Ope brief: Koester Afrikaanse skole; moet hulle nie kasty nie

Ope brief aan mnr. Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys van dr. Danie Brink, Uitvoerende Hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Solidariteit Helpende Hand is die tuiste van die Skoleondersteuningsentrum waar die V.A.W. (Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-Onderwysers) en GeRAT (Genootskap van Regte Afrikaanse Taalonderwysers) onder meer gesetel is.

Dr. Danie Brink

Dr. Danie Brink

Geagte mnr. Lesufi

Afrikaanse skole in u provinsie, Gauteng, is uitstekende skole. Dit is skole wat bykans sonder uitsondering meer as ’n 95%-slaagsyfer in die matriekeksamen behaal – gereeld 100%. Dit is skole wie se Graad 8’s volgens ’n artikel deur prof. Gerrit Stols van UP, wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskappe en Tegnologie verskyn het, die tiende beste prestasie in wiskunde in die internasionale TIMSS-toetse behaal het. Dit is skole met onderwysers wie se toewyding ongekend is – wat sonder om twee keer te dink aan die leerlinge van hul skole nie net akademiese opleiding van wêreldgehalte bied nie, maar ook ’n uitgebreide buitemuurse program vir die leerlinge aanbied sonder om oor werksure of kontrakte of vakbonde te dink. Dit is skole wat, sonder dat hulle gedwing word, spontaan uitreik na ander skole wat minder bevoorreg is as hulleself. Dit is skole wie se ouers nooit terugstaan vir die uitdagings by die skool nie en wat fondse insamel vir gehalteonderrig, om bykomende onderwysers aan te stel en om behoeftige kinders by die skool te ondersteun.

Tog, mnr. Lesufi, vind u ten minste weekliks ’n stok om Afrikaanse skole mee te kasty. My ope vraag aan u is eenvoudig – waarom doen u dit?
U het die grootste gedeelte van die Gauteng-begroting tot u beskikking en daarom kan u baie vermag. U provinsie se leerlinge kort baie toilette want elke 100 van hulle deel een toilet en 70% van hierdie skole het geen seep nie. Om die waarheid te sê, u departement het reeds beloftes om hierdie kwessie teen 16 Junie 2015 te hanteer, verbreek.

Meer as 80% van ons land se skole is wanfunksioneel. Ek is seker hierdie statistiek lyk nie veel beter by u in Gauteng nie. Minder as die helfte van die kinders wat vir Graad 1 inskryf, voltooi hul skoolloopbaan met ’n Graad 12-kwalifikasie – dit terwyl die besteding uit die nasionale onderwysbegroting oor die vyf laaste jaar verdubbel het. Slegs 35% van kinders kan behoorlik lees. Stakings, hoofsaaklik deur SADOU-lede, eis ten minste 10 skooldae per jaar – dit is ’n verlies van ten minste 5% van die skooljaar. Volgens ’n studie van die WNNR is ongeveer 20% van alle onderwysers afwesig op ’n Maandag of ’n Vrydag. Dit wys verder dat onderwysers van swart skole vir slegs 3,5 ure skoolhou teenoor hulle kollegas in skole wat voorheen wit was wat 6,5 ure lank skoolhou per dag. U skole het ’n reuse-dwelmprobleem – 85% van skoolkinders sê dat hulle weet waar om dagga te koop, terwyl 29% sê dat iemand al aan hulle dagga probeer verkoop het.

Nog ’n belangrike vraag: Mnr. Lesufi, u departement bestee miljoene aan tegnologie en u belowe dat nog meer bestee gaan word. Net onlangs het u aangekondig dat die 88 000 tablette wat aan skole gegee is nou eers weer herroep moes word omdat hulle gesteel word. As deel van ’n R17 miljard-plan, belowe u verder dat alle matriekklasse in Gauteng teen Julie vanjaar toegerus sal word met ’n smartboard. Sit die diefstal en u departement se swak beplanning eers tersyde – besef u dat tegnologie in die klaskamer nie ’n towerstaf is nie? Besef u dat op die lys van belangrike dinge wat ware opvoedkundiges aan ’n groot skoolstelsel soos in u geval sou verander, tegnologie dalk nie die lys sal haal nie? Besef u dat u strewe na ’n papierlose skoolstelsel baie min opvoedkundige sin maak? Moet vir geen oomblik dink dat ware opvoedkundiges dink dat u besig is om goeie keuses te maak deur tegnologie na skole te gooi nie. Op grond van watter opvoedkundige navorsing kies u om tegnologie so te prioritiseer? In die lig van die bogenoemde probleme, dink u nie dat tegnologie laer af op u prioriteitslys moet wees nie?

Mnr. Lesufi, u het ’n indrukwekkende “struggle-CV”, maar u gebrek aan opvoedkundige opleiding en kennis laat u beslis in die steek. U sal moet luister na opvoedkundiges sodat u die kinders in u provinsie ten beste kan dien. Dit sal u baat om Afrikaanse skole te koester en op te hou om hulle te kasty met dreigemente soos om van hulle parallelmediumskole te maak en ander te dwing om u plan vir “twinning” uit te voer.
Behalwe dat die howe reeds sommige van u planne onwettig verklaar het, maak dit geen sin om skole wat u provinsie se vlagskepe is te boelie nie.
Terloops, u oordeel om laasweek ’n rasse-bohaai van Curro Roodeplaat se uitstappie te probeer maak, was baie swak. Dit bevestig my vermoede dat u die Gautengse onderwysdepartement as politieke instrument inspan (en vir politiek het u ’n sterk CV) – die tragiese is dat kinders en hul opvoeding onder u agenda ly (en vir opvoeding is u CV baie gebrekkig). Ontken u dat SADOU en sy aksies meer skade aandoen aan die opvoeding van kinders as die sogenaamde Afrikaanse “enclaves” wat u so kasty?

Sukkel so baie skole in u provinsie só want Afrikaanse skole doen so goed? Of doen Afrikaanse skole só goed, want so baie skole in u provinsie sukkel so?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MARTIN ·

Daai is ‘n brief. Kom ons kyk wat is die bul se slim kommentaar nou.

Johan 2 ·

Hy weet dit alles baie goed..die ANC (en meeste swak politisie) kan nie bekostig om denkende kiesers te hê nie…verder pas rasisme teen Afrikaners hul allmal baie goed…niks lyk vir die klomp rasiste (en meeste swartes is) beter as om Afrikaners by te kom nie. Wonder wat dink die Engelse daarvan? Hoop seker ook ons gee moedop?

Fanie Oosthuysen ·

Geen intelligente antwoord sal gegee word nie. Hy sal maar weer die holrug geryde storie van rassisme aanhaal. Om hulle onvermoë te verbloem speel hulle die rassisme snaar

Winston ·

Pragtig! Kan nie dink aan n beter brief as diè een vir die agbare minister nie. Probleem is net, gaan hy dit verstaan? Het hy die dimensie? Dit is net n rassis wat skole wat funksioneer sal aanvat omdat hulle wit is en hy die meerderheid verteenwoordig. Hy doen dit bloot omdat die regering alles ontken en om die kollig te verplaas na waar dit nie nodig is nie maar in sy guns tel.
Tablette gesteel? Pateties. Mens kan maar net wonder hoe dit gaan in daardie skole.

Winston ·

Die brief is tekenend van wat in alle departemente gebeur en ongelukkig kan daar geen uitsondering gemaak word nie. Persone in sleutel poste beskik nie oor die vermoe om enige department te bestuur nie. Ek sou graag meer sulke briewe wou sien. meer nog die reaksie aan wie dit gerig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.