Afrikaans 100-veldtog op soek na nasionale koördineerder

Afrikaans vier op 8 Mei 2025 honderd jaar van bestaan as amptelike taal en die viering van dié besonderse mylpaal, bekend as die Afrikaans 100-veldtog, gaan oor die loop van ongeveer ʼn jaar landswyd plaasvind. Lees hier meer daaroor.

Die oorsigkomitee van die Afrikaans 100-veldtog is op soek na ʼn persoon wat as nasionale koördineerder vir hierdie veldtog kan optree. Die persoon sal op ʼn vastetermynkontrakbasis vir 24 maande aangestel word vanaf 1 September 2023 tot 31 Augustus 2025. Die tydperk van 1 September 2023 tot 31 Desember 2023 sal op ʼn halfdagbasis wees.

Só ʼn koördineerder is iemand wat:

  • Passievol is oor Afrikaans en die gebruik daarvan op talle vlakke.
  • ʼn Bewese rekord van bestuursvaardighede en projekbestuur het, wat insluit voldoende skakeling-, organisering-, administratiewe en finansiële vaardighede.
  • Goeie menseverhoudinge het, en diverse aksies tussen diverse groepe sal kan koördineer.
  • Die vermoë het om netwerke rondom Afrikaans 100 in die Afrikaanse gemeenskap te bou en te onderhou.
  • Bereid en in staat is om selfstandig en onafhanklik te kan werk, sonder die luukse van die ondersteuning en kapasiteit van ʼn span. Dit moet dus iemand wees wat nie net beplan en wil delegeer nie, maar wat self betrokke is en uitvoer.
  • Bereid is om wyd en ver te reis, per lug of per pad (en wat oor ʼn geldige rybewys beskik).
  • Goeie rekenaarvaardighede en skryfvaardighede het.
  • Op verskeie vlakke professioneel kan kommunikeer.
  • Ingestel is op probleemoplossing en aanpasbaarheid, wat op sy/haar voete kan dink.

Wat is die verantwoordelikhede van die nasionale koördineerder?

  • Die beplanning, uitvoering en koördinering van enige nasionale aktiwiteite waarop die oorsigkomitee mag besluit. Dit sal insluit, maar is nie beperk nie tot die nasionale feesgeleentheid wat op 8 Mei 2025 by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument sal plaasvind, asook enige nasionale veldtogte wat dit kan voorafgaan.
  • Op hoogte wees van noemenswaardige provinsiale en plaaslike feesvieringe, en die koördinering daarvan met die nasionale veldtogte, indien nodig.
  • Bywoning van alle vergaderings van die oorsigkomitee en die werkskomitee(s) en terugvoering na die oorsigkomitee oor alle projekte en ontwikkelinge op werkskomiteevlak.
  • Hantering van en verantwoordelikheid aanvaar vir die werk van die sekretariaat van Afrikaans 100, verrig deur personeel van die Afrikaanse Taalraad. Dit sluit in die reël van vergaderings van die oorsigkomitee en werkskomitee(s), die opstel van agendas vir sulke vergaderings, die notules van sulke vergaderings en die koördinering van enige opdragte wat uit sulke vergaderings voortspruit.
  • Die verantwoordelikheid om die Afrikaans 100-veldtog se finansies te bestuur en toe te sien dat enige gelde ontvang korrek in die veldtog se bankrekening inbetaal word, dat uitbetalings volgens begroting en besluite gedoen word (insluitend reis- en verblyfkoste van komiteelede), en dat noukeurige boekhouding daarvan gehou word.
  • Enige administratiewe funksies wat uit voorgaande take mag voortspruit, of waarop van tyd tot tyd deur die oorsigkomitee besluit word.
  • Die bestuur van verhoudings met die media (insluitend die reël van mediakonferensies), in samewerking met die voorsitter en ondervoorsitter wat alle amptelike mediakonferensies behartig, waar nodig met die teenwoordigheid van ander lede van die oorsigkomitee.
  • Gereelde en volledige rapportering aan die oorsigkomitee oor alle pligte wat aan hom/haar toevertrou mag word. In praktyk sal die voorsitter en ondervoorsitter saam met die nasionale koördineerder ʼn dagbestuur vir Afrikaans100 vorm, waardeur dag tot dag besluite geneem sal word, en waarvan volledige verslag aan die oorsigkomitee gedoen sal word.

Stel jy belang?

Stuur ʼn volledige CV in Afrikaans aan [email protected]. Die sluitingsdatum vir aansoeke is Woensdag, 12 Julie 2023.

Navrae

Rig enige navrae aan: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.