisasies soos Solidariteit en Afriforum wat hoë standaarde vereis, soos blyk uit die suksesse wat Soltech en Akademia reeds op ‘n vroeë stadium behaal het. Sonder die ‘hulp’ van beterweters wat altoos van die wal af met allerlei ‘wyshede’ vorendag kom.

Gerhardt ·

Op die ou end is Suid-afrika maar Afrika. Baie goed gestel Flip.

hendrik ·

Hoe lank sal die”Thin white line”kan staande bly? Vandag hoor ek US verander sy taalbeleid.
Dankie vir Solidariteit, darem nog een pilaar wat staande bly.

Johan Kruger ·

Soms is die waarheid so eg dat ons daaraan twyfel!!!

Kelkiewyn ·

Presies wat op ons wag as ons nie nou uitspring en begin terugveg nie. Neem die Afrikaanse mense in Namibië se voorbeeld. ‘n Paar Afrikanses het bymekaar gekom en hul eie Afrikaanse skooltjie begin. Vandag het hulle pragtige groot Afrikaanse skole. Ons moet nou die hand aan die ploeg slaan snsoos dr. Hennie Maartens sê, die Nuwe Afrikaanse Stellebosch Universiteit begin al is dit in een kamer!

Inus ·

Hierdie sou baie snaakser gewees het as dit nie so waar was nie. Laat my dink aan ‘n aanhaling wat ek die week gelees het: “In Africa, everything collapses into place”

Carel ·

Kelkiewyn , ek stem 100% saam. Ek sien party mense praat van 10 jaar vir die onstaan van een[of meer] privaat universiteit , technikon in Afrikaans . Die sand is egter besig om uit te hardloop uit die sand horlosie . Daar is verseker verskeie oud lektore , dosente wat bereid is om die taak van ‘n instansie te begin kan vergemaklik. Solidariteit, Akademia en Soltech kan gerus maar volgende jaar harder aan die werk spring, en onder lede vra vir hulp, hulle kursusse uitbrei en begin om die skroewe aan te draai. Moenie dat al hierdie dinge julle verlam om niks te doen nie. Ek is reg om my bydrae te doen.

Flip ·

Baie dankie vir almal se reaksie en voorstelle. Ons werk kliphard aan oplossings, binne die raamwerk van die verskuiwende werklikhede. Die uitdaging is dat wat strategies nodig is operasioneel moontlik moet wees. Alles kan ongelukkig ook nie gelyk gebeur nie, omdat wonderwerke tyd, geld en kundigheid verg.

Ebert ·

Flip, jy skryf: “Die uitdaging is dat wat strategies nodig is operasioneel moontlik moet wees.”

Ek verstaan dat die politieke stryd (in die wye sin), die kuns van die moontlike is. Ook dat mens nie lugkastele kan bou en dan kla as dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie.

Tog verskil ek van jou aangehaalde stelling hierbo. Strategie moenie bepaal word deur dit wat moontlik is nie, maar deur dit wat nodig is. Want as jy nie regkry wat nodig is om te oorleef nie, gaan jy dood. Punt. Ongeag hoeveel redes daar mag wees oor waarom die strategie wat nodig was vir oorlewing nie prakties haalbaar was nie.

Byvoorbeeld: Indien Churchill sy strategie beperk het tot dit wat operasionaal moontlik was, moes Engeland na die ontruiming van Duinkerken oorgegee het aan Duitsland. Op daardie stadium het Engeland en sy kolonies alleen gestaan teen Duitsland en Italië en het hy glad nie die vermoë gehad om Europa in te val nie (tewens hy sou nooit op sy eie daardie vermoë ontwikkel nie). Rusland het op daardie stadium ‘n vredespakt met Duitsland gehad en Amerika was nie van plan om by nog ‘n Europese oorlog betrokke te raak nie.

Tweede voorbeeld: Toe generaal Hannibal Barca die geleentheid gehad het om Rome te vernietig tydens die tweede Fenisiese oorlog, is hy deur sy politieke meesters in Karthago verhoed om dit te doen, want die vernietiging van Rome sou Karthago se ekonomie vernietig het, en dus operasioneel onuitvoerbaar wees. Hierdie “strategie van die moontlike” is deur generaal Scipio Africanus van Rome beloon deur Karthago te vernietig, al die mans dood te maak, die vroue en kinders in ballingskap weg te voer en sy landerye onbruikbaar te maak deur dit met sout te besaai.

Die punt is dat operasionele suksesse en eksterne faktore die strategiese landskap kan verander en dat dit die plig van die bedreigde party is om seker te maak dat hy die nodige skuiwe maak om die oorlewingstrategie moontlik te maak.

Daarmee bedoel ek nie dat jy of die Solidariteit-Beweging julleself beperk nie. Ek debatteer bloot die meriete van die stelling wat jy gemaak het (en wat moontlik buite konteks aangehaal is, en as dit is moet jy my daarop wys). Ek dink egter dit is belangrik om hierdie punt deeglik te debatteer, want weerstand teen assimilasie is vir die Afrikaner slegs moontlik indien hy oor hoop vir sy toekoms in die langtermyn beskik, ongeag hoe skraal daardie hoop is.

Aan die einde van die dag moet mens doen wat nodig is om te oorleef, ongeag hoe onwerkbaar dit mag lyk wanner jy begin.

Fanie ·

Hallo Flip.
Fantastiese waarheids skrywe! Dankie vir Solidariteit en Afriforum.
Miskien het F W de Klerk vir ons ‘n uitvoerbare plan om die huidige ANC uit die stoel te skop. Roei die wortel van die kwaad uit.
Dit sal by verre die lewe baie makliker, beter en meer vereenvoudig maak as sekere ongewenste politieke partye verban word. Geheel en al.

Disselboom ·

‘n Universiteit moet uit akademici ontstaan wat vakliefde en vakkundigheid en vakkennis oordra. As dit opgerig word vanuit ‘n sosio-politiese kant, gaan dit maar net nog ‘n worsmasjientjie wees wat mense min of meer iets nuttig volgens ‘n produksielynproses gaan leer en van ‘n sertifikaat voorsien. Dit is werklik akademici vooruitgang nie. Worsmasjiene en produksielyne het sy plek in die massamark, maar is nie hoe akademie en navorsing werklik vooruit gaan nie.

Disselboom ·

Redigering van voorafgaande boodskap se tweede laaste sin:

“Dit is nie werklik akademiese vooruitgang nie.”

jan ·

Ons kan onsself help,maar is te slapgat.Sluit aan by Solidariteit en Afriforum. Dis die beste pr rand vwat jy ooit bestee het Moedig vriende aan. Flip en sy manne weet hoe. Het geld nodig vir hul fantastiese projekte. Toe man,roer jou riete

Anneri de Jager ·

Baie goed gekryf. “all animals are equal, but some are more equal than others…”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.