Ope brief: Gebrek aan optrede teen aanhitsing en haatspraak teen minderheidsgroepe

'n Skermskoot wat AfriForum aan die MRK gestuur het.

‘n Skermskoot wat AfriForum aan die MRK gestuur het.

Brief aan die Voorsitter

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK)

Adv. Lawrence Mushwana

Geagte adv. Mushwana

GEBREK AAN OPTREDE TEEN AANHITSING EN HAATSPRAAK TEEN MINDERHEIDSGROEPE

Ek rig hierdie ope brief aan u in die lig van ʼn baie ontstellende tendens wat AfriForum min of meer die afgelope jaar waarneem. Dit wil vir ons voorkom of daar ʼn toenemende vloed van haatspraak en aanhitsing tot moord op sosiale media in Suid-Afrika verskyn. In ʼn onrusbarende hoeveelheid gevalle is hierdie haatspraak gerig teen minderheidsgroepe en in die besonder Suid-Afrikaanse boere.

Verskeie onlangse voorbeelde is by hierdie brief aangeheg. In een uiters kommerwekkende voorbeeld het ʼn personeellid, wat valslik beweer het dat hy by ʼn toonaangewende private veiligheidsmaatskappy werk, met sy vriende op Facebook saamgestem dat die tyd aangebreek het om witmense in die algemeen, maar spesifiek boere, uit te wis.

As ʼn organisasie wat gestig is met die doel om die regte van die minderheidsgroepe te beskerm, is ons ook bekommerd oor wat vir ons lyk na ʼn ongebalanseerde benadering deur die SAMRK. Ons het die afgelope paar jaar verskeie kere gesien hoe die SAMRK ingryp om haatspraak of geweld deur lede van minderheidsgroepe teen swart Suid-Afrikaners te bekamp. Die SAMRK moet daarvoor geloof word dat hulle op eie inisiatief optree. Waaroor ons egter bekommerd is, is dat dit lyk of die SAMRK huiwerig is om op te tree in gevalle van geweld of haatspraak teen minderheidsgroepe.

Wat my betref, is ek nie bewus van ʼn enkele voorval waar die SAMRK op eie inisiatief haatspraak teen minderheidsgroepe ondersoek het nie. Ek is ook bewus van ʼn groot aantal klagtes oor haatspraak en aanhitsing tot moord teenoor minderhede wat deur AfriForum, ander organisasies en lede van die publiek ingedien is en wat nog nooit deur die SAMRK hanteer of afgesluit is nie.

Dit is ons waarneming dat minderheidsgroepe vertroue in die SAMRK se bereidwilligheid en vermoë om sy mandaat vreesloos uit te voer, begin verloor.

Ek vertrou dat u hierdie brief met die nodige erns sal beskou.

Die uwe,

Ernst Roets

Adjunk Uitvoerende Hoof

AfriForum

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zondra Hoffmann ·

Ek stem volkome saam met hierdie beswaar wat gemaak word oor optrede wat selektief plaasvind. Daar is geen optrede waar dit teen indiwidue of die minderheidsgroepperings aanhangig gemaak word, insluit nie.

Armando ·

Ek stem saam, hoe dan anders,. Kan ons groot ASSEBLIEF verneem van (en of) enige antwoord ontvang is? Dankie, Susan.

Winston ·

Sou ook graag wou hoor of enige antwoord op hierdie skrywe ontvang is. Dit raak ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.